jul07sop5_310w
Kosstories

Moet-hê-items in jou kombuiskas

My ouma het sommer al die aand voor die tyd haar vleis uitgehaal om te ontdooi, my ma het altyd op pad skool toe gevra wat ons vir aandete wil hê, maar ek? Ek is ’n jong werkende vrou wat vanaand 7-uur by die huis kom en met ’n glas rooiwyn in die hand na die kombuiskas staar en dan op die ingewing van die oomblik besluit wat ek vir aandete wil maak.

Vir mense soos ek, of enigiemand wat deel is van die rat race van die 21ste eeu, is daar sekere noodsaaklikhede wat in jou kombuiskas hoort. Daardie moet-hê-items wat jou lewe kan red as ongenooide gaste opdaag, of jou sal laat smul aan jou aandete voor die televisie.

Liezl se 7 moet-hê-items

Uie

Elke goeie maaltyd begin met uie wat jy braai of sweet in die pan, en die soet reuk wat die volgende bestanddeel inspireer. Onthou dat wanneer jy kos maak, jy verskillende lae geure opbou, en uie is die grondslagvan enige smul-dis. ’n Vars knoffelhuisie is altyd lekker hierby.

Wenk: Wanneer jy die olie in jou pan warm maak om die uie te braai, voeg ’n bietjie botter by vir ekstra smaak.

Vars kruie

Jy kan enige onverwagte gas flous om te dink dat jy ’n gretige kosliefhebber met klas is as jy vars kruie in jou kos gooi, of dit met ’n takkie tiemie garneer. Dit kos R11 per pakkie en harde kruie soos roosmaryn of tiemie kan tot 2 weke in jou yskas hou.

Geblikte tamaties

Wat is makliker as om ’n tamatie op te kook vir ’n lekker Italiaanse sous oor pasta of vir tamatiesop? Enige tamatie-basis-sous kan doen met ’n bietjie suiker, worcestersous en swartpeper. Probeer gerus Barbara se tamatiesop.

Neute

Neute gee tekstuur aan ’n gereg. Die kraak onder jou tande is nie net lekker nie, maar boonop gesond ook. Gebruik in slaaie, garneer ’n roomsop of strooi oor jou nagereg. Onthou ook om altyd jou neute in ’n pan te rooster om die geurige olies te vry te stel!

Snowflake Savory-muffin-mengsel

Ek redeneer altyd, die muffins is steeds tuisgemaak … ek het dit mos self gemeng en in die oond gesit! Dit kan nie makliker wees om ’n southappie voor te sit nie. Breek ’n eier en voeg ’n titseltjie melk by, meng en wag vir die lekker geur om uit die oond te kom.

Wenk: Bak in ’n broodpannetjie vir ’n tuisgemaakte broodjie saam met jou tamatiesop! (Onthou dat dit ’n bietjie langer sal bak as in die muffinpannetjie.)

Ingedampte melk

Ingedampte melk is so half deel van ons Suid-Afrikaanse erfenis. Almal ken die immer gewilde malvapoeding-sousie wat op die stoof gemaak word met ingedampte melk, suiker en botter. Die stroopsoet sousie kan oor enige nagereg gegooi word, al is dit oor ’n skeppie roomys.

Today Puff Pastry

Daar is niks beters wat jy by ’n supermark kan koop nie! Bevrore skilferkorsdeeg spaar jou letterlik ’n hele dag se werk. Sny in die vorm van jou keuse, pak dungesnyde vrugte op, strooi bruinsuiker oor en bak vinnig vir jou heerlike fyngebak wat lyk asof dit uit ’n Franse bakkery kom!

Wenk: Koop die nuwe vierkantige verpakking in ’n plat boksie – dit ontdooi vinniger en die deeg breek nie so maklik nie.

Tot volgende keer!

Klits-en-klets-kok

Liezl

Volg my ook nou hier en kook saam:Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok