Kosstories

Ons Proe-blog: Kerneels Breytenbach

Party kinders word vir die verderf grootgemaak. Ander bly maar hul lewe lank lekkerbekke. Ek is
een van die laasgenoemdes. Daar is niks wat ek daaraan wil doen nie. My pa was ’n plaaskind van die koue wêreld tussen Carolina en Belfast. Hy kon sy geluk nie glo nie toe hy in die laat jare veertig vier erwe aan die witwatersrand in die hande kon kry wat vir terugkerende offisiere van die tweede wêreldoorlog uitgesit is.

Erwe met daardie fantastiese bruin grond wat die vlakte tussen die witwatersrand en die suikerbosrante so ryk en geil maak. As jy my pa geken het, sal jy weet dat hier onversoenbare politieke dinge in die spel was, wat waarskynlik ook verklaar hoekom hy ’n groot Hawthorne-heining om die plek laat groei het en drie van die erwe volgeplant het met perske-, appelkoos-, pruim-, appel-, peer-, vye- en amandelbome. Daar was ook druiweranke – hanepoot en katôba, tipiese tafeldruiwe – en lappies aarde waar hy aarbeie, aartappels, wortels en mielies aan die groei gekry het. en eenkant ’n spesiale plekkie waar hy aspersies maak groei het, verste weg van ons hoenderhokke.

Ek vertel dit alles sodat julle kan verstaan waar ’n lekkerbek vandaan kom. wanneer jy tot verhaal kom, het jou mond ’n lewe van sy eie ontwikkel. dit sê vir jou, elke dag, “die kos moet smáák”. Maak nie saak waar jy jou bevind nie, dit lei jou deur die lewe, hierdie soeke na die lekkerste lekker. Gedink lospit-kaalgatperskes is die wonderlikste vrug? Het jy nog nie gehoor van skurwevel-perskes waarvan die vel sommer tussen die vingers afgevryf kan word sodra die vrug goed ryp is nie? Dáár is nou lekker. En ’n nagereg van katôba en hanepoot. die hanepoot ferm en sensueel as jou skerp kindertande daardeur byt.

Daarna kom die katôba-sports: druk die korrel tussen die punte van jou vingers vas, met die gaatjie waar die korreltjie aan die stingel geheg was wat na jou oop mond mik. Druk hard genoeg en jy skiet jou kleintongetjie met die soet druiwevlees raak. My grootouers het gehelp om my palaat te vorm. My ouma aan vaderskant het daar op Carolina altyd perskesmeer gemaak, die lekkerste taai tameletjierige smeer wat ’n mens kon kry, en waarvan sy vertel het sy rolle en rolle vir my oupa saamgegee het toe hy in 1898 op kommando moes gaan.

My oupa aan moederskant, weer, het uit die kaap uit mebos en pruimedante laat kom. gestoofde pruimedante het hom tot met sy dood ’n skraal man gehou. Toe gaan trou ek met ’n vrou wat ’n kombuis kan speel soos vladimir ashkenazy met ’n Mozart-klavierkonsert doen. Met besieling, toewyding en geen vingerfoute nie. Sy het my weggevoer van goeie ou boerekos, deur italië, griekeland, Frankryk en spanje gesleep op ’n gastronomiese ontdekkingstog. Ek was uiteindelik verlos van vleis met groente en twee stysels vir hoofgereg. Ek het gekyk wat sy doen, maar my bydrae was, heel verstaanbaar, so minimaal soos koffie maak, of knoffel pers vir die tzatziki. Ná die geboorte van ons kinders het ek meer aktief in die kombuis geword, maar ek het vir ’n “captive audience” kos gemaak. Wanneer daar gaste was, was Carien die kok en konsertmeester. Net om sake ingewikkeld te maak, beland ek so ’n derde deur my beroepslewe in ’n pos waar dit van my verwag is ommense te onthaal. Maar ek kon nie my ou gewoontes afskud nie, en in plaas van oor toneelstukke, flieks of boeke te skryf, soos in my vorige beroep die geval was, het ek oor restaurante begin skryf.

’n Lekkerbek se droom. Eerder as om met huweliksmoles gekonfronteer te word as ek die kok betig, kon ek met die grootste vrymoedigheid geregte kritiseer of prys. Net om die punt baie duidelik te maak, want julle is nie ál mense wat hierdie blog lees nie: Carien se tafel was en bly vir my die maatstaf van goeie kookkuns.

Dis onder haar druk dat ek in die kombuis begin doenig raak het, en al kan ek haar die kuns nouliks nadoen, kan ek ’n goeie ete aanmekaarsit wanneer dit van my verwag word. Noudat ek in daardie stadium van die lewe is waar die woordjie afskaal meer gebruik word as wat gesond is vir ’n mens –
of dat mense besef hoeke lelike dubbelsinnigheid daarin opgesluit lê – het die hele lewensmodus van lekkerbekkigheid ’n probleem geword.

Ek het genoeg tyd tot my beskikking om dinge te doen in die kombuis. Met goeie beplanning is al daardie eksotiese geregte wat my voorheen laat terugdeins het, binne my bereik. Die gelol is net dat ek van nature baie ongeduldig is in die kombuis. En lui. Dit is altyd makliker om ’n sesamsaad-broodrolletjie met Marmite te smeer en die Marmite met cheddarkaas te bedek as wat dit is om hoenderpatee te maak, of ’n risotto met wonderlike eksotiese sampioene.

Om net vir twee kos te maak is ’n saak van gans ander dimensies as wat dit gehad het toe ek nog so dertig jaar jonger was. Wyle Braam Kruger het my eens probeer oortuig dat almal wat smulpape is, iewers in hul mondering ’n sagte plekkie het vir dit wat hy white trash-kookkuns genoem het. Vir Amerikaners is dit ’n kulinêre kategorie op sy eie, met ’n sosiaalpolitieke dimensie. Tog het ek baie simpatie met sy siening. ’n Hand vol maalvleis wat bestem was om ’n frikkadel te word, kan binne ’n oogwink ’n hamburger-patty word. En dan kry lekkerbekkigheid ’n ander geaardheid. Die ou Casbah-padkafee in Alberton had ’n gereg genaamd Blondie op sy spyskaart: rolletjie, hamburger-patty, dun stuk steak, spek, ham, kaas, agurkies, blaarslaai, tamatie, blatjang, tamatiesous, mosterd. Vir Neelsie se matriekmond die hemel, vandag ’n herinnering aan overdaad – smaaklik, maar steeds overdaad.

Vir my is white trash-kookkuns ’n bietjie meer as ’n Blondie. Dit is die koskennis wat jy iewers tussen moedersknieg en laataand-hongersnood as student opgedoen het. Dit wissel van avokadopeer dik gesmeer op ’n stewige sny warmvars brood, by die bakker afgebedel, tot by watter soort konfyt ’n mens in tamatiebredie moet gebruik. Een van die resepte hierby kan as white trash-kookkuns beskryf word – die Babbelas-broodjie, wat nie net ’n sieraad in enige pan is nie, maar ook die soort verkwikking wat jou in jou oomblikke van grootste behoeftigheid help om weer mens te word.

Ek en Carien het ons kinders grootgemaak op spaghetti alla matriciana, maar noudat hulle op hul eie bene staan, het ek begin oorgee aan die versoeking om Bologna uit spaghetti bolognese te haal. Dit kon ek regkry deur twee resepte op ’n wilde manier met mekaar te laat trou. Die een is die resep wat John Torode in sy boek Beef gee vir sy ragu, en die ander is legendariese Amerikaanse jaagduiwel A.J. Foyt se “500 Mile Chili”. Pasop – dis warm! Die hoenderresep is eweneens van gemengde afkoms. Die hoender lê oornag in pekelwater, soos my stiefouma, Elize van Tonder van Eikenhof, dit gedoen het, en word dan die volgende dag die hoofbestanddeel van my knoffelhoender-resep.