herman inspirasiekos via
Kosstories

Herman se koolfrikkadelle – nou met kale

Onthou jy nog koolfrikkadelle? Dié nostalgie-gereg trek ’n nuwe baadjie aan as Herman dit met die modieuse superkos krulkool (kale) maak. Krulkool is op almal se lippe – van Gwyneth Paltrow se smoothie-konkoksie tot kale-tjips op restaurante se spyskaarte. 

Kale, krulkool of boerekool, noem dit wat jy wil, dié groen blaar met sy kenmerkende kartelrande is nou groot nuus. Nou kuier Herman Lensing, SARIE se kosredakteur die week vir Inspirasiekos met SARIE (Via, DStv-kanaal 147) in die Robertson-vallei by Tierhoek Organics om te gaan leer wat die storie agter dié kool is …

Screen Shot 2016-05-12 at 6.58.02 AMHet jy geweet?

Bruce Gilson, eienaar en boer by Tierhoek Organics, deel 5 dinge wat jy van krulkool moet weet:

1. Een porsie (100 g) krulkool bevat dieselfde hoeveelheid kalsium as ’n glas melk (250 ml) – eet dit gestoom saam met roereier vir ’n gesonde ontbyt, vertel Bruce.

2. Krulkool bevat al die nodige vitamiene en minerale wat jy nodig het: elke blaar bevat vitamien A, C en E. Dis hoog in yster, asook omega 3 en kalsium. Bruce reken die groente behoort superkos-status te kry (vrugte soos bloubessies is reeds).

3. In die Middeleeue is dié groente as armmanskos gesien. Die mense sou dit stoom en dan meng by kapokaartappels wat hulle Colcannon (’n Ierse gereg) genoem het – die kapokaartappels was meer vullend.

4. Krulkool is glad nie iets nuuts nie, vertel Bruce. Die groente is al eeue lank die stapelkos van lande soos Portugal, Kenia en Denemarke. Dis nou ná jare dat die groente eers sterstatus geniet.

5. Probeer dit rou in ’n smoothie, sê Bruce: jou liggaam absorbeer meer van die voedingstowwe en vitamiene as jy die groente rou eet. Kies die jong blaartjies hiervoor. Besoek www.tierhoekorganic.com vir meer inligting oor Bruce en sy plaas.

Screen Shot 2016-05-12 at 6.59.25 AM

Kool-frikkadelle

genoeg vir 4

• 500 g beesmaalvleis
• 500 g varkmaalvleis
• 250 ml sagte broodkrummels
• 10 ml fyn koljander
• 1 ml fyn naeltjies
• 1 ml fyn neut
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 25 ml asyn
• 6 groot vars krulkoolbarle (kale) – hoe groter hoe beter
TAMATIESOUS
• 45 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 1 knoffel huisie gekap
• 410 g blik tamatiepuree
• 410 g blik kersietamaties

Meng die twee soorte maalvleis. Voeg broodkrummels by en meng. Voeg res van die frikkadelbestanddele (behalwe die koolblare) by en meng goed. Vorm 6 frikkadelle en hou eenkant. Plaas koolblare in ’n groot bak en gooi kookwater oor. Maak seker blare is bedek met kookwater. Laat staan vir sowat 5 minute totdat die blare sag is. Haal uit en dreineer op kombuispapier. Plaas ’n frikkadel in die middel van ’n koolblaar en maak soos ’n pakkie toe.
TAMATIESOUS Verhit olyfolie in groot pot en voeg uie en knoffel by. Braai vir 2 minute. Gooi tamatiepuree en kersietamaties by en bring tot kookpunt. Plaas frikkadelle in sous met toegevoude deel na onder. Plaas deksel op pot en laat stoom vir 30 minute of tot vleis gaar is – maak nou en dan seker dat daar genoeg vloeistof in pot is. As dit lyk of die sous wegkook, gooi ’n bietjie kookwater by. Sit voor.

Herman wys jou ook om jou eie kale-tjips te maak en gnocchi met krulkool-roomsous. Klik HIER