FOTO: Clinton Lubbe

Kosstories

Nataniël se Kersspyskaart

Vanjaar hou hy ’n la-a-a-ng Kersfees – vier vieringe oor vier (oor meer) dae. So rek Nataniël sy gunsteling-tyd van die jaar uit.

Jy kan ook soos Nataniël eet dié Kersfees. Hier is die respete vir sý feesdag-spyskaart

Biltong-en-aarbeislaai

Sny die biltong en aarbeie in dun skyfies. Bedruip met balsem-afkooksel (reduction), geur met swartpeper en sit voor.

Lamsboud

Maak twee dae voor die tyd gaar in appelsap, knoffel, gemmer en wyn. Net voor etenstyd sny jy dit in papierdun skyfies. Verhit sous en gooi dun skyfies vleis in die sous wat prut. Sit dadelik voor.

Juweelrys

Maak rys gaar in wyn (bekend as die arm man se risotto). Maak konfetti van tamaties, komkommer, rooi-uie, agurkies en pietersielie en roer by die warm rys. Druk vas in teekoppies en keer uit op opdienborde.

Roomys-bombe

Laat 2 liter vanieljeroomys sag word. Breek een gemmerkoekie en ’n snytjie vrugtekoek daarin. Meng deur. Skep in ronde mengbak en vries. Keer uit op ontsettende duur bord en versier met druiwe en vars bessies.

Ontbyt

Sagte roereiers gaargemaak in botter (geen room of melk nie) en voorgesit met sterretjie-brood (uitgedruk met ’n koekiedrukker). Versier met kaviaar en grasuie (chives) en sit dadelik voor.

Vir almal wat nie vrugtekoek eet nie:

Rockefeller Torte

250 g donkersjokolade, gesmelt en geklits by 6 eiergele en 1t vanielje-ekstrak. Vou 12 eierwitte (baie styf geklop met 1/2 koppie strooisuiker) by en skep in ’n ronde koekpan. Bak by 180 ˚C tot dit opstyg en begin bars, so ongeveer 30 minute. Laat afkoel. Sneeu toe met ’n berg versiersuiker, sny in dun skyfies.

Desember Nataniël

 

Lees hoe hou Nataniël Kersfees in ons Desember-uitgawe.