Kosstories

Koningskos uit la bella Italia

Mense vergeet dat Italië nog nie eens tweehonderd jaar ’n verenigde land is nie. Dis ’n landstreek waar streke en die mense van die streke hul eie streke het. En elke streek het sy eie kosgeite. Kos is sedert die Romeinse tydperk die spil waarom ’n Italiaanse huishouding draai. Om onder ’n prieel aan ’n lang tafel te sit met vele gaste, veral familie, en gang ná gang met handgeswaai, helder stemtone en baie glase chianti te geniet is la dolce vita! In die suidelike deel is pizza en tamatie die stapelkos en in die noorde is dit rys en room wat die septer swaai. Daar kom selfs room in die ragù van spaghetti bolognese, hoewel die Bolognese jou nek sal omdraai as jy spaghetti gebruik. Italiaanse kos is bedrieglik eenvoudig en puriste kan dae lank argumenteer oor die soort en hoeveelheid vars kruie wat gebruik moet word. As ek in hierdie beperkte ruimte een item moet uitsonder, dan is dit Italiaanse brood – dis van die lekkerste op aarde. Pane ferrarese, waar ys saam met die gis gebruik word, bly vir my ’n wonderwerk. Nou moet ek ’n geheim verklap: Die deeg word in ’n pastamasjien gerol! – PETER VELDSMAN

Die Italiaanse houding jeens kos word saamgevat in die uitdrukking “a tavola non s’invecchia”, en dit beteken “langs die tafel word ’n mens nie oud nie”. Met ander woorde, moenie jou maaltye afjaag nie, moenie in die kar agter die stuur eet nie en moenie gou ’n broodjie by jou lessenaar afwurg nie. Sit aan saam met vriende, eet tydsaam en geniet dit! Bron http://memoriediangelina.blogspot.com/p/italian-foodculture. Html

Dek jou tafel só . . .

Maak soos die mense van Toskane in die lekker somerdae wat voorlê en dek jou tafel buite. Plaas ‘n groot ronde houtplank in die middel. Sit Italiaanse brode soos ciabatta op die plank saam olyfolie en asyn. Plaas ‘n houtplank by elke gas se plek. Gebruik koeldrankstyl glase om wyn en ‘n suurlemoendrankie voor te sit. Sny vierkantige servette uit groen ruitjieslap. Hang dit oor die rug van elke stoel. Plankies met ‘n gaatjie bo dien as plekaanwysing by elke stoel. Stempel elke gas se naam op ‘n strook dun karton. Vou om die plankie en plak agter vas. Bind om die stoel vas met raffia en versier met ‘n groen takkie.