sarie_kos_aprmei2012x
Kosstories

Ja, dis weer tyd vir SARIE KOS!

Huis oppak vertel ‘n familie se storie soos min ander dinge.

Om ’n leeftyd se besittings in ’n paar bokse te pak is soos skoppelmaai 
ry – jy vóél die ops en afs. Al die jare se lief en leed. Met die “ontdekking” van elke klein koppie en vergete bondeltjie swart-wit foto’s, hier ‘n ou trourok nog net so mooi soos die dag toe die bruid dit gedra het en daar ‘n elegante rooi vilthoed, kom herinneringe stukkie vir stukkie en soms sommer in strome terug.

Dis veral die familie se ou resepteboeke wat jou emosies heeltemal omklits. Ons ken hulle almal: Daardie boeke wat nog net met dun garedraadjies aanmekaargehou word, resepte elk met die hand geskryf deur ‘n dierbare ouma of oumagrootjie, nou broos en verbleik op vergeelde papier. Kosbaarhede met name soos Ant Anna se Melktert en Dot se Karringmelkbeskuit, Kaapse bobotie en Sondag-lamsboud en -braaiaartappels.

Blaai jy deur die boek, is dit soos ‘n soete herontmoeting – beproefde, deurtrapte resepte met liefde berei deur flinke, geoefende hande vir ingelegde groenvye, waatlemoenkonfyt, kweperjellie, suikerbrood, amandeltert, gemmerkoekies, mosbolletjies, deegfrikkadelle, vetkoek gevul met wildsvleis.

Resepte wat oor jare die familie se gunstelinge was, wat koekblikke vir kinders vol gemaak het, wat getroos en die tafels laat kreun het vir elke groot familie-ete, of dit nou Kersfees, Paasfees, ‘n verjaardag of net ‘n spesiale bymekaarkom was.

Hierdie resepteboeke lees soos verhale, soos die een wat Adri Retief van Darling vertel oor haar wen-hoenderpastei (bl. 60) wat haar ouma Smit van Eendekuil se kosbare resep was, en sy nou met die jare so effe aangepas het. Só, glo ek, het elke Suid-Afrikaner ’n storie oor hoenderpastei, maar dis vir ’n ander dag . . .  

Geniet hierdie uitgawe van SARIE KOS – ook dít lees soos ‘n storie met vele smaaksensasies, nuwighede en herinneringe om te koester!   “

– Michélle van Breda

VAN BARBARA

As daar een bestanddeel is wat my gelukkig maak, is dit ’n patat. Soet, gebak, ge-mash . . . dit maak nie saak nie – dit bly lekker. Ek het in die Karoo grootgeword met soetpatats – fyngekook en nie in stukke gesny nie. Ek kon bakke en bakke daarvan eet.

My eerste probeerslag met soetpatats was lekker, maar dit het omtrent soos kapokaartappels gelyk, te fyn. Ek het natuurlik die patats te veel geroer.

In SARIE KOS Winter 2008 doen ek ’n Leipoldt-storie. Ek maak soetpatats soos Leipoldt verduidelik – moenie roer nie, skud net die pot. My patats kom so mooi uit dat dit op die voorblad verskyn.

In hierdie uitgawe maak ek weer soetpatats, as bygereg saam met my varkvleis-storie, maar dié keer is dit een massiewe, groot patat wat in heuning en botter gekook word. Ek het daai patat een kyk gegee en vir myself gesê – nou kán ek patats maak.”

- Barbara Joubert

IN DIE UITGAWE

Versot op varkvleis

Ontbeen, gekook in melk, ja, of as kebabs en pastei. Met geurige varkgeregte kan jy heeljaar vriende en familie beïndruk . . . Maar wees gewaarsku, jy sal jou resepte moet deel.

Versot oor varkvleisLendetjops op die been met aartappels en Brusselse spruite

20 heerlike herfsetes

Gevulde skulppastaMaalvleis-taco's

Tjips, hier kom die aartappel

Dis ’n gawe uit die grond met vele gebruike – in sop, 
op ’n pitabrood of as bolaag op varkworsies. En proe net hoe lekker 
is die perfek geroosterde aartappel saam met gebakte vis

Die vele gebruike van aartappelsGeroosterde paprika-aartappels

Kortpad-ontbyt-idees

Daar’s min dinge wat kom by ’n smaaklike ontbyt saam met ’n paar 
goeie vriende . . .  en niemand sal weet jy het kortpad gevat nie!

Grenadella-en-kasjoe-granolaRicotta-plaatkoekies met esdoringbotter

Top-hoenderpastei!

Adri Retief van Darling se pastei sal enige maal ’n feesmaal maak.

Wen-hoenderpastei

O! Koek-pannekoek!

Staan opsy, kaneel en suiker. Hallo, sjokolade! Sit kersies en karamel 
ook by, en kyk hoe kry jou pannekoek nuwe lewe.

Pannekoek-koek gevul met sjokolademousse en sjokoladevlaMaklikste pannekoek-nagereg met kersies en ricotta-kaas

Ons speel Masterchef

Drie MasterChef SA-hoopvolles; ons kosredaksie; drie identiese mandjies met geheime bestanddele (en ’n wilde perd daarby); en ’n skamele uur om met ’n meesterstuk vorendag te kom waarmee hulle die beoordelaars se hart en tong kan steel . . .  Dis tyd vir SARIE KOS se Wil Kook, Kan Kook-uitdaging!

Mario Botha, Ilse van der Merwe, Marcell GreeffDie wen-gereg: Oondgebakte varknek op confit-patats en toffievye met brandewyn

Burgers en pizza: Jy mag maar!

Met min moeite en die regte bestanddele kan dié trooskos maklik gesonder kos word!

Falafel-burger met kruie-jogurtGeroosterde-groente-en-ricotta-pizza

Opgeklits oor eiers

’n Franse sjef se hoed, só sê hulle, het honderd voue om die rand, en vir elke vou is daar ’n manier om ’n eier te gebruik.

Wonderlike eier-resepteBittersjokolade-soufflé

VIR DIABETE: Perfek vir die Pase

Paasfees met warm hot cross buns, lang, gesellige kuieretes en ’n ekstra bederf uit die oond hoef nie vir ’n diabeet verbode te wees nie. Geniet ons resepte . . .

Sjokolade-paasbolletjiesGebakte broodpoeding

  • Zenobia Baumgarten

    Oe ek kani wag om hom deurteblaai nie…ekt nou dadelik my man gebel en gevra hy moet vir my een vandie dorp af saambring. Hoop maar ons ou dorpie is wakker genoeg dat hy al opdie rak is…anders gaan ek nagmerries kry vanaand!!! Soos oom Oubaas van 7de Laan sê…"hoe water my tande nou".

  • Mickey Lamprecht

    Baie dankie vir al die wonderlike idees met Vark. Ek en my dogter het gedurende die Lydensweek ‘n ‘kombuis speel’ week by my mamma gereel en ons het behoorlike toetskombuis met die uitgawe van Sarie Kos gespeel. Die Hoendervlerkies met bloukaas sous is ‘n wenner voorgereg (ek het dit saam met Spur se ‘Durky’ sous ook voorsit omdat my man so lief is daarvoor). Die Gevulde Skulp Pasta is ‘n maklike weeks aand ete en net so lekker toe ek die spek met ham vervang het vir die dieeters in die gesin – (Moes Bronkhors opkyk ‘n watercress plantjie gaan koop – ha ha). Die Kersies en Ricotta Pannekoeke was die wenners vir die week.

    Ek het nou weer my liefde vir Vark en Vinkel (ek moes net koljander ook by sit) herwin danksy julle resep en Vark gaan weer ‘n bietjie voorkeur kry op ans tafel. Vanaand maak ek juis die Vark in die melk ………..

    My Sarie Kos is heel bo aan my inkopielysie! Kan nie wag tot die Junie/Julie uitgawe nie…..