David Donde (regs) in sy koffie-emporium TRUTH coffee in Kaapstad, saam met Martin Haldane, wat die interieur ontwerp het.  FOTO: Micky Hoyle

David Donde (regs) in sy koffie-emporium TRUTH coffee in Kaapstad, saam met Martin Haldane, wat die interieur ontwerp het. FOTO: Micky Hoyle

Kosstories

Kaapse koffiewinkel beste in die wêreld

Die gewilde koffiewinkel Truth Coffee Roasting in Kaapstad is deur die Britse nuusagentskap The Telegraph as die beste ter wêreld aangewys.

SARIE se kos-assistent, Tanya Pöhl, het onlangs met David Donde, die eienaar van Truth, gesels:

Vertel ons meer van die man agter Truth Coffee?
’n Gebore en getoë Kapenaar. Ek het baie gereis en verlief geraak op koffie en kos op die mees vanselfsprekende, maar ook die mees onverwagte plekke. My koffiereis het in Langstraat in Kaapstad begin, waar ek gewerk het in ’n ateljee bokant ’n plek waar ’n bejaarde man gereeld koffiebone gebrand het. ’n Romantiese mite rondom die aromas het toe in my gedagtes begin groei.

’n Paar jaar gelede het die koffiebedryf skielik vlamgevat in Suid-Afrika. Het jy gedink dit sou so gewild word?

Ja, daar was ’n leemte wat gevul moes word.

Wat het jou geïnspireer om ‘n koffiekenner te word?
Tydens ’n reis in Nieu-Seeland ’n dekade of twee gelede het ek besef hoe ver agter ons koffiebedryf werklik was toe ek my eerste mikrokoffiebrandery besoek het.

Watter diens lewer julle by Truth Coffee?
Ons het ’n restaurant waar die klem op koffie val, ons brand ons eie bone en ons verskaf ons produk aan ander restaurante. Mense kan dit aanlyn by www.truthcoffee.com kry of by ons brandery.

Wat maak jou koffie anders as ander koffiekenners s’n?
Die groot verskil is in die geur. Koffie hoef nie bitter te wees om vol heerlike nuanses te wees nie.

Ons het nie ’n formule soos groot kommersiële koffieondernemings nie. Ons koop die beste bone en dan laat ons die koffie praat. Ons brand die bone, proe, skryf die resultaat neer en doen dan alles weer oor tot ons voel dis reg.

Wat is jou beste koffieherinnering?

Die eerste keer toe ek koffie geproe het wat in Truth se eie vintage-gietyster- brander gebrand is. Dit het dadelik ons koffie se geur met ‘n kerf of drie verbeter.

Wat dink jy as mikrobrouer is die grootste uitdaging in die koffiebedryf?

Om waarlik gehaltekoffie te lewer. Daar is net ’n handjievol van ons wat dit regkry, maar ons word dikwels oor dieselfde kam geskeer as diegene wat in die algemeen nie aan die verbruikers se verwagtinge voldoen nie. Die ander probleem is mense wat kokende warm drankies vereis. Die koffie self kan baie warm wees, maar nie die melk nie, want jy ruïneer melk as jy dit oorverhit. En daarmee saam die wonder van die drankie.

Watter raad kan jy aan jong koffieliefhebbers gee?
Proe nuwe ervaringe net waar jy kan!

Die uittreksel kom uit SARIE KOS Junie/Julie 2015. Laai dit hier af. 

sarie kos winter junie julie 2015

Lees ook