Kosstories

‘n Perfekte dag op Muratie

Reën of hael, bakkende son of tierende wind. Op Muratie is dit altyd ’n perfekte dag. Dalk is dit die wynplaas se verruklike skoonheid of die statige ou werfgeboue onder die wingerde wat teen Simonsberg se hange klou vir al wat hul werd is. Ek dink dis die gasvryheid. Muratie is ’n plaas met ’n hart; plek met ’n siel.

Die siel wat dit vandag het, het egter met hartseer begin. In 1685 het Simon van der Stel, Kaapse goewerneur, die grond aan die Duitse soldaat Lourens Campher gegee. Campher het die plaas met ’n gebroke hart aanvaar: Sy geliefde, die swart slavin Ansela, moes in die Kaap opgesluit bly waar sy in die Kompanjiestuin gewerk het. Hier het Lourens haar besoek, en saam het hulle gedroom. Die droom is in 1699 bewaarheid toe Ansela vrygelaat is en Lourens haar en hul drie kinders gaan oplaai het om ’n nuwe lewe onder die Stellenbosse berge te begin.

Muratie behoort sedert 1987 aan die Melck-gesin, die tweede span Melcks wat hier nesskop. Martin Melck, Duitse sakeman en grondheer van weleer, het die plaas in 1763 besit. Sedertdien het die skilder George Canitz onder die eienaars getel, by wie se dogter Ronnie Melck Muratie in 1987 gekoop het. Onder Kaapse wyn- en kosliefhebbers het wyle Ronnie en sy vrou, Annatjie, min bekendstelling nodig. Ronnie was een van die wynbedryf se legendariese raconteurs, wie se vernuf om partytjie te hou net oortref is deur sy intense kennis van wyn en liefde vir sy familie en vriende.

Van Suid-Afrika se beste rooiwyne word hier gemaak. Op tradisionele maniere waar die wynmaker die wyn voel en saam met die sap leef, pleks van om in ’n elektroniese ruimtetuig te staan en rekenaarknoppies te druk. Annatjie, wat tans in die herehuis op Muratie woon, kom oorspronklik van Britstown diep in die Karoo. Haar vaardigheid as kosmaker en ingebore talent om te onthaal en mense tuis te laat voel, laat ’n indruk op enigiemand wat al in haar eetkamer of sommer in die kombuis aangesit het. As die besoek op ’n Sondagmiddag geskied, is dit saam met die familie. Daar is die vier volwasse Melck-kinders en agt kleinkinders, en gewoonlik ’n paar goeie vriende. “Ons hoef darem nie in skofte te eet nie,” vertel Kim Melck, wat getroud is met die oudste seun, Rijk – ook die hoofbestuurder van die plaas. “Die kinders eet in ons huis en die volwassenes in die hoofeetkamer met sy reuse-tafel wat plek vir 18 het.” Kim, self ’n kosfoendi wat as spysenier werk, sal saam met Annatjie agter die potte inspring om die spanne familie en gaste te voer.

Om in dié herehuis se kasarm van ’n kombuis, kompleet met vuurherd en yslike gasstoof, te kook, kan net ’n voorreg wees. “Oud ontmoet nuut!” spot Annatjie. “Ek glo daarin om die basiese dinge reg te doen en seker te maak van jou bestanddele. En dan moet ’n mens nie die waarde van ervaring onderskat nie.” Kim hou van eksotiese geure, soos die Thaise botterskorsiesop wat sy dié Sondag as voorgereg voorsit. Sy eksperimenteer ook graag met nuwe bestanddele en kookstyle. “Maar nes die Melcks is ek versot op goeie, basiese kossoorte wat behoorlik gaargemaak is,” sê Kim. Wat ’n mens bring by twee gunsteling-geregte wat Annatjie sal voorsit as die etensuurklok op Muratie gelui word: ’n heel stuk potgebraaide beesvleis en skaapafval. Vir lg. is Annatjie besonder bekend onder dié wat geleer het om afval te waardeer. “As Karookind het ek my tande op afval gesny,” vertel Annatjie. “Dis vir my besonder lekker om ’n gereg wat my so na aan die hart lê met vriende te kan deel – of met besoekers wat in die wintermaande afval in ons kelder kom eet.” Sy maak die oond oop en die skottel afval lê goudbruin, lymerig en aanloklik met stukke wit aartappel wat soos ganseiers vir jou loer.

Die potgebraaide bees is so groot soos ’n skoenboks. Halfgaar skywe word afgesny en elke bord word met ’n skyf been gegarneer waarin ’n sagte knoppie murg op die eter lê en wag. Met haar geurige Thai-sop uit die pad is Kim met haar “gunsteling-gereg in die wêreld” doenig. Dis ’n hoender, gestop met pietersielie, witpeper, uie en broodkrummels, wat in ’n baksakkie gestop word voor dit oond toe gaan. “Dit is geurig en die hoender sál van die been afval!” Nou, synde van Ierse afkoms, weet ek dat die aartappel een van die belangrikste kossoorte ter wêreld is. As jy egter van my verwag om ’n aartappel op sy eie te eet, moet dit iets besonders wees. En hier op Muratie maak Kim die perfekte braai-aartappel. Goudkleurig. Bros. Kraakkors en smeltend in die mond. “Ek kook eers die aartappels en braai dit dan heel in diep olie,” sê Kim. “Omdat dit die kinders se gunsteling is, weet ek ek is op die regte pad!”

Soos op alle goeie wynplase, weet die Melcks van Muratie dat ’n mens nie van goeie kos, geselskap en vriende alleen kan lewe nie. Wyn is die ander onontbeerlike element as dit by die Sondagmaal kom, en dit is Rijk se taak om die regte wyne by elke gereg te laat pas. “Die Thai-sop is vol speserye, so die Muratie Chardonnay is die perfekte pasmaat,” vertel Rijk terwyl hy die glase volmaak. Vir die potgebraaide beesvleis en sy geurige sous word die plaas se spogwyn uitgehaal, naamlik die Ansela. Dit is ’n versnit van die klassieke Franse rooidruifsoorte cabernet sauvignon, merlot en cabernet franc. En Kim se hoender smag na die ligte rooivruggeure van die pinot noir. “Ons maak ons wyne vir mense om saam met ons of saam met mekaar aan tafel te geniet,” sê Rijk. “Soos die kos, is daar nie juis komplekse resepte of fieterjasies nie. Die wyn praat vir homself.”

En dan is jy oorgelaat aan jou vriende. En die tafel kreun, en die stories laat almal lag. Buite begin die son agter die eeue oue eikebome sak. Die dag is amper verby, maar môre is nog ’n dag. As jy dan op Muratie is, gaan dit immers weer ’n perfekte een wees.