Kosstories

Kuier-fantasie – onthaal jou vriende (+video)

Lank, lank gelede, voor die rugby maar ná die sokker, was daar ’n vrou genaamd Alice op Wellington. Vele verrassings voer sy in die mou . . . Vir dae en maande en jare dag die hele dorp sy’s maar net die vriendelike vrou in die supermark. Maar toe, op ’n mooi aand, speel sy gasvrou by die eteklub, en daar ontmasker sy haarself: Sy’s ’n storieboekwonder, ’n towerkok, ’n kunstenaarprinses! In die openingstoneel verskyn sy met ’n skinkbord, lig die silwer-klokdeksel en deel delikate partytjie-eiers uit in blinkpapier. Die gaste wonder: ’n Vroeë Paasfees? Het die wit haas al weer verbygekom met sy alewige stophorlosie en in sy . . .haas . . . neef Paaskonyn se mandjie vergeet?

Op ’n silwer-skinkbord kom sewe goudbruin pasteie te voorskyn. Pappa Beer begin blaas. Hy’s bang hy verbrand weer sy mond soos daai oggend met die pap, net voor daai Gouelokkies by hulle aan huis opgedaag het. Maar hy blaas te hard, en daar trek die deeg. “Verrassing!” skree Alice. “Nog een!” gons die gaste. Onder die deegdeksel skuil daar toe ’n slaai, wie sou kon raai? Die hofnar kan homself nie keer nie en hou sy lyf wiggelaar met die feta-en-waatlemoenballetjies. Byna hipnotiseer hy die gladiator en Pappa Beer. Goue kalf, my storie is half.

Met haar oë toe en ’n glimlag op haar gesig lek Cleopatra die laaste samoesastroop van haar vingers af, terwyl die gladiator loer of Alice nie dalk nóg ’n verrassingsburger vir hom gaan optower nie. “Ek voel geëerd,” spin Cleopatra, “dat jy ’n nagereg in die vorm van my wêreldbekende neus gemaak het, Alice.” Alice bloos, want eintlik stel die driehoekies die piramides voor, maar soos enige goeie gasvrou weet sy wanneer om te glimlag en tjoepstil te bly. En om te keer dat Pappa Beer met die sak patats vorendag kom, gee sy hom ’n bordjie sjokolade aan. Sy knipoog vir hom en fluister, “Roomys met koue sjokoladesous, kan jy maar sê.” ’n Soete einde tot ’n droomgeleentheid. Fluit-fluit, my storie is uit!