Lendetjops op die been met aartappels en brusselse spruite FOTO: Micky Hoyle

Lendetjops op die been met aartappels en brusselse spruite
FOTO: Micky Hoyle

Kos

Ken jou vleis – varksnitte

Verskillende varksnitte

1) Nek
Snit wat baie spiere bevat. Lekker vir wors, pasteie en bredies. Op sy smaaklikste as dit ontbeen is en stadig gaargemaak word.

2) Rib
Hierdie snit word heel gerooster of in tjops opgesaag.

3) Filet
Baie sagte vleis, bevat geen vet nie. Panbraai of oondbraai.

4) Lendeskyf
Die lende sluit ’n gedeelte van die rib sowel as die lendestuk in. Dié vleisstuk bevat meer vet as ander snitte, wat bydra tot smaak. Oondbraai of panbraai.

Varksnitte

5) Boud
Die klassieke braaiboud. Laat die slagter die vel aan die bokant inkerf, sodat die krakeling (crackling) lekker bros braai. Die snit kan ook ontbeen, gerol en dan oondgebraai word. ’n Boud moet liefs ’n goeie laag vet hê omdit sappig te hou tydens die gaarmaakproses. Schnitzels word uit dié snit gesny.

6) Wange
Sagte vleis aan kop.

7) Blad
Heel of ontbeen moet die varkblad stadig oondgebraai word. Dis ’n baie sappige vleissnit. In blokkies gesny of as maalvleis is dit perfek vir eenpot-geregte, wors, terriens en pasteie.

8) Skenkel
Dis die snit bokant die pootjie wat baie been bevat. Moet verkieslik gestowe of in die pot gebraai word. Gepekelde skenkels staan bekend as ‘eisbein’.

9) Varklies
Die lies bevat ’n stuk van die varkrib en die liesgedeelte. Die varklies kan heel gaargemaak word of gepekel en gerook word vir spek. Dit kan gerook of ongerook gekoop word en is altyd lekker as dit met ’n marinade gaargemaak word. Die vleis is sappig omdat dit deurtrek is met vet.

10) Agterbeen
Hierdie snit moet verkieslik gestowe of potgebraai word.

11) Pootjie
Die pootjie lewer goeie gelatien. Die hele pootjie kan met krummels bedek en dan gebak word tot bros. Sommige sjefs ontbeen dit en stop dit met ’n vulsel.

Die lekkerste resepte met varkvleis