edit_1
Kosstories

Kruie uit jou yskas

Jy hoef nie groen vingers te hê om ’n pot vol smaak op jou stoof te sit nie. Vars kruie van die supermark is van die beste gehalte en is vol geur!

Dit is hoogmode om jou eie kruietuin te hê, maar vir diegene soos ek wat net ‘n vensterbank het om ‘n tuintjie te maak en selfs vetplante laat vrek, kom die supermark se groente-afdeling tot ons redding!

Hierdie houertjies kruie van R10 (of minder) is gelykstaande aan een bossie kruie en jy is verseker dat niks verlep is nie – boonop hoef jy nie eenmaal in die grond te spit hiervoor nie!

Onthou dat die handjie vol kruie nie net vir kleur is nie en dat daar riglyne is vir kos-en-kruie-kombinasies. Hier is jou onthou-dinge wanneer dit kom by kruie.

Liezl se onthou-dinge

edit_6_300w

Basiliekruid

Dink Italiaans! Pizza, pasta, olywe en pesto. Jy kan dié soeterige krui ook in kombinasie met pietersielie en tiemie gebruik wanneer jy ‘n tamatie-pastasous maak.

Pasmaats: Balsemasyn, tamatie, uie, olywe en Mediterreense groente

Wenk: Onthou om altyd die basiliekruid heel laaste by te voeg – hitte vernietig die smaak vinnig!

edit_7_300w

Roosmaryn

Vleis se maat, roosmaryn, herinner my altyd aan die Sondag-lamsboud. Vir die vegetariër werk dié geharde krui ook met geroosterde groente op bruschetta.

Pasmaats: Lam, hoender, vark, pasta, aartappels, tamatie en olywe

Wenk: Gebruik die takkie van die roosmaryn vir sosatiestokkies of vir stokbroodjies, die geur versprei deur die dis soos wat dit gaar word!

edit_3_300w

Pietersielie

Almal ken die klein groenigheid op elke bord in die 80’s. Gelukkig kap ons nou die krui en voeg dit by pastasouse. Pietersielie is baie veelsydig en sy lys van pasmaats is baie langer as dié wat hieronder genoem word.

Pasmaats: Hoender, skulpvis, tamatie, suurlemoen, dennepitte, bone en lensies

Wenk: Moenie skrik as jy net Italiaanse pietersielie (Italian flat-leaf parsley) in die winkel kry nie, hierdie variëteit is meer subtiel en word vandag verkies bo die outydse krullerige blaartjie.

edit_4_300w

Koljander

Hierdie vars smaak pas by enige Oosterse gereg. Koljander verdwyn nie langs sterk geure soos gemmer of rissies nie. Wees daarom versigtig om té veel koljander by ‘n ligte smaak soos appels te voeg.

Pasmaats: Gemmer, rissies, sojasous, kokosneutmelk, seldery, avokado’s, appels en kasjoeneute

edit_5_300w

Grasuie

Dié subtiele uiesmaak pas perfek by ligte of someretes. Wees versigtig om grasuie by swaar smake te voeg, dit sal oorheersend wees en die grasui-smaak sal verdwyn.

Pasmaats: Salm en ander vissoorte, slaai, knoffel, eier en sitrus

edit_8_300w

Tiemie

My gunsteling-krui, tiemie, pas by enige robuuste smaak. ‘n Rooivleisgereg met rooiwyn en tiemie oor gesprinkel lê naby aan my hart. Hierdie krui kan tot twee weke lank vars bly in jou yskas. Meng tiemie met roosmaryn vir ekstra smaak.

Pasmaats: Rooivleis, tamaties, sampioene, bloukaas, sitrus en vye

Wenk: Wees op die uitkyk vir gegeurde tiemie-variëteite soos lemoen-tiemie vir diepte van smaak.

Gebruik nou die riglyne en beplan waar jy ‘n bietjie vars kruie by jou aandete kan ingooi vir ekstra smaak, en natuurlik ‘n bietjie kleur!

Lekker kook!

 

Klits-en-klets-kok

 Liezl

img_5322ab_100wVolg my ook nou hier en kook saam:

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok