kook_genietfront
Kosstories

Kook & Geniet verkoop oor ‘n miljoen eksemplare

Dié gesogte kookboek bly ononderbroke een van Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, se topverkopers. “Kook & Geniet is ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika en bly na meer as 60 jaar steeds ’n treffer,” sê Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers oor die nuwe mylpaal.
 
Kook & Geniet was uit die staanspoor bekend as die “Bybel van kookkuns” vir jong Afrikaners na die eerste publikasie in 1951. Dit het talle herdrukke in sy ou formaat beleef. In 1990 het Human & Rousseau die regte verkry om die kookboek in Afrikaans in sy ou formaat te publiseer, en in 1992 het ’n hersiene uitgawe van sowel die Afrikaanse as Engelse uitgawes met die hulp van De Villiers verskyn.

Het jy geweet?
Die voorbladfoto van die mees onlangse Kook & Geniet kom uit ‘n Leipoldt-kosstorie wat Barbara Joubert in SARIE KOS gedoen het. Die fotograaf is Micky Hoyle.

In November 2009 het Human & Rousseau ’n nuwe bygewerkte uitgawe van Kook & Geniet en Cook & Enjoy gepubliseer. De Villiers se dogter, Eunice van der Berg, ’n huishoudkundige soos haar ma, het deur die kopie gewerk en gemoderniseer waar nodig sonder dat die essensie van die Kook & Geniet wat ons almal ken en lief het, verlore gaan.

By wie het jy jóú Kook & Geniet gekry? Wat is jou gunsteling-resep uit Kook & Geniet?

  • Minnie

    Ek het my Kook en Geniet by my Ma gekry met my Kombuistee in 1987! alhoewel ek dit nie gebruik vir resepte assulks nie, gebruik ek die dikwels om metodes en idees te kry.

    Die een resep wat vir my uitstaan is "Japie se gunsteling".

  • Christa van der Walt

    My ou blou Kook en Geniet was my heel eerste kookboek….geskenk aan my, getroud in 1972 en n leek in die kombuis, deur my man in 1973 op my verjaarsdag. Ek was nog n jong meisie,maar ek en my man wat net so gewillig was, het weggespring en baie, baie lesse daaruit geleer. Ons ou blou boek, het nou al n paar keer n lekker bree band "sellotape" gekry, maar word nog gereeld gebruik. Om die waarheid te se, geen een van die ander klomp boeke kon nog ooit sy plek inneem nie. Van pannekoek, koeksisters, pasteikors tot vyekonfyt, niks staan vir ons ou Kook en geniet se hande verkeerd nie. En ons 2 albei eksperts!!!! Een van my kosbare besittings!!!! Dankie tannie de Villiers!!!