sk1007rubriek01
Kosstories

Om die goeie Geskiedenis te eet

Op die eerste ware winternag van die jaar stuur ek op my Facebook-blad ‘n versoek die kuber-uitspansel in: “Praat met my oor boerekos. Laat weet my hoe boerekos jou hart en smaakkliere raak.” Vir dae is my Facebook-inskrywings ‘n feestafel gedek vir ‘n virtuele wêreld. Soggens knibbel ek aan die offertjies wat deur die nag in my e-pos beland het: kaiings en
gebakte eier, suurdeegbrood met nastergalkonfyt, skaapboud en soetwortels (dis wortels gekook saam met ‘n jong vyeblaar), en bonesop met blokkies varkvet wat bo-op dryf. Tussen die gemmerstoompoeding en mieliepap deur verlang metromanne in my aanlyn-koskringetjie plaas toe, daar waar skape skemeraand blêrend kraal toe stap.

Om in die nag op die internet oor kos te praat is ‘n intieme storie. Wanneer mans oor boerekos praat, word hulle so week soos baba-hondjies wat maag na bo hul kwesbaarheid ontbloot.
Daar word verlang na oumas en nonnas en tant Alies en ant Toeks. Selfs terwyl hy in die befaamde restaurant Els Quatre Gats in Barcelona (eens Picasso se kuierplek) aan heerlike kos knibbel, skryf vriend Stephen Fourie, bly die lus vir boerekos sy reismaat.

“Die lekkerste van boerekos is dat ‘n mens altyd twee borde eet. Die tweede bord is die lekkerste, want nou’t jy jou honger gestil en skep jy net kos in wat daai dag vir jou die beste proe.”

Die Evas reageer met ‘n versigtigheid, so asof hulle weet dat hul droomlys boerekosgeregte net werklikheid kan word as hulle self inspring. Boerekos val nie uit die lug nie; iemand moet
dit maak. En boerekos vra geduld. Dis net tyd en toewyding wat groenboontjiebredie met aartappeltjies – soms ‘n stukkie skaapvleis en altyd met witpeper – so kan laat deurkook tot ‘n lieflike moeserigheid. Boerekos word nie gou-gou tussen 7de Laan en sewe-uur se nuus gemaak nie.

Ek lees van Andries en Minette Fourie se hunkering na melkkos mét kaneel en suiker, doekpoeding, koue turksvye (nie kos nie, maar darem), gestoofde perskes, karamelpatats, stomende Hubbard-pampoen, gemmerbier en soetkoekies. Mikrogolfoonde en ontwerperskombuise val vreemd op die tong saam met ouma-kos, soos Annelie Rabie hierdie kultuurkos noem. Daarom kook sy haar boerekos op ‘n Dover-stoof: strooppatats; stokvis vars gebak ná dit op die jetty gekoop is, voorgesit met sagte kapokaartappels. Daar prut tamatiekos – ni tamatiebredie nie; kerriekos – nie net kerrie nie.

In goeie boeretradisie is dit kos met baie name. Huiskos, kookkos, trooskos, Ma-kos, plaaskos, sielskos, Karookos en padna-‘n-man-se-hart-kos stoom my rekenaarskerm op. “Ek verlang nou na my Ouma Rabie van die Strand. Sy het ‘n skotteltjie gehad vir elke gereg,” is die een se hunkering om die goeie geskiedenis weer te kan eet.

Boerekos gedy nie sonder sy voorwaardes nie. Jy kry net boerekos waar daar liefde is, reken kosvriend en kunstenaar Theo Kleynhans. “No love = no boerekos. Selfs die antie wat vir die oom keelvol is, kook steeds boerekos. Dis die antie wat moed opgegee het wat die River Café-kookboek nader trek,” skerts hy. Hy glo boerekos is so eerlik dat jy nie om ‘n bord van dié
eetgoed kan lieg nie. Die botter raak galsterig, die sous raak klonterig en die sout kruip in die aanbrandsels weg.

Al lewer die boerekos-tradisie nie geregte met eksotiese name soos Imam Bayildi (‘die imam wat swymel’) op nie, is ons geseënd met Die Hartseer Tert, Jan Tuisbly se Poeding of Japie se Gunsteling.

Begeesterd loer ek by ‘n boerekos-webwerf in, maar stik verontwaardig toe ‘n Niknaks-broodjie voor my opduik. ‘n Boerekos-puris was ek nog nooit. My ma se boontjiesop word maklik internasionaal gemaak met Italiaanse varkworsies; haar sewe-uur-skaapboud Marokkaans gegeur met harissa-smeersel. Maar Niknaks en boerekos in een sin? My hart en verstand
protesteer ewe luid teen die verraad.

Vir troos keer ek terug na my Facebook-muur en loer in Theo se lou-oond. Almal weet dat dit net boerekos – kookkos – is wat in ‘n lou-oond wag met ‘n ander bord bo-op. Almal hou asem op: wat is dit? Daar’s dalk frikkadelle. En as jou neus jou nie bedrieg nie – blomkool met neutmuskaat.

  • ryna

    halo , help asb ek soek ‘n lekker outydse doekpoeding resep !!

    danki

    ryna

  • http://www.marssec.co.za Elizma

    Kyk gerus onder http://www.boerekos.com, daar is ‘n heerlike outydse resep onder nageregte. Kyk gerus daarna.

    Groete
    Elizma