sr1104kos_6_-570x741
Kosstories

Lizz Meiring se pannekoek-konsert

‘Seker so twintig jaar gelede. My pa bel my. Die ouetehuis waar een van sy afgetrede vriende woon, is in groot finansiële moeilikheid. Die inwoners kry bitter swaar. Sy versoek – sal ek gratis ’n solo-show kom doen as fondsinsameling?

lizz meiring lees nou

FOTO Phyllis Green

Ek en Pa reis ver na die klein dorpie.

Vooraf reël ek en my tegnikus alles – hoe groot is die verhoog, die saal? Ons bring gepaste klank en ligte, is daar driefase-krag? Ja, natuurlik is daar driefase krag, kom die verontwaardigde antwoord. Wat dink ons van hulle? Mag ’n klein dorpie wees, maar hulle is darem nie uit die vorige eeu nie.

Ons stel al vroegoggend op, die kaartjies is uitverkoop en ons staan bont om alles reg te kry vir vanaand se show.

In die kombuis van die kerksaal dwaal ’n raakvatter-tannie. Een van daai met die vadoek altyd paraat op die skouer, ’n uitgewaste soliede voorskoot soos ’n wapenskild aan – reg om die menigtes te voer. Sy gaan 500 pannekoeke bak wat hulle ná my opvoering gaan verkoop – ook ter fondsinsameling vir die “oumense”. (Sy sien haarself duidelik nie as bejaard nie)

Vrou-alleen moet sy dit op die kerkkombuis se stoof bak, mor sy, want die ander hier rond (en sy wys beduiweld met ’n draai van die kop) is te lui en te lamsakkig om hul deel te doen.

Ons toets die krag, dis nie driefase nie. Maar ons sal regkom. “Wanneer gaan Mevrou die pannekoeke begin bak?” gaan vra ek in die kombuis. “Ek is net bang die stoof gaan nie werk saam met ons klank en ligte nie.”

Sy kyk my kwaai aan en jaag my uit haar kombuis. Haar beplanning het niks met my te doen nie, snou sy my toe.

Buitendien, ek is ’n skande vir die vrouegeslag dat ek nou wraggies nie eens besef ’n prima-pannekoekbakster sit nie ou rubberige deegsels voor nie – dit moet vars wees. Kraak-kaneelsuiker-vars.

Dis aand, die kerksaaltjie loop vol. Die show begin. Dit loop lekker, die mense luister en lag en leef mee.

Binne die eerste vyf minute van my solo-opvoering verskyn die Pannekoek-Keiserin, vars vadoek op die skouer, groot pan in die hand. Sy staan agter in die saal en stoom deur die menigtes vorentoe. Ek sien haar so uit die hoek van my oog. Hoop teen alle hoop in dat hier nie ’n tornado op my gaan neerdaal nie.

Sy nader die verhoog en slaan hard met die pan op die hout-verhoogvlak. Ons almal wip soos ons skrik.

“Wanneer gaan jy ophou met jou nonsenspratery?” bulder sy. “Jul dêm masjiene trip my stoof! Ek moet 500 bak, maak klaar met jou konsert. Nóú!”

’n Ongemaklike stilte daal oor die propvol saal. Ek besef nou moet ek vinnig ’n oplossing vind.

Iets uit my kinderdae onthou basaartye en tannies met primusstofies. “Het u nie ’n primusstoof nie?” piep ek verskonend. Ek hoor my pa se gedempte lag iewers in die gehoor. Hy weet goed nie ek of my ma weet enigiets van kosmaak nie.

“Ja, maar dis by huis,” blaf sy. “Ek gaan nie nou oor die straat stap en als aandra nie.” Sy kyk uitdagend na my – dis nou pannekoek versus konsert. “Is daar iemand in die gehoor wat bereid sal wees om die dame se primus te gaan haal?” vra ek.

Twee mans staan op, trek hul broeke reg, ook seker maar nie lus gewees vir konsert kyk nie.

’n Lang relaas volg – ons moet wag, die Pannekoek-Keiserin gaan net eers haar sleutels in die kerk se kombuis haal.

Ons wag. Sy kom terug, verduidelik, dreig, beveel waar wat in haar kombuis is, dat die twee gewillige slawe niks mag deurmekaar krap nie, sommer nog meel en olie moet saambring en dat haar hond onder geen omstandighede uit die jaart uit mag hardloop nie.

Ons luister na die magdom reëlings in stille eerbied. Niemand durf waag lag nie. Ek byt my lip soos ek Pa se gedempte diep lag hoor weerklink. Die Pannekoek-Keiserin stoom terug kombuis toe.

“Ek gaan nou van die verhoog af, dan kom ek terug en begin van voor af,” fluister ek vir die gehoor. En so het ons konsert gehou vir die behoeftige bejaardes – die volle konsert. En vreemd, ná die tyd was ek vir die eerste keer in my lewe niks lus vir pannekoek nie.Tot vandag toe eet ek dit nooit sonder om ’n knop in my keel en ’n onbedaarde lagbui te kry nie.

Wie kan nee sê vir pannekoek?’

Klik hier vir Herman se Pannekoek met karamelsous resep

sr1104kos_6_-570x741