img_6692_300w
Kosstories

‘n Maklike neut om te kraak

Die kraak-breek-knars van neute gee enige gereg, soet of sout, tekstuur. Fênsie en baie gesond! Hier is jou 1-2-3-kombuisgids vir neute.

As kind was neute in ons huis eintlik half “verban”. My pa eet geen neut nie, hy kan dit van ‘n myl ver af uitsnuffel, sy neus optrek en dan sy kop skud. Ek onthou sy kosblik met sy werkstoebroodjies wat partymaal onaangeraak teruggekom het – hy kon glo proe as my ma vir ons kinders grondboontjiebotter-toebies op dieselfde broodplank gemaak het …

Dit was ‘n verlore stryd en die res van die gesin het sommer begin aanvaar dat hy allergies vir neute is (al was dit net ‘n geestelike allergie).

Daarom het ek in verwondering gestaan en kyk toe ek op 18 die eerste maal die lemmetjiegroen juweel, pistasieneute, uit sy amper-wit doppie sien kom. My kennis van neute was immers beperk tot die versteekte botteltjie Yum-Yum-grondboontjiebotter dóér agter in die koskas.

Die wêreld het vir my oopgegaan! Ek het geleer van die wasagtige makadamia-neut wat mense in ‘n sjokolade-brownie-beslag toevou; appels, seldery en okkerneute (die neut wat half soos ‘n gebreklike seedier lyk) vir ‘n waldorfslaai, en, my gunsteling, amandel-vlokkies wat ek graag oor my pasta strooi – dan verbeel ek my sommer dis sneeuvlokkies wat ek oorsprinkel!

Ek het ook eers onlangs uitgevind dat dit  byna net ons gesin is wat koekstruif en krismiskoek sonder neute eet!

Ek moes eenvoudig hierdie kennis wat ek so onlangs eers opgedoen het, deel.

Liezl se 1-2-3-kombuisgids vir neute

Leer ken neute

img_6692_300wPistasieneut: Hierdie lemmetjiegroen juweel van Asië het ‘n kenmerkende smaak. Dit word meestal in soet geregte soos nougat en roomys gebruik. Die neut werk, volgens my, die beste met donkersjokolade.

Wenk: Hou pistasieneute in die dop tot jy dit gebruik. Só bly hulle langer vars!

 

img_6697_300w

 

Okkerneut: Hierdie neut, soms ‘n bietjie olierig op jou palet, meng goed met ‘n soet item (soos ‘n piesang en karamel) om die ietwat bitter smaak weg te steek. ‘n Wen-kombinasie vir my is as jy dit met spek en stroop oor jou plaatkoekies strooi.

 

img_6711_300w

Kasjoeneut Dit is sinoniem met die Asiatiese kookkuns. Enige stir fry, groente of sojasous werk besonders goed saam met kasjoes. Dié neut kan ‘n bietjie hitte weerstaan. ‘n Kombinasie met branderigheid soos rissie, paprika of selfs ‘n ligter soetrissie werk uitstekend. Garneer met ‘n bietjie gekapte kasjoeneute en vars koljander.

Wenk: Pasop om gesoute kasjoeneute vir kookdoeleindes te koop. Gooi eerder self sout na smaak by om die hoeveelheid sout te beheer!

img_6709_300w

Makadamia-neut: Dié romerige neut, soms ‘n bietjie ryk, word dikwels as ‘n meer duursame neut beskou. Mense gebruik makadamias meestal vir soetgoed, omdat dit perfek met witsjokolade werk. Probeer dit ook saam met iets souts, soos ‘n ligte kaas of groen appels.

img_6701_300w

Amandel Ek dink die beskrywing van die beloofde land moes dalk eerder “die land van melk, heuning en amandels” gewees het. Nie net omdat dit ‘n goeie kombinasie van geure is nie, maar ook omdat die amandel vir my ‘n soort “rykdom” het. Die lys van bestanddele waarmee dié neut kombineer, is heeltemal te lank, maar mý gunstelinge is botter, heuning, melk en groen groente (bv. aspersies of broccoli).

Liezl se onthou-dinge

Om die velletjies van pistasieneute en amandels af te kry moet jy dit in kookwater blansjeer. Dompel die neut vir 30 sekondes tot ‘n minuut in kookwater, dreineer en plaas in koue water. Haal dan die neute uit en vryf tussen jou vingers of ‘n lappie om van die velletjies ontslae te raak. Vir ‘n paar ekstra sent kan jy ‘n reeds verwerkte pakkie neute koop!

2. Neute en gesondheid

Mense skrik soms vir neute omdat dit met olies geassosieer word. Laat vaar al jou vrese! Onthou dat hierdie olies die gesonde olies (LDL) is, soos dié wat jy in ‘n avokado sou kry. Amandels het byvoorbeeld geen cholesterol in nie, maar is propvol vitamien E.

Vir diegene wat dieet, is 30 g Brasiliaanse neute ‘n perfekte peuselhappie tussen etes om jou lank versadig te laat voel!

Liezl se onthou-dinge

Onthou om altyd ‘n neut in ‘n warm oond of pan te rooster – dit bring die olies, en ook meer smaak, in die neut uit!

3. Kook met neute

Ek het deur die SARIE-argief gaan blaai, en hier is my gunsteling-resepte met neute:

Lamsboud met pistasieneut-en-kruiekors

Appel-en-okkerneutslaai

Maklike hoenderslaai

Nougat

Baba-wortels gebak in heuning met amandels

Pleks dat jy dié week na jou grondboontjiebotter-houer gryp, probeer eerder ‘n bietjie meer fênsie met neute wees!

Lekker kook

Klits-en-klets-kok

Liezl

  Volg my ook nou hier en kook saam:Twitter: @KlitsenKletsKokFacebook: Klits en Klets KokInstagram: klitsenkletskok