sr1012seekos_1_
Kosstories

Oeps! Verkeerde byskrifte by Desember-nageregte. Só moet dit wees.

Die byskrifte van die witsjokolade-yskastert op bl.96 en dié van die karamel-haselneut-semifreddo op bl. 93 in die Desember-uitgawe is per ongeluk omgeruil. Hier is die korrekte resepte by die korrekte foto’s:

Witsjokolade-yskastert (foto regs)

(6 porsies)

• 1 x 200 g-pakkie Marie-beskuitjies
• 80 g botter, gesmelt
• 5 velle gelatien
• 100 ml yswater
• 125 ml room
• 250g mascarpone
• sap en skil van 1 suurlemoen
• 100 g witsjokolade, gesmelt
• 260 g suiker
• 160 ml water
• 4 eierwitte
• 100 g donkersjokolade, gesmelt
• 250 g vars bessies

Verwerk koekies in ’n voedselverwerker tot fyn. Voeg botter by en meng tot die tekstuur van klam seesand. Voer ’n tertpan van 30 x 20 cmmet die mengsel uit en laat stol in yskas.

Week gelatien in yswater tot sag en gooi water weg. Bring room en mascarpone tot kookpunt en voeg sagte gelatienvelle by. Verwyder van hitte en roer tot gesmelt en gladde mengsel vorm. Voeg suurlemoensap en -skil by. Meng gesmelte witsjokolade by. Sit suiker en 160 ml water in ’n mediumgroot pot. Roer tot gesmelt en bring tot kookpunt oor hoë hitte.

Klits intussen eierwitte tot sagte punte vorm. Gooi warm suikerstroop stadig by terwyl jy klits en hou aan klits tot mengsel koud is. Vou eiermengsel by roommengsel en gooi in tertkors.

Gooi gesmelte donkersjokolade in dun straaltjie oor. Gebruik ’n mes en trek growwe patrone daardeur. Plaas in yskas om te stol. Sit voor saam met vars bessies.

Karamel-haselneut-semifreddo (foto op bl.93)

 

Karamel-haselneut-semifreddo

Dié nagereg smaak nes ’n Magnumroomys – in ’n pan! Min moeite en lekker vir die somer. Sit voor saam met vars vye.

(6 porsies)
• 60 ml suiker

• 20 ml water

• 200 g haselneute
• 2 eiers

• 3 eiergele
• 200 g strooisuiker

• 100 g witsjokolade, gesmelt
• 500 ml room

Sjokoladesous
• 250 ml room

• 100 g donkersjokolade, grofgekap

Sit suiker en water in ’n mediumgroot pan. Bring tot kookpunt en laat stadig prut tot ’n goue karamel vorm. Voeg neute by en meng liggies deur. Keer uit op ’n bakplaat wat gespuit is met kleefwerende sproei en laat afkoel. Sit in ’n voedselverwerker en verwerk tot growwe krummels. Plaas eiers, eiergele en strooisuiker in ’n mediumgroot glasbak wat stewig op ’n pot sal pas. Gooi water in die pot en bring tot kookpunt.

Sit glasbak op pot, maar moenie dat kookwater aan glasbak raak nie. Stel plaat op matig terwyl jy die eiers en suiker met ’n elektriese handklitser klits. Hou aan klits tot dik en skuimerig, sowat 10 minute. Vou by witsjokolade in. Klits room tot sagte punte vorm en vou by eiermengsel in. Vou growwe neutmengsel in.

Voerbroodpan van sowat 11 x 21 cmmet kleefplastiek uit en gooi mengsel in pan. Vries oornag. Maak sjokoladesous deur room tot kookpunt te verhit. Gooi oor gekapte donkersjokolade en roer tot glad. Keer gevriesde roomys uit op opdienbord. Garneer met gekoopte sjokoladeskulpe en gooi sous oor. Sit voor.

WENK: Kyk by jou supermark se lekkergoedafdeling vir skulpe.