img_0159marita_portret_1
Kosstories

Marita van der Vyver gesels oor seisoenkos

Watter groente moet in die herfs in jou tuin wees?

In Provence is Herfs die tyd vir sampioene en pampoene.  Sampioene kan jy natuurlik nie plant nie, jy moet hulle in die bos gaan soek, so lekker soos skattejag vir ‘n kind. Maar vat iemand saam wat ‘n giftige sampioen kan uitken, anders kan dit gevaarlik raak.

Sonder watter kruie heboort geen huis te wees nie?

Tiemie, want dis die geur van sonskyn. My Alain kan nie kook sonder tiemie nie. Roosmaryn, want dit maak boonop ‘n pragtige blommetjie. Pietersielie, basilie, koljander en vele ander groen kruie wat jy in potte op die vensterbank kan plant as jy dit nie in die tuin het nie.

Wortels uit die grond proe die heel beste

Net so rou, in lang repies gesny, met aïoli, Provensaalse knoffel-mayonaise.

Lamsboud moet altyd…

Vir Paasfees voorgesit word! Tradisioneel saam met vars, romerige boontjies.

Die beste kos-ontdekking van 2010?

Eend-hartjies! Ek’s nie mal oor afval nie, maar toe ons vir die TV-program MaritaKook deur Frankryk moes reis, is daar in elke streek vir ons afval-produkte voorgesit: skaappense, haanballetjies en ander onnoembare dele. En tot my verbasing is gebraaide eend-harte toe smullekker!