pearsarie
Kosstories

Kelner, daar’s ’n diva in my vrugteslaai

Freud sou seker iets kon doen met jou antwoord op die vraag: “Watter vrug is jy?” Ek reken die kombuis-diva Nigella sou haarself as ’n nektarien sien – ewe rosig van wang en gesellig rond van lyf.

Perskes laat jou dalk dink aan Ouma se spens en Consol-flesse, maar vir Renoir was dié sagte vrug ene vrouelyf. Dis dié dat hy sy studente aangemoedig het om eers perskes te skets alvorens hulle naakstudies van die vroulike liggaam aanpak. Die Franse se sin vir die sensuele wys ook in hul bynaam vir perskes… téton de Venus, losweg vertaal as Venus se tieties.

Dit laat mens wonder of die volksliedjie “Boetie, sy’s ’n perskeblom”, so onskuldig is. “Rosig fyn van kleur; moenie wag nie, kêrel kom, pluk haar in haar fleur…”

Perskes is ’n vrolike vrugteflerrie wat dié somer vir ’n lekker partytjietruuk kan sorg: Prik ’n nektarien reg rondom met ’n vurk en dompel dit in ’n wynglas waarin die perske knussies pas. Gooi vonkelwyn in die glas en wag. Gou-gou begin die perske tuimel, om en om. Die legende loop dat die ywer waarmee die vruggie in jou glas rondrol ’n aanduiding van jou lyflike liefdeskuns is … so trek ’n kaalgaaiperske nader en probeer self hierdie truuk.

Moenie die meer bedeesde geelperske afskryf nie. Die beste padkos na ’n man se hart is immers ingelegde geelperskes met Ideal-melk. Nie dat die uitspattige Franse sjef Escoffier hom met iets so aards en ongekunstelds sou ophou nie. Sou die wêreld vandag nog die sopraan Nellie Melba onthou het as hy nie die perske in haar raakgesien het nie? Terloops, Pêches Melba was amper Pêches Mitchell, want Nellie – gebore as Helen Porter Mitchell – het haar verhoognaam “Melba” geskoei op haar geboortestad, Melbourne.

“Sing altyd onder jou potensiaal,” was haar leuse, maar gelukkig het Escoffier nie met gedempte talent die legendariese vrugtenagereg geskep nie: Perskes in ’n stropie geprut, voorgesit met ’n skeppie vanieljeroomys en framboossous.

In ware belle époque-styl het hy die perske-nagereg by die Savoy tot haar eer voorgesit met ’n indrukwekkende ysbeeld van ’n swaan met vlerke wat met ’n suikerlaag bedek was. Namate die ys gesmelt het, het ’n stropie gevorm en op die perske gedrup. Praat van partytjietruuks!

Sien jy jouself dalk eerder as ’n granaat? High maintenance diva, sou Freud in sy notaboekie geskryf het. Die granaat-vrou vra ’n toegewyde sielsgenoot, iemand wat geduldig sy lewe sal wy om haar juweelpitte – al 800 van hulle – blinkgepoets te hou. Dis harde werk om tot die granaat-vrou deur te dring, want eers beur jy deur die leerdik skil; dan lê die wit velletjies nog voor. Maar maak tyd vir die granaat-diva en sy beloon haar maat met liefde in die namiddag, terg hom met haar soet vrankheid, beloon hom met ’n skemerkelkie van granaatsap en vonkelwyn vir die liefdesdors.

Wat sien jy in die spieël, vra Freud terwyl hy hardekwas koejawels en deugdelike Granny Smith-appels in ’n netjiese ry uitpak waaruit jy kan kies. Daar’s selfs ’n paar suurpruime en moerbeie vir  die knorriges. Ook pere vir die breed van bas, kwepers vir die vlytiges, druiwe vir die korrelkoppe en aarbeie vir die kokette. En vye.

Om tot in jou wese deur te dring gaan hy jou vra hoe jy ’n vy eet. Lees gerus D.H. Lawrence se gedig “Fig” en jy sal verstaan. Hy skryf daar’s twee maniere om ’n vy te eet. 1. Jy eet dit beskaaf met selfbeheersing – die vrug se skil versigtig oopgevlek met die pienk vyvleis wat soos beheuningde blomblare voor jou ooplê; die skil gooi jy weg. Óf 2. Jy verslind die vy met een hap, skil en al.

Hoe eet ék ’n vy? Ek swyg. Soos elke vrug en elke vrou het ek ook my geheime.