Kosstories

Leer meer oor vodka

In jou glas

deur Nicolette Waterford

Leer meer oor  vodka

Wat is dit?

’n Kleurlose, gedistilleerde alkohol, gemaak van graansoorte soos sorghum, koring en rog. Vodka kan ook van aartappels, melasse, sojabone en druiwe gemaak word. Dit het geen kenmerkende smaak of reuk nie.

Waar kom dit vandaan?

Vodka het glo in die graanproduserende dele van Pole, Skandinawië, Litaue, Oekraïne en Rusland ontstaan. ’n Drankie baie soos die moderne vodka is tussen 950 en 1100 nC in Rusland gedrink.

En die naam?

 “Vodka” is afkomstig van die Russiese woord “Boдka”, wat as “vodka” uitgespreek word. Dié woord is ’n afleiding van die Russiese woord vir water, naamlik “Boдa”, wat as “voda” uitgespreek word.

Waarvoor word dit gebruik?

Vodka word ook vir ’n verskeidenheid medisinale doeleindes gebruik. In oorloë is dit as ’n antiseptiese middel en selfs as pynstiller ingespan. Dit hou glo ook hoë koors onder bedwang as die pasiënt se lyf daarmee ingesmeer word. En natuurlik hou vodka in koue lande die drinker warm!

Vodka en water

Vawter is ’n verfrissende nuwe vonkelwater-drankie en die enigste van sy soort in SA. Suiwer fonteinwater uit die Franschhoekberge word vermeng met vodka en ’n skeutjie lemmetjie. Dit kom in elegante 300 ml-bottels en die alkoholinhoud is 5,5%, laer as dié van die meeste soortgelyke mengeldrankies. Die naam, Vawter, weerspieël die sinergie van vodka en water in ’n produk wat uitstekend pas by ons moderne leefstyl.