Roast pork neck w apple stuffing
Kosstories

Kook soos ’n sjef: Varknek met appelvulsel

Aitsa! … met appels! Die klassieke liefdesverhouding tussen varkvleis en appels sorg weer vir hierdie wengereg. 

8 – 10 porsies

Vulsel

• 2 groen appels, in blokkies gekap
• 45 ml (3 e) gekapte koljanderblare en/of kruisement
• 230 g roomkaas
• 250 ml (1 k) gerasperde sterk cheddarkaas
• 250 ml (1 k) gekapte pekanneute

Varkvleis 
• 1,7 kg ontbeende varknek, vel verwyder
• sout en peper 

Bedruipsous 
• 80 ml (1/3 k) appelpuree
• 30 ml (2 e) olyfolie
• 60 ml (¼ k) tamatiepuree
• 15 ml (1 e) appelasyn
• 30 ml (2 e) sojasous
• 30 ml (2 e)) bruinsuiker
• 375 ml (1½ k) heuning
• 7 ml (1½ t) paprika
• 5 ml (1 t) mosterdpoeier
• 2 ml (½ t) fyn gemmer

Verhit jou oond tot 180 °C. Maak eerste die vulsel: Meng al die bestanddele vir die vulsel.

Sit die varknek met die kant wat die meeste vet het na onder. Geur met sout en peper. Kap dit effens platter met ’n vleishamer, of met die rand van ’n kleinbordjie.

Versprei die vulsel egalig oor die varknek, rol die vleis op en bind dit goed vas met tou. Geur die buitekant met sout en peper, vryf olyfolie daarin en sit op ’n oondrakkie bo-op ’n oondpan.

Meng al die bestanddele vir die bedruipsous

Verf die bedruipsous oor die hele varknek. Sit foelie bo-oor (blink kant na die vleis) en oondbraai dit vir ongeveer 1 uur teen 180 °C.

Verwyder die foelie en oondbraai nog 30 minute totdat die varkvleis net-net gaar is en dit bo-op liggies goudbruin is. 

Sit voor met ’n interessante slaai van bros, vars appelslaai en ’n hand vol roketblare en komkommerrepies. Voeg gekapte koljanderblare en dun skyfies brie-kaas by, en rond af met dun ringe rooi-uie.

SA PORK tag

5 feite oor varkvleis

1) Fynproewers verkies dit

Die wêreld oor is varkvleis die nommereen-keuse van alle vleissoorte, onder tuiskokke én sjefs in restaurante. In Suid-Afrika is dit nog nie so nie, want ons varkvleisverbruik per kapita is onder die laagste 5 lande in die wêreld.

2) Liggies gaargemaak is lekkerder

Varkvleis is op sy beste as dit net-net gaargemaak word. Die binnekant moet liggrys wees en nog vol vleissappe. Doodgebraaide varkvleis is heel onnodig en mors net jou geld. 

3) Toets dit met ’n termometer

Selfs die heel eenvoudigste vleistermometer sal ’n groot verskil aan jou gemoedsrus maak. As jy wonder of jou varkvleis in die regte stadium van liggaar is, druk die punt van jou vleistermometer in die dikste deel van die vleis en as dit enigiets tussend 68 en 72 ºC is, is dit reg om uitgehaal te word.  

4) Sit en rus vir sappigheid

Varkvleis het ’n delikate proteïenstruktuur en alle snitte smaak sappiger as dit eers “rus” voordat dit voorgesny word. ’n Groot boud of oondbraaistuk kan tot 10 minute iewers in die kombuis “rus” en kleiner snitte soos tjops kan vir 5 minute rus voordat dit gesny word. 

5) Suid-Afrika se dinamiese dierewelsyn

Kommersiële varkproduksie-eenhede volg ’n beleid waarvolgens elke sog net ’n beperkte tyd in ’n krat deurbring.

Die varke het toegang tot ruimtes waar hulle vrylik kan rondbeweeg en, as hulle sou wou, sosialiseer met ander varke.