FOTO: Estvan Vermeulen

FOTO: Estvan Vermeulen

Kosstories

Ontbyt in die bed: Maklik gemaak!

Bederf jou geliefde met ontbyt in die bed. Die Klits-en-klets-kok deel 4 maklike resepte waaruit jy kan kies om hulle te verras.

Franse roosterbrood met Nutella

genoeg vir 4

  • 8 snye brood
  • 60 ml Nutella (of sjokolade-smeer van jou keuse)
  • 4 eiers
  • sout en peper
  • 30 ml versiersuiker

Verhit ’n toeklaprooster. Smeer ’n sny brood met Nutella en plak nog ’n sny bo-op om ’n toebroodjie te vorm. Klits eiers en geur met sout en peper. Doop toebroodjies vinnig in eiermengsel en plaas in die toeklaprooster tot gaar en goudbruin. Sif ’n klein bietjie versiersuiker bo-oor.

Herhaal totdat jy 4 Nutella-toebroodjies het.

FOTO: Estvan Vermeulen

FOTO: Estvan Vermeulen

Eier en roosterbrood – met ’n tikkie ekstra liefde

genoeg vir 4

  • 4 snye brood
  • 20 ml olyfolie
  • 4 eiers
  • sout en peper

Neem ’n hartjie-koekiedrukker en sny ’n hartjie in die middel van die brood uit. Verhit ’n pan met olyfolie. Plaas roosterbrood in die pan en verbruin effens aan een kant. Draai brood om en breek nou ’n eier in elke hartjie. Braai eier na wense. Sit dadelik voor met gebraaide tamatie (opsioneel).

FOTO: Estvan Vermeulen

FOTO: Estvan Vermeulen

Brownie-wafels

Hierdie is dalk effens soet vir sommige mense, maar dit is tog ’n spesiale dag …

genoeg vir 5 – 6 wafels

  • 1 boks met Ina Paarman se brownie-mengsel (asook bestanddele soos op boks aangedui)
  • 100 g pistasieneute (pistachio nuts), grofgekap
  • 50 g bosbessies (cranberries)
  • roomys of sjokoladesous vir voorsit

Verhit ’n wafelpan. Maak die brownie-mengsel aan volgens die aanwysings op die boks. Skep mengsel in die wafelpan en braai tot gaar. Plaas wafel op opdienbord en sprinkel pistasieneute en bosbessies oor. Sit warm voor met roomys of sjokoladesous.

FOTO: Estvan Vermeulen

FOTO: Estvan Vermeulen

Plaatkoekie-stokkies met kaneel

Hierdie stokkies is ietwat meer moeite, maar dit is beslis die moeite werd!

genoeg vir 4

  • 1 boks met plaatkoekie-mengsel (asook benodigdhede soos op boks aangedui)
  • 40 ml botter
  • 60 ml kaneelsuiker
  • 15 klein stokkies (of gehalveerde sosatie-stokkies)
  • 100 g witsjokolade, gesmelt

Maak plaatkoekie-mengsel aan volgens aanwysings op verpakking. Verhit pan met botter en braai groot plaatkoekies tot goudbruin. Plaas plaatkoekies op bord en strooi dadelik kaneelsuiker oor om effens te smelt.

Sny plaatkoekies in sowat 3 – 4 repies. Rol elke repie op en steek vas met ’n stokkie. Plaas al die plaatkoekie-stokkies op ’n opdienbord en versier met gesmelte witsjokolade. Geniet terwyl dit warm is.

FOTO: Estvan Vermeulen

FOTO: Estvan Vermeulen

Ek hoop dié resepte maak jou oggend ekstra spesiaal!

Lekker eet!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets Kok Volg my ook nou hier en kook saam

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok