Screen Shot 2016-05-12 at 6.59.08 AM
Kosstories

Maak jou eie kale-tjips

Kale, krulkool of boerekool, noem dit wat jy wil, dié groen blaar met sy kenmerkende kartelrande is nou groot nuus. Nou kuier Herman Lensing, SARIE se kosredakteur die week vir Inspirasiekos met SARIE (Via, DStv-kanaal 147) in die Robertson-vallei by Tierhoek Organics om te gaan leer wat die storie agter dié kool is …

Lees HIER meer oor krulkool

Screen Shot 2016-05-12 at 6.59.08 AM

Kale-tjips met tuisgemaakte mayonnaise

genoeg vir 4

• 2 eiergele
• 45 ml korrelmosterd
• 250 ml kanola-olie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• sap en skil van 1 suurlemoen
• olie vir diepbraai
• 6 krulkool-blare (kale), gewas en goed drooggemaak met kombuispapier

Klits eiergele met mosterd. Terwyl jy klits, gooi olie geleidelik by en hou aan klits tot dik en romerig. Geur goed met sout en peper. Voeg suurlemoenskil en sap by. Verhit olie vir diepbraai. Braai krulkool tot bros – sowat 1 minuut. Dreineer op kombuispapier. Sit voor saam met mayonnaise.

Screen Shot 2016-05-12 at 6.59.50 AM

Handgemaakte gnocchi met krulkool-roomsous

genoeg vir 4

• 4 (400 g) aartappels, geskil en gaar gekook
• 1 eier
• 280 g (500 ml) koekmeel
• sout en varsgemaalde swartpeper
KRULKOOL-ROOMSOUS
• 30 ml olyfolie
• 30 ml botter
• 1 ui, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 10 ml heel komynsaad
• 300 g dik spek (kassler-tjops), in blokkies gesny
• 12 krulkool-blare (kale), in repies gesny
• 250 ml room
• parmesaankaas vir voorsit

Druk die gaar aartappels deur ’n sif tot ’n fyn puree. Voeg eier en meel by en meng tot ’n hanteerbare deeg. Voeg nog meel by as dit nodig is sodat dit nie meer klewerig is nie. (Dit moet soos deeg lyk.) Geur goed met sout en peper. Deel deeg in vier en bestrooi ’n werkvlak met ekstra meel. Gebruik jou vingerpunte en rol deeg in lang silinders van sowat 2 cm dik uit. Sny met ’n skerp mes in gnocchi-porsies van 2 cm elk. Gebruik ’n vurk se punt om patrone op te druk. Laat ’n groot pot water kook en gooi gnocchi in die water. Sodra dit dryf, is dit gaar. Dreineer en hou eenkant.
MAAK SOUS Verhit olie en botter in warm pot en braai uie en knoffel tot begin verbruin. Voeg spek en komyn by. Voeg gesnyde krulkool, aftreksel en room by. Verlaag hitte en prut tot krulkool gaar is. Maak met staafmenger fyn tot puree. Voeg gnocchi by en rasper parmesaankaas oor. Sit warm voor.