sk1012sjefs_5_
Kosstories

Dít eet sjef Marthinus Ferreira tuis

DW Eleven-13 Restaurant in Dunkeld-Wes se stylvolle leefstylwinkelsentrum is die nuwe gonswoord in koskringe. Hier leef sjef-eienaar Marthinus Ferreira sy passie vir perfeksie uit met ‘n onverstoorde kalmte. Sy moderne bistro-styl is ‘n gemaklike balans tussen trooskos en sofistikasie.

Met die Institute of Culinary Arts as alma mater en ondervinding by Michelinster-restaurante en groot name soos Gordon Ramsay en Heston Blumenthal op sy kerfstok, verwag jy dat hy na-ure ook doelgerig poleer aan sy fyn palet. Maar sy geheime happies het met truffels en kaviaar niks te make. Hy haal ‘n blikkie boontjies in tamatiesous (baked beans) van sy spensrak af en ‘n blikoopmaker uit die laai . . . Dié liefde vir blikkiesboontjies op roosterbrood is ‘n oorblyfsel van die dae toe hy in Londen gewerk het. Die ete word saam met ‘n yskoue Castle Lite geniet.

Terwyl sy gaste aan sy geroosterde kwartel met framboos-jus weglê, slyp hy reeds sy tande vir sy persoonlike middernagfees van Weet-Bix met warm melk en botter. “Dit kom van my koshuisdae af. Die koshuiskos was ellendig, maar die stafies graankos het altyd daarvoor opgemaak: jy’t geweet hoe dit gaan proe.”

Al is Marthinus se kookstyl geanker in die Weste, slaan sy kitskosbegeertes ‘n Oosterse rigting in, soos die Chinese wegneemkos van Lucky Moo in Parkhurst. Sy gunsteling is die Kung Pao-hoender in klappermelk met bekbrand-rissie. En hy bieg oor sy beheptheid met twee-minute-noedels. “Dit vat regtig net twee minute en ek hoef niks anders as water te kook nie!”