herman inspirasiekos via
Kosstories

Inspirasiekos met SARIE se druiwe-resepte

Herman kuier dié week by die Kristen-boerdery in die Paarl wat bekend is vir hul druiwe. Altus Kirsten wys Herman die wingerde en hoe die parsproses werk. Daarna maak Herman ’n feesmaal met druiwe.

Hier is die resepte vir sy lekker kos!

Het jy Maandag Inspirasiekos met SARIE misgeloop? Kyk die herhalings – Saterdag om 16:00 en Sondag om 08:00.

Ontbeende hoender met feta, basiliekruid en druiwe

Unknown-2

Dis maklik om self hoender te ontbeen.

genoeg vir 4-6

  • 2 heel hoenders
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 g rugspek
  • 3 wiele feta
  • 2 trosse wit en pers druiwe
  • 3 takkies basiliekruid
  • 500 ml rooiwyn
  • 1 x 500 g-sak baba-aartappels
  • 3 uie, grofgekap
  • 2 huisies knoffel, fyngekap

Verhit oond tot 180 grade Celsius. Plaas die hoenders met die borskante na onder. Sny in die middel van die rugkant oop. Begin teen die karkas van die hoender die vleisgedeelte met ’n skerp mes afsny. Wanneer jy by die vlerkies en boudjies kom, breek die beentjies by die lit deur. Die bene bly in die boudjies en vlerkies. Verwyder die rug- en borsbene en hou die hoenders eenkant. Gebruik mes se punt en sny die bene uit die boud-en-dy deur teen die been af te sny tot dit loskom van die vleis. Knip die vlerkies los en hou eenkant. Draai hoender om met velkant na onder en vou oop sodat jy plat hoender het. Geur goed met sout en peper. Pak spek oor hoender. Krummel feta oor en pak helfte van druiwe en basilie bo-op. Rol hoender stewig toe en bind vas met kombuistou. Plaas in oondvaste pot en gooi rooiwyn, baba-aartappels, uie, knoffel en res van druiwe by. Geur weer goed. Maak pot toe en plaas in warm oond. Oondrooster vir sowat 1½ uur tot gaar en mooi bruin. Sit warm voor.

Platbrood met druiwe en heuning

Unknown

Sit hierdie brood voor saam met yskoue soetwyn of baie goeie brandewyn – dis die perfekte anderste kaasbord.

genoeg vir 6

  • 45 ml olyfolie
  • 1 x 500 g-sakkie winkeldeeg
  • 150 g sagte bloukaas soos roquefort
  • ½ tros groen druiwe
  • ½ tros pers druiwe
  • 60 ml heuning
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 200 grade Celsius. Sprinkel olyfolie op bakplaat. Keer deeg uit op bakplaat en druk plat met vingerpunte – dit hoef nie perfek te wees nie. Krummel bloukaas oor deeg. Pak druiwekorrels oral op brood. Sprinkel heuning oor en geur goed met sout en peper. Bak vir 20-25 minute of tot goudbrin en bros. Sit warm voor.

Koue Spaanse amandelsop met druiwe-salsa

Unknown-1

Die sop staan in Spaans ook bekend as ajo blanco – dis ’n amandelgeur weergawe van gazpacho.

genoeg vir 6

  • 400 g gepelde amandels
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 10 snye witbrood, korsies verwyder
  • 1 liter melk
  • 45 ml olyfolie
  • 60 ml droë sjerrie
  • 45 ml sjerrie-asyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 trosse (300 g) wit druiwe, gehalveer
  • ½ rooi-ui, baie fyngekap
  • 1 hand vol koljander, fyngekap
  • gevlokte amandels vir garnering

Verhit pan tot warm oor matige hitte en rooster amandels tot goudbruin. Plaas amandels, knoffel, brood en melk in voedselver werker. Verwerk op hoë spoed tot gladde puree. Laat staan mengsel vir 10 minute en dreineer deur ’n sif. Voeg olyfolie, sjerrie en asyn by en meng goed. Geur goed met sout en swartpeper. Plaas in yskas tot yskoud. Meng druiwe, rooi-uie en koljander saam vir salsa. Sit sop voor in klein bakkies met druiwe-salsa en gevlokte amandels.