sr1104dekorfinal01
Kosstories

Kuier dié Pase in die tuin

“Om Jesus te volg beteken dat ons ’n nuwe manier van lewe binnegaan, een waarvan die aard en vorm bepaal word deur die Een wat ons roep. En om Jesus te volg beteken ons kan nie dit wat Hy sê en dit wat Hy doen, veral hoe Hy dit doen, van mekaar skei nie. Om Hom te volg gaan dalk meer oor voete as wat dit oor ore en oë gaan.”

Eugene H. Peterson uit The Jesus Way

HAAS-NAAMKAARTJIES

As jy meer formeel gaan dek, maak vir jou gaste prettige naamkaartjies. Google Silhouette of rabbits en kies ’n ontwerp na jou smaak. Vergroot of verklein op ’n fotostaatmasjien en knip die ontwerp uit swart papier. Knip 10 x 10 cm-naamkaartjies uit stywe papier, vou dit dubbel en plak ’n hasie op elkeen vas. Skryf die name met ’n wit pen daarop. Die glasbottels (vanaf R270) is van Wetherlys. Die klein ovaal borde kos vanaf R150 elk, die bak R280 en die vaas R260, alles te koop by Montebello. Die groen hasie (R225) is van Caramel.

Koekvurkies behoort aan stilis.

RESEPVERSAMELING

Die Paasnaweek is die ideale tyd om jou los resepte te orden. Gebruik
 ‘n indeksboek en trek dit interessant oor. Knip ’n klein hasie uit ’n stukkie helderkleurige katoenlap en gebruik vassmeltstof (by materiaalwinkels te koop) om dit op ’n mooi stuk linne vas te stryk. Knip die binnekant van ’n ou doilie uit en werk die rand daarvan om die hasie vas. Plak die materiaal met gomstiffie op die boek vas en gaan te werk net soos wanneer jy ’n boek met papier sou oortrek. Die porseleinhasie-eneiers (R300) is van Wendy McLachlan van Homebakes Ceramics, ook te koop by Heartworks.

NESSIES VAN LAP

Skeur repe materiaal van so 3 cm breed uit katoenlap. Rol dit liggies om jou hand en trek dit af. Vorm ’n nessie. Plak dit op ’n klein sirkel papier vas om ’n digte bodem te maak.

Steek dit in die tuin weg met ’n paar Paaseiers daarin. Tik ’n Paasboodskap en druk uit op gekleurde papier. Knip in repe uit en rol op, plaas in nessies.

SALIG

’n Lekker groot dagbed op jou stoep of onder ’n boom is die toppunt van weelde.
wenk
So ’n dagbed is gewoonlik dieper as ’n rusbank. Om gemaklik te sit, koop of maak kussings van minstens 70 x 70 cm (dis die grootte van’n kontinentale kussing).
Aanwysings
Die matras is oorgetrek met Design Team se Fans on Linen (sowat R450 p.m.). Die twee effekleurige kussings (vanaf R495 elk) is van Wetherlys. Die blare-kussing is gemaak van Bohemian Rhapsody (kleur Joplin Summer, sowat R285 p.m.) van Fabric Library en die geblomde kussing van Hertex Fabrics se Manila (kleur Summer, sowat R380 p.m.) Die gestreepte deken is gemaak van Stripe Teas (kleur Sabrina Multi, sowat R376 p.m.) van Fabric Library. Die buite-dagbed (R3 250), die klein ronde tafeltjie (vanaf R350) en die geroeste ysterhasies (R295 elk) is van The Greenhouse by Montebello.

PAASBOLLETJIES

Vir 12-14 bolletjies

• 250 ml warm melk
• 90 g (100 ml) botter, gesmelt
• 1 eier
• 65 g (80 ml) suiker
• 10 g sout
• 10 g kitsgis
• 15 ml fyn kaneel
• 15 ml gemengde speserye
• 500 g (890 ml) koekmeel
• 140 g (250 ml) rosyne
KruiSe
• 60 ml meel
• 15 ml olie
• 30 ml water
GlaSuurSel
Kook saam vir 5 minute:
• 100 ml water
• 50 ml suiker

Verhit oond tot 180 ˚C. Meng melk, botter, eier, suiker, sout en gis in ’n middelslag-mengbak. Voeg speserye en genoeg meel by tot ’n stywe, kniebare deeg. Knie vir 5 – 8 minute of tot deeg gladde voorkoms het. Laat deeg op ’n warm plek rys tot dubbel die volume, sowat 1 uur.
Voeg rosyne by en knie af tot rosyne ingemeng is. Laat weer rys tot dubbel die volume, sowat 30 – 45 minute.
Verdeel in gholfbalgrootte bolletjies (80 g) en plaas stewig teen mekaar in ‘n broodpan. Laat rys tot dubbel die volume, weer sowat 30 – 45 minute.
Kruise: Meng bestanddele vir kruise saam tot stywe pasta. Spuit kruise bo-oor deeg met versiersak. Bak vir 30 – 35 minute tot goudbruin en gaar.
Glasuursel: Verf met glasuursel en laat afkoel. Sit voor met botter.

PANNEKOEK MET KARAMELSOUS

Vir 24 pannekoeke

• 1 liter melk
• 6 eiers
• 20 ml sonneblomolie
• 10 ml vanielje-geursel
• 200 g (250 ml) suiker
• 420 g (750 ml) koekmeel
• 2 ml sout
• 5 ml neutmuskaat
• ekstra sonneblomolie vir braai
karaMeLsous
• 1 x 360 g-blikkie karamelkondensmelk
• 80 ml melk
• 85 g fudge, fyngekap (opsioneel)
• 200 g bessies van jou keuse

Klits melk, eiers, olie, vanielje en suiker saam in ’n middelslagmengbak. Sif meel, sout en neutmuskaat by en meng tot gladde beslag. Laat rus vir 10 minute in yskas.
Verhit klein bietjie olie in braaipan tot warm. Bedek bodem met dun lagie beslag en braai sowat 30 sekondes per kant tot goudbruin en gaar.

Karamelsous: Plaas karamel en melk saam in ’n middelslag-pot oor matige hitte. Klits met draadklitser tot loperige, gladde mengsel. Voeg fudge by. Sit pannekoek voor met karamelsous en bessies.

OORGROOT VISKOEKE

6 porsies

• 400 g witvis van jou keuse, fyngekap
• 3 aartappels, gekook tot sag en
fyngedruk
• 1 ui, fyn gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• hand vol koljander, gekap
• hand vol basiliekruidblare, gekap
• 1 eiergeel
• 85 g (150 ml) koekmeel
• sout en varsgemaalde swartpeper
Buite-kors
• 2 eiers, liggies geklits
• 140 g (250 ml) koekmeel
• 150 g broodkrummels
• 60 ml olyfolie
• 200 g piekel-uie
• 200 ml tamatieblatjang

Verhit oond tot 180 ˚C. Meng vis, aartappels, ui, knoffel, koljander en basiliekruid. Voeg eier en meel by en meng goed. Geur goed met sout en swartpeper. Verdeel mengsel in 6 ewe groot balle en druk effens plat.

Buite-kors: Doop koeke in eier, dan in koekmeel en laastens in broodkrummels. Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pan en braai koekies sowat 5 minute per kant of tot goudbruin. Plaas in warm oond vir verdere 10 minute of tot gaar. Sit warm voor met piekel-uie en tamatieblatjang.

HOENDERLEWER-PATEE

6 porsies

• 25 g botter
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 15 ml tiemie, fyngekap
• 600 g hoenderlewers
• 40 ml brandewyn
• 15 ml tamatiepasta
• 160 ml room
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 100 g botter vir bo-op, gesmelt

Verhit botter tot warm in ’n middelslag-pot. Voeg uie, knoffel en tiemie by. Braai liggies tot goudbruin. Voeg hoenderlewers by en braai verder tot goudbruin, sowat 5 minute. Voeg brandewyn en tamatiepasta by en meng goed. Laat brandewyn wegkook en voeg room by. Laat stadig prut vir sowat 5 minute of tot room met helfte verminder het. Geur goed met sout en swartpeper. Laat afkoel. Plaas mengsel in voedselverwerker en verwerk tot gladde patee. Verdeel mengsel tussen glasflesse van jou keuse. Gooi gesmelte botter bo-op en laat oornag in yskas stol. Sit voor met roosterbrood, agurkies en vars vye.

TOFFIE-APPELS

• 14 rooi appels,
• 14 sosatiestokkies
• 500 g suiker
• 100 g glukose-poeier (kyk by apteek)
• 125 ml water
• 30 g botter
• 10 ml rooi voedselkleursel

Steek ’n sosatiestokkie in elke appel. Plaas suiker, glukose en water saam in ’n middelslag-pot. Roer oor lae hitte tot suiker gesmelt is. Bring tot kookpunt en laat vinnig kook tot die stroop 150 ˚C meet, sowat 8 – 10 minute (sien wenk onder). Voeg botter en voedselkleursel by en meng met ’n houtlepel tot ingemeng. Doop elke appel versigtig in warm stroop deur die stok as handvatsel te gebruik. Plaas op bakpapier wat met kleefwerende sproei gespuit is. Laat afkoel tot hard.

Indien jy nie ’n suikertermometer het nie, kan jy só toets: Ná 8 minute se kook, laat ’n klein druppel stroop in yswater val. As dit ’n harde bal vorm wat soos glas lyk, is dit reg.

Kyk hier na ‘n video waar Herman stap-vir-stap wys om Toffie-appels te maak.