Citrus Glazed Pork Roast
Kosstories

Kook soos ’n sjef: Varkskouer met sitrus-glanssous

Pronk met ’n pragstuk op die kostafel. Geen ander vleissoort kombineer so goed met sitrusgeure soos varkvleis nie.

WENK Bestel vooraf ’n ontbeende varkblad by jou slagter, en vra hom om dit met tou vas te bind om ’n netjiese vorm daaraan te gee.

8 – 9 porsies

• 1 x 2,2 kg ontbeende varkskouer (blad), vel verwyder
• sout, peper en fyn vinkelsaad
• 250 ml vars lemoensap
• 15 ml Verjuice (vervang met appelsap en ’n skoot wynasyn of druiweasyn indien nodig)
• 60 ml heuning
• 4 – 5 preie, of 2 uie, in skywe gesny
• wortels, geskil en in skywe gesny
• takkies gemengde vars kruie
• 2 lemoene en 3 nartjies, in wiggies gesny of in groot huisies opgebreek
• ekstra vleissous vir voorsit, indien verkies

Verhit die oond tot 180 °C. Druk die varkskouer goed droog met kombuispapier. Vryf sout, peper en fyn vinkelsaad reg rondom goed in die vleis in.

Meng die lemoensap, Verjuice en heuning, en verhit net sowat 30 sekondes in die mikrogolfoond sodat die heuning deeglik in die lemoensap oplos.

Pak die preie of uie, wortelstukke, helfte van die kruietakkies en die lemoene en nartjies onderin ’n oondbak. Sit die varkskouer bo-op en gooi die lemoensap-en-heuningmengsel oor die vleis. Sit die orige kruietakkies bo-op die vleis en maak dit dig toe met foelie (blink kant teen die vleis).

Sit dit in die middel van die warm oond en bak vir ongeveer 1 uur en 30 minute. Verwyder die foelie en gooi die pansappe deur ’n sif sodat jy net die pansappe verder as ’n bedruipsous kan gebruik. Sit die varkblad terug in die oond, op ’n oondrakkie bo-op ’n oondbak. Bedruip voortdurend met die pansappe en oondrooster die vleis nog ongeveer 30 – 50 minute.

(Varkvleis is perfek gaar binne-in as dit 70°C op ’n vleistermometer registreer.)

Laat staan die varkblad vir minstens 5 – 10 minute om goed te rus voordat jy dit in dun skywe sny.

Sit voor saam met kapokaartappels of romerige polenta.

SA PORK tag

5 feite oor varkvleis

1) Fynproewers verkies dit

Die wêreld oor is varkvleis die nommereen-keuse van alle vleissoorte, onder tuiskokke én sjefs in restaurante. In Suid-Afrika is dit nog nie so nie, want ons varkvleisverbruik per kapita is onder die laagste 5 lande in die wêreld.

2) Liggies gaargemaak is lekkerder

Varkvleis is op sy beste as dit net-net gaargemaak word. Die binnekant moet liggrys wees en nog vol vleissappe. Doodgebraaide varkvleis is heel onnodig en mors net jou geld. 

3) Toets dit met ’n termometer

Selfs die heel eenvoudigste vleistermometer sal ’n groot verskil aan jou gemoedsrus maak. As jy wonder of jou varkvleis in die regte stadium van liggaar is, druk die punt van jou vleistermometer in die dikste deel van die vleis en as dit enigiets tussend 68 en 72 ºC is, is dit reg om uitgehaal te word.  

4) Sit en rus vir sappigheid

Varkvleis het ’n delikate proteïenstruktuur en alle snitte smaak sappiger as dit eers “rus” voordat dit voorgesny word. ’n Groot boud of oondbraaistuk kan tot 10 minute iewers in die kombuis “rus” en kleiner snitte soos tjops kan vir 5 minute rus voordat dit gesny word. 

5) Suid-Afrika se dinamiese dierewelsyn

Kommersiële varkproduksie-eenhede volg ’n beleid waarvolgens elke sog net ’n beperkte tyd in ’n krat deurbring.

Die varke het toegang tot ruimtes waar hulle vrylik kan rondbeweeg en, as hulle sou wou, sosialiseer met ander varke.