Kosstories

Koffie op die kalender

In Rome is die neusterg-aroma van pure koffie soggens jou wekker. Op hotelstoepe dra kelners koppies vol perfekte, romerige cappuccino aan en by ‘n bakkery se koffietoonbank slaan die sakeman met sy aktetas en swart uitrusting sy piepklein espresso weg.

Die stamp-en-sisgeluide van espresso-masjiene klink heeldag op, oral waar mense bymekaar kom.Vra bloot vir koffie in ‘n restaurant en jy kry espresso: klein en dikswart, met ‘n fyn room-lagie en ‘n aroma wat Rip van Winkel ‘n huppel in sy stap sou gee. Dís mos koffie soos die Italianers dit maak. En terug in SA sal my groot beker vaalbruin kom-aan-die-gang-koffie net glad nie meer dieselfde lyk nie . . .

Onlangs is een van die koffie- en advertensiewêreld se groot ikone in Rome bekend gestel: die Lavazza-kalender vir 2009. Sedert 1993 word die wêreld se top-fotograwe elke jaar afgevaardig om ‘n pragkalender te skep wat hierdie Italiaanse koffiereus (in 1895 in Turyn gestig en met ‘n markaandeel van 48% in Italië) se siening van die lewe weerspieël. Ja, nie van koffie nie, maar van die lewe, want vir Italianers is koffie niks minder as ‘n leefstyl nie.

 

Vroue is sensueel, sterk en warm – soos koffie – Francesca Lavazza

 

Dis hul opstaan en hul rustig word, hul saamkom en hul alleenwees – daar’s koffie vir elke oomblik van die dag! En soos Giuseppe Lavazza, die maatskappy se vise-president bemoei met bemarking, my meedeel: Vir ‘n Italianer is die beste bewys van iemand se beskaafdheid sy vermoë om werklik goeie koffie te waardeer.

Ken jou koffie-kapitaal

Espresso: ‘n Hoogs gekonsentreerde

koffiedrankie wat gemaak word deur

baie warm water teen uiters hoë druk

deur fyngemaalde koffiebone te pers.

Dis heelwat dikker as filterkoffie en

word in baie klein koppies voorgesit.

Crema: Die rooibruin skuimlagie

wat bo-op ‘n goeie koppie espresso

dryf, bestaande uit proteïene, suiker

en olies.

Cappuccino: Espresso met sowat

2 cm fyn, warm melkskuim bo-op.

Die verhouding van melk tot espresso

wissel, maar is kleiner as in ‘n

Amerikaanse caffe latte, waarin twee

keer meer melk as koffie is, en min of

geen skuim.

Arabica: Die geurigste, mees gesogte

koffieboon-variant, Coffea arabica.


Robusta: Coffea robusta is ‘n goedkoper koffie-variant wat dikwels as “vuller” in koffie-mengsels gebruik

word. Dit het egter ook ‘n belangrike

rol te speel, omdat dit vanweë die

groter bitterheid gebruik kan word om

woema en “byt” te gee aan koffiemengsels. Dit bevat byna twee keer soveel kafeïen as arabica-koffie.

Barista: ‘n Opgeleide espressomaker

wat ook cappuccino-kuns (die

prentjies in jou cappuccino-melkskuim)

kan maak. In koffiekringe word

dit beskou as ‘n volwaardige beroep

wat baie kundigheid verg.

 

Die Italianers sal dus verheug wees, want ons bevind ons tans midde-in die sogenaamde “Third Wave” van koffie-verbruik: Vandag is koffie nie meer bloot ‘n alledaagse moet-hê item wat in enorme aanmaak-blikke gekoop en grootliks ter wille van die kafeïen-inhoud gedrink word nie. Dis ook al hoe minder ‘n luukse status-simbool met allerlei tierlantyntjies, byvoegsels en foefies, soos versinnebeeld deur die

“Second Wave” se enorme aanvraag – sedert die 80’s – na deluxe-koffiewinkels. Nee, vandag is koffieconnoisseurs se sintuie ingestel op die ware gehalte, verfyning en kenmerke van verskillende soorte koffie. Só neig koffieplekke nou meer in die rigting van klein, onafhanklike winkels wat self hul koffiebone rooster en berei – alles deel van ‘n soeke na egtheid, gehalte en ‘n persoonlike aanslag.

Koffie is nou, nes goeie wyn,’n kunswerk uit eie reg, en liefs nie té veel vermeng met suikerstrope en geurmiddels nie – selfs melk is vir sommige kenners taboe. En die beste manier om so ‘n ware meesterstuk te geniet? Op sy suiwerste, natuurlik: En dís niks anders nie as espresso.

Wêreldwyd, sê Giuseppe, drink ál meer mense by voorkeur espresso, of so nie haar vroegoggend-dogter, cappuccino. (In Italië bestel jy lg. liefs nie ná ontbyt-tyd nie – hulle voel dis bedoel nét vir die oggend!) En met Lavazza se 2009-kalender deur die wêreldberoemde fotograaf Annie Leibovitz, met die tema

“The Italian Espresso Experience”, wil hulle sterker as ooit die boodskap uitbasuin: Ons Italianers wéét van koffie – én van gehalte.

Op die sewe foto’s (sommige met Isabella Rossellini se dogter, Elettra Rossellini Wiedemann, as model) word sewe gróót Italiaanse ervarings of passies op aweregse wyse uitgebeeld, telkens met die kenmerkende wit-en-blou Lavazzaespresso- koppie prominent te sien: die ikoniese stede Rome en Venesië, die spaghetti-kombuis, verleiding (vorige blad), mode, film (bo) en kuns (oorkant).

Volgens die maatskappybeelddirekteur, Francesca Lavazza, is koffie en fotografie hedendaagse “tale”en albei onmiddellik verstaanbaar.Vir Lavazza is hul kalender dus ‘n manier om oor koffie te praat in ‘n medium wat dié wat daarna kyk,dadelik aanspreek – ook deur visuele verwysings na kunswerke soos Federico Fellini se La Dolce Vita en Da Vinci se Vitruvian Man. Só word verskillende aspekte van koffie uitgebeeld.

Lavazza 2009-kalender Lavazza 2009-kalender

“Kalenders gedenk nie net die begin van ‘n nuwe jaar nie. Hulle lui nuwe denk-eras in, van gedeelde waardes en geleenthede wat wag,”vertel Francesca. Lavazza staan ook in die tradisie van kalenders as bemarkingitems, net soos die bekende motorbandmaatskappy Pirelli. Nes Pirelli gebruik Lavazza byna uitsluitlik vroue op hul kalenders.

Volgens Francesca is dit nié bloot om die bemarkingswaarde van aantreklike vroue uit te buit nie: “Die skakel tussen vroue en koffie is baie heg.Vroue is sensueel, sterk en warm – soos koffie – en die kommunikasie-aspek van koffiekultuur is óók ‘n vroulike eienskap.”

Lavazza in SA

Lavazza-espresso-masjiene en Lavazza In Blu-koffie is te koop by @home en uitsoek-deli’s landwyd. Wees ook op die uitkyk vir Lavazza by Kauai, Tasha’s (Johannesburg), Brooklyn Milling (Kaapstad), Sprigs (Durban) en ander uitsoek-deli’s en -restaurante landwyd.

 

Die kalender se bekendstelling spreek van ooglopende luuksheid en ‘n warm elegansie so Italiaans soos die Kolosseum. Ons kom aan by die Villa Miani op die hoogste heuwel van Rome; in die verte lê die Sint Pieterskerk helder verlig onder ‘n laatsomerse volmaan. Die mediakonferensie is in die vorm van ‘n teatrale aanbieding oor Italiaans-wees, kompleet met klavierspel deur die jongste Italiaanse komponis-sensasie, Giovanni Allevi.

Dit vind plaas in ‘n onthaallokaal wat vir die geleentheid deur die La Scala-operahuis se stelbouers in ‘n swart-wit voorstelling van ‘n flambojante konsertsaal omskep is. Annie Leibovitz en Francesca Lavazza vertel van hul visie vir die kalender: Dit moes, méér nog as die vorige Lavazza-kalenders deur groot name soos Helmut Newton en Elliot Erwitt, die maatskappy se Italiaanswees uitstraal. Soos Francesca dit stel:

“Die Italiaanse lewe wentel om koffie. Ons word wakker, kom aan die gang, het lief, werk, vier fees en groei – alles met koffie.’n Hele wêreld van gevoel en verhoudings is opgebou om koffie. Espresso is ‘n gekondenseerde vorm van die skeppingskrag, plesier en sosiale lewe wat die Italiaanse kultuur kenmerk.”

Hierna is dit ‘n ervaring van hierdie kultuur in sewe verskillende kamers, elk ingerig met eetgoed en vermaak wat inskakel by die temas van die sewe kalenderfoto’s. Een “kamer”, om die “verleiding”-foto te vergesel, is ‘n Romeo-en-Juliet-balkon wat oor die stad uitkyk. Hier word slegs hartvormige kos aangedra . . .

Op pad terug na SA met ‘n enorme pizza-boks onder die arm – dié kalender stop hulle jou nie sommer opgerol in die hand nie! – wens ek ‘n Lavazza-espresso- masjien wil hom in my kombuis tuismaak. Ons goeie ou boeretroos het waarlik iets te leer by die meesters. Giuseppe verseker my dat Suid-Afrika vir Lavazza ‘n groeiende mark is, en wêreldneigings vat blitsig hier pos.

Binnekort geniet ons álmal – nes sjiek Europeërs – Italië se beste slegs uit elegante, piepklein koppies.