Kosstories

Mauritius

Paradys van geur en smaak

 

 

Dis die perfekte vakansiebestemming: Eilande oorgroei deur bougainvilleas, palmbome en suikerriet, omringdeur ‘n turkooisblou see en pragtige wit strande. En natuurlik die geurigste kos. SARIE KOS was daar . . .

‘n Koel drankie by ons aankoms by die hotel Le Touessrok aan die Ooskus van Mauritius laat ons egter van die hitte vergeet. Dít en al die bederwe wat van Le Touessrok dié spoghotel op die eiland maak.

Ons het 48 uur om soveel smake as moontlik te ervaar. Waar begin ‘n mens? Die eerste aand eet ons in die hotel se restaurant saffron. Dis ‘n indiese restaurant met ‘n verskil, want hier word die geregte met groot sorg op die nouvelle cuisine-manier voorgesit.

Die volgende dag ontmoet ek die hotel se hoofsjef, Barnaby Jones. Hy kom van Jamaika en sy liefde vir kerrie-geregte val perfek in die smaak van vakansiegangers by dié hotel. Hy berei spesiaal vir sarie KOs ‘n paar Kreoolse geregte, sy spesialiteit. elkeen word met wonderlike speserye gegeur en die smake is hemels – veral die vis.

Dié aand eet ons by die restaurant Barlen’s, ook in die hotel. Dis ‘n wonderlike ervaring, want jy kry die kans om verskeie geregte in klein porsies te beproef. Jy kan tot 8 geregte bestel!

Barnaby reël ook dat ek en Phyllis saam met sjef raj Dawkee na die varsproduktemark in die hoofstad, Port Louis, gaan. Die mark is ‘n mengelmoes van bedrywighede, met vars groente en vrugte, rys, speserye en kruie. Daar is ongewone produkte soos okra, lang, maer, blinkpers eiervrugte, trosse vars lietsjies en mandjies vol lemmetjies. Die geur van vars koljander en sitroengras meng met dié van die hope gedroogde brandrissies – pasmaats vir die Kreoolse kerries wat hier so gewild is. sakke met verskillende soorte rys sorg vir mooi foto’s. Wanneer jy iets koop, word dit nog met ou skale afgeweeg. Die geure van die mark – veral van vars roti – laat jou mond water. Dis behoorlik aptytwekkend. Ons drentel drie uur lank tussen die stalletjies rond voordat ons terugkeer hotel toe.

Vir ons laaste ete word ons behoorlik bederf: Net vir ons word daar gebraai in een van die private villas waar sterre soos Madonna al vakansie gehou het. Die nagereg is die hoogtepunt: Piesangs op die kole gebraai en afgerond met verruklike klapper-roomys . . .

Besoekwww.letouessrokresort.com virmeer inligtingoor die hotel.