Kan jy wyn oopmaak met jou skoen? 
FOTO Donna Lewis

Kan jy wyn oopmaak met jou skoen? FOTO Donna Lewis

Kosstories

Kan jy wyn oopmaak met ’n skoen? Ons toets dit!

Wat doen jy as jy ’n glasie wyn wil skink, maar daar’s nie ’n botteloopmaker in sig nie?

Jy soek op Google. En die eerste video wat jy sal kry, is iemand wat die bottel wyn met sy skoen oopmaak. Maar werk dit? SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, toets dit sodat jy nie hoef nie. 

“Die man op die YouTube-video neem sy skoen, plaas die wyn daarin en slaan dan met die hak van die skoen teen ’n muur totdat die kurk loskom. Ek het gewonder of die metode werk, want kom ons wees eerlik – daar is niks so frustrerend soos ’n bottel wyn wat gedrink wil word, maar jy kry nêrens die oopmaker nie!”

Die toets

Die wyn: 750 ml-bottel rooiwyn (2014-oesjaar) met ’n kurk.

Die skoen: nr. 9 mans-leerskoen met ’n plat hak

Die muur: Een grys muur, ver van meubels en waardevolle besittings!

FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

1. Verwyder die boonste laag foelie wat die kurk vashou met ’n skerp mes.

2. Plaas die wynbottel in die skoen stewig teen die hak. Hou die skoen vas aan die punt en die wyn aan die nek. Nou slaan ek 10 harde houe teen die muur. My senuwees … want alles in my sê die bottel gaan breek.

3. Ná nóg 10 harde houe (want my waagmoed raak meer) begin die kurk stadig loskom en beweeg na bo.

FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

4. Die kurk is byna halfpad uit die bottel ná 30 baie harde houe teen die muur. (Ná al die geslaan verdien jy ’n glas wyn!)

5. Ek hou aan slaan totdat die kurk byna driekwart uit is. Ek wikkel daaraan en probeer dit uittrek, maar steeds sit dit te vas vir my vingers (ek reken jonger wyne s’n gaan makliker loskom).

6. Nou effens bang en opgewonde oor die vooruitsig aan die wyn in my glas, gee ek nóg 5 ligte houe, ek trek aan die kurk en siedaar! Die kurk gee sy kenmerkende klapgeluid en die bottel is oop.

FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Die resultaat

Ek glimlag van oor tot oor, want dit beteken: solank daar skoene in die omtrek is, sal daar wyn in my glas kan wees!

Lees nou

Kan avokado’s vinniger ryp word in die oond?

Ons toets: Basislaag (primer) vir ’n rooi vel