Kosstories

Koskuier onder ‘n Jakaranda

Onder die bome gebeur alles . . . die kosklasse, die kuier, die lekker eet. Jy stap by Sonja de Beer se blyplek in Pretoria in en gedekte tafels met wit linnedoeke en wit Wimbledon-stoel verwelkom jou saam met die twee schnauzers Anna en Bismarck. Aromas verlei jou om aan te sit: Geure van roosmaryn, tiemie, gekaramelliseerde groente en tamatie wat lank geprut het.
Buite, in die skadu van reuse-jakarandas, onthaal sy en leer sy jou hoe om kos met hart en sintuie te berei. Uit die kombuis kom geure aangesweef. Brood wat bak, ‘n heerlike bredie wat prut op ‘n koue winterdag, rooibostee in ‘n emaljeketel, beskuit wat droog in die oond, en ‘n vars gebakte melktert.

“Dis aromas wat in ‘n kombuis hoort,” vertel Sonja met ‘n aansteeklike kospassie. Sy is ‘n bedrywige kosmens – spysenier, ma, skepper van kosprodukte en stigter van ‘n kosmark in Pretoria. Sy glo ons moet die hartklop van ons kostradisies terugbring. “Dis wonderlik om te sien dat handwerk weer gewild raak,” sê sy. “Maar ek is nie so seker dat ek dieselfde van vaardighede soos bak en konfyt maak kan sê nie. Moderne vroue beoefen dit nie.” Daarom sê sy: “Bak soms self brood. Laat jou kinders dit in jou kombuis sien en ruik en altyd onthou. Natuurlik het ons min tyd, maar maak ‘n plan. ‘n Vrou het my eendag ‘n broodresep gegee waar jy meer water by jou deeg sit, dan hoef jy nie te knie nie. Dis mý kortpad. Kry joune!”

Die kombuis is ‘n gesinsplek, glo Sonja. “As ek bak, is almal saam. Dan voel dit of die hart van my huis klop! Ek verkies ‘n plaaskombuis, want dis waarmee ek grootgeword het. Ek wil nie
‘n kombuis hê wat heeltyd prentjiemooi lyk, maar waar daar nooit gesinskos gemaak word nie.”

Sy maak waarvan haar gesin hou. Moderne én tradisionele kos. Sy en haar man, Wilhelm, is avontuurlike eters wat van nuwe smake hou. Daarom eksperimenteer sy met nuwe idees. Al hou die kinders nie van alles nie, moet hulle alles proe! “Ons eet nie baie uit nie. Vir my moet uiteet eerder ‘n geleentheid wees. Maar ons geniet die Italiaanse pizza’s by Luini’s in Pretoria. Ek en my man sal soms by ‘n spesiale plek gaan eet soos Prue Leith se restaurant in Centurion.”

Die klem sal altyd vir haar op tuiskos wees. So ver sy kan, probeer sy ons voorgeslagte se tradisie volg deur te benut wat in haar yskas en koskas is voor sy winkels toe gaan. “My grootouers het op plase ver van die dorp af gewoon. Ek het by hulle geleer om te gebruik wat jy het. Jy moet innoverend wees. Al woon jy alleen in ‘n woonstel met net ‘n braaipan, kan ‘n
brood, tamaties, ‘n blik bone, feta-kaas en vars kruie, wat mooi op jou vensterbank groei, ‘n fees wees.” In haar yskas is altyd tamaties, eiers, geroosterde botterskorsie en pesto (wat sy self maak), gaar hoenderfilette en gaar maalvleis. “Daarmee kan ek vinnig kos optoor. Feta-kaas en spinasieblare of blaarslaai maak ook ‘n vinnige ete saam met gebraaide chorizoworsies of frankfurters. Soms gooi ek keker-ertjies (chickpeas) by. Net botterskorsie en feta saam met koeskoes is ‘n smulete.”

Omdat haar gesinstyd belangrik is, doen Sonja spyseniering net as sy tyd het en wanneer mense spesiaal vra na haar soort kos. Dan is haar fokus gewoonlik op vars produkte met tradisionele smake. “Ek gebruik gereeld wildsvleis, veral springbok, en marineer eers die vleis vir vyf tot ses uur in jogurt. Daarna lê dit vir twee tot drie dae in ‘n roosmaryn-en-balsem-marinade. Ek hou daarvan om skaap, bees en selfs vark by te voeg as ek dit gaarmaak.”

As Karookind in die Middelburg-distrik (Oos-Kaap) het sy grootgeword met plaaskombuis-geure soos varsgebakte brood wat met aartappelsuurdeeg gemaak is, koffiebone wat in die Aga
gerooster word, skaapkoppe wat Ouma stadig rooster, wonderlike koekies, vrugterolle en rye flesse vol ingelegde vrugte. “My ma, Petro du Plessis (70), is ‘n baasbakster wat veerligte
koeke bak en die wonderlikste konfyte maak. Sy kon slagdiere se vleis behendig bewerk. Sy het my van kleins af die vryheid van die kombuis gegee en ek het toe al geweet ek wil huishoudkunde gaan studeer.”

Sonja was ‘n paar jaar juffrou, sy het 10 jaar elders gewerk en daarna die koswêreld betree. Kookklasse en haar eie deli-produkte het gevolg – en deesdae is dit ‘n voltydse beroep by Sonja’s Foods, haar onderneming. Haar gewilde kosklasse word Paas- en Kerstyd aangebiedomdat dít twee spesiale geleenthede is wat sy glo ons moet vier. “Die doel van my klasse is om vroue in hulself te laat glo. Ek wil hulle leer om op hul eie unieke manier kos te maak. Jou kos moet jóú stempel dra. Dan raak kos ‘n vreugde en ‘n manier van gee.” Haar geregte voldoen sover moontlik aan die nuwe neiging na ligter, gesonder kos. Sy sê:”Deesdae rooster ons meer en bly weg van diepbraai. Kos bevat minder suiker. Maar ai, nou en dan neig elke hart na daardie lekker kos van Ouma, en daar is niks mee verkeerd nie. Matigheid bly die towerwoord.”

Haar raad vir gesonder kos op ‘n maklike manier is om jou geregte ‘n lae GI-inhoud te gee deur lensies of bone by jou maalvleis in te werk of om kapokaartappels met ‘n derde aartappel,
‘n derde patat en ‘n derde wortel te maak. Sy verstaan hoe voel ‘n vrou wat saans doodmoeg by die huis kom, daarom beplan sy Sondae haar gesin se spyskaarte vir die week. Dit spaar tyd. Haar droom is dat haar kinders en kleinkinders eendag, nes sy, sal kan vertel wat hulle als van kos by hul ma en ouma geleer het. Daarom betrek sy die kinders, Zach (15), Petro (13) en Marthinus (7), in die kombuis. Hulle kook een aand per week om vir hul besige ma ‘n blaaskans te gee. “Dan gee ek pad uit die kombuis, anders wil ek heeltyd leer. Hulle doen dan wat hulle wil.”

Hoewel haar kosgene in die Karoo begin het, bewonder sy veral die Thailanders wat smake kan kombineer vir geurontploffings in jou mond. “Ek het Thailand ‘n paar keer besoek en ‘n kursus by ‘n kookskool gedoen. Ek meen Thailand is die Frankryk van die Ooste, want vir die Thailanders is die hele kosmaakproses tot by die eindproduk belangrik.”

By hul sendeling-vriende in Thailand het sy smiddags ‘n gestamp in die bure se huis gehoor en later besef dit klink so wanneer hulle kerriepasta maak. “Hulle gaan mark toe, koop elke bestanddeel en vermeng dit in die vysel. Die samevoeging van spesifieke geure om ‘n smaak te kry is ongelooflik.” Sy het haar verwonder aan die hope vars kruie wat altyd byderhand is. “Die beeld van ‘n man wat met ‘n mandjie vol kruie op die fiets sy pad vind tussen die voetganger-gemaal in besoedelde strate, bly my by.” Sonja is dankbaar dat veral Oosterse bestanddele nou oral in Suid-Afrika beskikbaar is.

Verskeie kos-ervaringe oor die jare heen het bygedra tot die inspirasie vir haar eie produkreeks, soos haar gewilde botterskorsie-en-bobotie-mengsel. Daarmee wil sy dit vir die besigste vrou maklik maak om lekker te kook. As sy tyd kry, lees sy wyd oor kos. Haar plaaslike gunstelinge is Topsi Venter, haar kos-ikoon, en Ina Paarman, omdat sy met haar produkte kosmaak makliker gemaak het. “Kookboeke wat ek seker die meeste nadertrek, behalwe die Kook en geniet, is die Moro-reeks van Sam & Sam Clark [www.moro.co.uk – hulle vat Mediterreense smake saam] en Taste of Thailand [Creative Cooking Library] deur Kit Chan. Ek geniet enige kosfliek, maar my gunsteling was Julie & Julia. Ek hou van die toneel waar sy ‘n tert laat val en weer mooi saamdruk sodat dit aanvaarbaar lyk: ‘No excuses, no explanations, no apologies – ever!'”

Sy glo elke ma het bederftyd nodig, daarom swem sy vier oggende ‘n week, vroeg-vroeg. “Dit hou my kop skoon, want as die dag eers begin, is daar min tyd vir myself. Die lekkerste lekker
vir my is as ek op ons grootwordplaas in die Karoo kuier. Daar kan ek in stilte stap, droom en myself weer vind. Maar vir nou is my plekkie in Pretoria, en ek hoop ek kan vroue help besef dat hulle net hulself hoef te wees.”

  • Hannie Bezuidenhout

    My goeie vriendin Marie Theron, het vir my van Sonja se bobotie en kruie mengsels aangestuur, al die pad na Ithaca New York.
    Dit was ‘n nostalgiese ervaring vir my, toe ek smul aan my heerlike bobotie so ver van my geboorteland!

    Dankie vir die puik artikel. Nou het ek isae in haar lewe en haar verskeie koservaringe.

    Dankie Sarie, julle het my dag gemaak