waar_vye_nog_soet_is
Kosstories

Ons gesels met Emilia

Vanwaar dié mooi titel?
In die Klein-Karoo waar ek grootgeword het, op ’n plaas by De Rust, naby Oudtshoorn, word vye nog gereken. Die omstandighede sorg vir soet vye: ryk grond, water waarvoor die boom moet bedel, skoon, moeilike lug: óf helwarm óf vriesend koud. Die titel wil iets sê van plekke – in die Klein-Karoo of in ons hart – waar dinge nog toegelaat word om eerlik na ons toe te kom.

Watter rol speel nostalgie in dié boek?

Ek probeer in my daaglikse bestaan iets herskep van dít wat vir mý herskep is toe ek kind was. Ek herroep die reuke en geure van my kinderdae, wat my ma en pa geskep het. En ek skep vir my kinders daardeur iets anders as 7de Laan om later oor nostalgies te raak.

Wat is jou gunsteling-bestanddele?
Vars, eerlike goed wat spreek van waar hulle vandaan kom. Ek kyk eers wat my groentetuin het voor ek besluit wat ek gaan maak. Ek verwys in die boek na my ouma Doela, wat altyd gevra het: “Wat het jy?”

Julle is ’n hele kook-familie. Dis in die Le Roux’s se DNS, of hoe?

Die kokery het begin by genl. Kemp se skoonma, Maria Cornelia Bodenstein. Haar dogter het vertel dat daar net ná die Boereoorlog mense op die plaas aangekom het. Die plaas is gestroop en daar was niks om voor te sit behalwe pampoen nie. Maar die mense het gesê dit was die lekkerste pampoen wat hulle nóg geëet het. Genl. Kemp se dogter, my ouma Doela, was ’n wonderlike, intuïtiewe kok. Sy het haar gene aan my ma oorgedra, wat lag-lag vir vyftig mense ’n wondermaal kan voorsit. Van my susters is daar ’n hele paar wat die lekkerproe-geen by my ma geërf het. Dié wat dit nie gekry het nie, het die smulpaap-geen by my pa gekry. Die suster wat die stuk harde werk, van wonderlike kok tot kunstenaar, ingesit het, is Annette, wat ’n bekende en geliefde sjef is.

Jou gunsteling-kosse?
Onopgesmukte geregte van onverwerkte bestanddele (hoe minder pakkies, hoe beter). En in dié stadium, geregte wat jy in ’n baie kort tydjie kan maak terwyl jy probeer om sinvol met klein, moeë kindertjies om te gaan.

Waar het jy die eerste keer besef kosmaak is lekker?
My ma, Ann, het my geleer. Ek het altyd geweet kosmaak is lekker en het dikwels my ma in die kombuis gehelp, soos al ons susters. Oor die Aga-stoof kan ek boekdele vertel, want dis waarmee ek grootgeword het. Dit praat van durendheid, want hy moet twee maal per dag “opgemaak” word. Dis nie net vir aanskakel nie. Soos mense ook nie net aangeskakel word nie. Maar dit praat ook van verhoudings, wat lekkerder werk hoe langer hulle “gebruik” word. Ek het soveel meer van my ma geleer voor die Aga as net hoe om geregte te maak: Ek het geleer van jou ingesteldheid teenoor kos, mense en uiteindelik teenoor die lewe.

Wat leer ’n mens oor jouself in die kombuis?
Ek staar my eie ongeduld en ongedurigheid in die oog as ek kosmaak en het dit deur die jare ’n bietjie leer temper.

Waarop in jou kos-loopbaan is jy die trotsste?

Ek het nie ’n kos-loopbaan in die formele sin van die woord gehad nie. Daarvoor is ek baie dankbaar, want dit is verskriklike harde werk. Maar ek is trots elke keer as ek mense kan verlei om ’n derde skeppie te neem, ten spyte van hul voornemens.

Waar kry jy jou inspirasie vir kosmaak?
Ek dink altyd wat sal my man, François, geniet as ek begin kosmaak. En by my ma wat bel om te sê sy het haksel gemaak en dit was so lekker. Ek put ook inspirasie uit kookboeke en tydskrifte soos SARIE. Anders as baie ander maak ek regtig die resepte wat ek lees.

Wat is jou grootste kompliment as kok?
My skoonmense kan heerlik eet en dan weer eet en as jy genoeg maak, dan nóg weer. Dis héérlik!

Wat is dié bestanddele vir ’n goeie kok?
Nuuskierigheid, ’n geletterdheid in proe (en dis makliker as wat dit klink daar is net vier letters in die proe-taal: soet, suur, sout en bitter), ’n bereidheid om hard en aanhoudend te werk en hulp met skottelgoed was!

Hoe belangrik is reis vir nuwe kos-invloede?
Reis verbreed jou horisonne. Ek reis soveel ek kan. My sussie Annette sê internasionale samesprekings moet met saam eet begin sodat mense mekaar se kulture sintuiglik kan beleef.

Wat was die lekkerste van dié resepteboek skryf?
Dat ek vir die jong geslag iets soos ’n album kiekies kan nalaat van hoe ’n mens eenvoudig en na aan die natuur leef, selfs in die stad.