sk07_1langtafels_gaskokke01d
Kosstories

Lang tafels by die see

“Jy ry net reguit aan,” beduie Arnold Hoon oor die telefoon, “oor die kruising, deur Vredenburg, reguit al die pad, deur Paternoster, en aan die einde van die straat, die heel laaste huis regs, is ons.” Elke reisiger wat Mosselbankstraat 1 aandoen, herdoop die gastehuis spontaan. “Aaahh!” is die uitroep wat onwillekeurig opwel soos stadstres en vermoeiing van die skouers afrol. Die uitsig alleen is die rit werd: ’n poskaartkiekie van see, strand, duine, fletsblou hemel en . . . natuurlik ah!

Arnold se kooktalent is nie net inwonende gaste beskore nie. Ah! bied aandetes op bespreking vir tot twaalf mense. “Vir diegene wat iets anders as son, see en saffier soek,” onthul die gasheer, “bied ons op versoek ook kookdemonstrasies en kookkursusse.” Die gastehuis is in die kenmerkende laat-Paternoster-idioom gebou, afgewit en effens afgesonder van die res van die dorp. Drie gasteslaapkamers, elk met ’n onbelemmerde uitsig op die branders ’n klipgooi ver, bied aartsgemak op die boonste en onderste verdieping. Die oop kombuis en leefruimte is die hart van die huis op die grondvloer. Arnold en Annalise self bly net ’n hartklop weg van die groot stoof waarop immer iets aan’t prut is.

Hul besluit om Johannesburg te verlaat het vinnig gekom. “Tot Annalise se konsternasie het ek vir ’n oomblik met die idee gespeel om op ’n plaas by Sutherland af te saal,” lag Arnold. “Maar op die ingewing van die oomblik het ons verlede jaar afgesit Weskus toe. Ons het Paternoster binnegery, rondgestap, die vismark besoek en toe sommer ’n paar eiendomme bekyk. Die tweede een was dié plek. En dit was dít. Ons enigste voorwaarde was dat, wáár ons ook al eindig, dit binne ry-afstand van ’n metropool moet wees.”

“Paternoster is ’n baie spesifieke soort plek,” sê Annalise. “Dit sluk jou in of spoeg jou uit. Ons was gelukkig.” Sy sak effens terug in haar stoel met ’n klein glimlag en die weltevrede lyfgebaar van iemand wat oord gevind en wortelgeskiet het. Haar oë en Arnold s’n soek mekaar, soos telkemale tydens die gesprek – die woordelose kommunikasie van twee sielsgenote wat ’n kosbare vonds deel. Die voordele van hul besluit lê voor die hand. Arnold se rustige blou oë beaam dit wanneer hy sê: “’n Mens word hier toegelaat om jou eie lewe te lei, af te skakel en na binne te keer wanneer dit nodig word. Jy gee self die pas aan. Hoogseisoen, wanneer Paternoster uit sy nate bars met toeriste, breek soos ’n brander oor die dorpie. In stiller tye keer die bewoners inwaarts, word oor en weer gekuier en hegte vriendskappe gesmee.

“Dis nie ’n plek waaroor ’n mens gematig kan voel nie,” vertel Annalise. “Jy lewe na aan die elemente en leer om met minder oor die weg te kom. Dit bring ’n groot kalmte mee.” ’n Leefstylbenadering wat eweneens een van die sjef se hoofbestanddele geword het.

Arnold se nege jaar by hul onthaallokaal Die Langtafel in Westdene het hom vindingryk gemaak. “My spyskaarte word sterk beïnvloed deur wat plaaslik beskikbaar is. Omtrent 95% van my bestanddele kom uit die kontrei, soos snoek, mossels en kreef wat ek sommer by die vissermanne koop. Maar as gaste vra wat hulle kan saambring, is ek nie ongeneë om ’n bestelling te plaas nie.” Goeie koffie is een ding waarvoor Arnold met ’n glimlag opdok. Sy voorkeursoort word spesiaal vir hom gerooster en verskeep, of deur besoekende vriende in hul tasse aangekarwei. Die giere van die wind en weer speel klaar met enige ambisies vir ’n kruietuintjie. Annalise wys na ’n paar erdekruike met verskroeide stompies op die stoep en sê droogweg: “Noordewind se werk.”

“Die slow food-benadering maak perfekte sin hier,” laat val Arnold, “en die intieme, oop kombuis pas my styl. Ek gebruik by uitstek vars, natuurlike produkte, met die klem op detail, styl en aanbieding. G’n kortpadvattery nie. Egtheid is belangrik. Ek beskou myself as ’n veelsydige kok en kan min of meer enigiets berei. En ja, ek is doodgelukkig om spesiale dieetbehoeftes te akkommodeer, maar fiemies met kos staan my nie aan nie! Daar is ’n aspek van ’n oop kombuis soos hierdie wat natuurlik ’n mate van vertoon aanmoedig,” lag hy goedig, “en as akteur benut ek die geleentheid terdeë! Maar die gaste geniet dit ook. Solank die dissipline nie agterweë bly nie.”

Hulle beskou hulself as twee unieke en sterk, individuele persoonlikhede wat nogtans goed oorvleuel. “Ek verf met breë kwashale,” gee Annalise se wederhelf toe, “en sy is meer puntenerig; op die fynste besonderhede ingestel.” “En ek is skamer,” vul sy stilweg aan.

“’n Mens se gemoedstoestand spoel oor na jou kos,” verduidelik Arnold. “Ek onthou so goed toe ek die fliek Babette’s Feast die eerste keer gesien en dít besef het. Ek geniet dit om mense met my kos vreugde en plesier te gee en resultate te sien vir my handewerk. Die hele ervaring moet een van wedersydse genoegdoening wees. As mense met ’n glimlag huis toe gaan, is dit genoeg beloning vir my.”