sk1204roomys3
Kosstories

’n Happie Hemel

Vertel meer van jou onderneming en die ontstaan?

Kleintyd al het ek gedurig nuwe kombinasies en resepte in my ma se kombuis beproef. Ná matriek het ek by die Prue Leith Chef’s Academy my Grande Diploma in Culinary Studies and Wine verwerf, en daarna by die Mount Nelson- en Twaalf Apostels-hotel onderskeidelik onder Rudi Liebenberg en Henrico Grobbelaar gewerk. Met sulke sjefs as mentors kon my passie vir kos net floreer! Die besef dat mense ’n behoefte het aan vars, egte, natuurlike produkte sonder kunsmatige byvoegings en preserveermiddels het my laat waag om my eie reeks roomysprodukte te ontwikkel. En só is Cold Gold gebore. Ek gebruik net die beste bestanddele en sover moontlik organies gekweekte vars vrugte en goeiegehalte-sjokolade, en geen kunsmatige kleur-, geur- of preserveermiddels nie. My produkreeks sluit roomys en sorbet asook vetvrye, suikervrye en suiwelvrye opsies in. Ná baie versoeke het ek ’n 100% natuurlike, bubblegum-geur roomys ontwikkel. Verder is daar enigiets van die klassieke vanieljeroomys en varsvrugtesorbets tot die meer eksotiese heuning-ensaffraan, gerookte-Kersspesery-neute; sjokolade-, peer-, heuningkoek- en kasjoeneute; en kasjoeneut-en-witsjokolade-nougat.

Hoeveel geure roomys maak jy?

Op die oomblik het ek 175 geure en dit raak weekliks meer! Partykeer gaan my brein in creative overdrive en dan groei my reeks produkte sommer met 15 nuwe geure in een week!

Wat maak jou roomys anders?

Ek gebruik net natuurlike produkte wat ek daagliks op plase kry. Die hoofbestanddele is organiese Jerseymelk, room, eiers en ’n bietjie suiker. Die sorbet word feitlik net van vrugte [98%] gemaak – die titseltjie suiker is vir tekstuur.

Waarom het jy roomys gekies?

Ek wonder partymaal self, maar ek dink dit fassineer my nog altyd. Daardie gevoel van iets kouds op jou tong, met die geur wat al hoe meer ontwikkel terwyl dit smelt, is ’n absolute smaaksensasie! Ek glo dat ’n mens se paaie vir jou uitgelê word, want in die tyd toe ek oor my eie onderneming begin dink het, het ek gesels met ’n jong meisie wat tee by een van die kosmarkte verkoop. Ek het toe dadelik gedink aan roomys en soveel nuwe idees het so vinnig bygekom dat dit my die moed gegee het om dit te waag.

Waar kom jou liefde vir roomys vandaan?

Kleintyd het ek ALLES gevries – van proteïenskommels tot jellie – net om te kyk wat gebeur! My pa is ook baie lief vir roomys en natuurlik wou ek graag iets maak waarvan hy sou hou, want hy is nog altyd my held. Miskien het die feit dat ek in Windhoek grootgeword het ook iets daarmee te doen – die somers is lank en gloeiwarm. Ek het op 12 my eerste bessie-sorbet gemaak en op 16 was my Kerswens ’n klein Krupps-roomysmasjientjie – die soort waar jy die bak oornag in die vrieskas moet koud maak en die volgende dag kan jy een roomysmengseltjie maak.

Van watter geur hou jou klante die meeste?

Beslis die Chocolate Trinity! Dis die eindproduk van ’n spesiale tegniek waar ek o.m. die beste hoëkakaosjokolade gebruik om die roomgladste tekstuur te kry. In dié sjokoladefantasie proe jy eers vanieljegegeurde witsjokolade, gevolg deur die ryk, effense bitter van donkersjokolade, en dan talm die kombinasie van die twee (wat soos die beste melksjokolade proe) op jou tong!

Wat is die geheim van jou roomys?

“Perfection is all the little things done well with love”– dís my motto. Ek gebruik net die beste produkte en tegnieke en sit natuurlik baie liefde by.

Waar kan ons Cold Gold koop?

Op die oomblik elke Sondag van 10:00 – 15:00 by die Blaauwklippen-mark naby Stellenbosch, en op

Saterdae van 09:00 – 14:00 by die City Bowl Market in Hoopstraat, Kaapstad. Mense kan my ook kontak by 074 182 5510 of ’n e-pos stuur na vzjanine@hotmail.com. Cold Gold is ook op Facebook en my webwerf is www.coldgold.co.za. Bestellings hoef nie beperk te word tot die geure op die webwerf nie – ek glo enigiets is moontlik en ek hou van ’n uitdaging.

Wat is jou toekomsplanne?

Op die oomblik is dit nog ’n eenvrou-saak en my woonstel raak nou regtig te klein. Ek soek ’n geskikte perseel . . . asook ’n pop-up-restaurantjie so nou en dan waar gaste groot verrassings kan verwag! Ek ondersoek ook opsies om helpers te kry, want ek sal graag vroue wil help om vaardighede te ontwikkel en hulle só bemagtig.

Verkoop jy net roomys of is daar ook ander produkte?

Ek maak ook glutenvrye produkte (fabelagtige koekerigheidjies) vir ’n gesondheidskoffiewinkel op Stellenbosch en as ek kans kry, help ek graag uit as deeltydse sjef by gesellighede of kos-extravaganzas. Die roomysonderneming hou my nou voltyds besig, maar ek sou ’n glutenvrye en gesondheidsreeks ook wou begin.