Kosstories

Dít eet sjef Reuben Riffel tuis

Dié super-sjef van Franschhoek het onlangs sy restaurantbelange uitgebrei met Reuben’s at the One&Only in Kaapstad. Celebstatus ten spyt het hy nie ‘n greintjie opstêrsgeit aan hom nie en die kos waaraan hy skelmpies weglê, is net so plat op die aarde.

“Ek hou van die goed waarmee ek grootgeword het, soos crunchy grondboontjiebotter met heuning. Ek’s mal oor geblikte mossels en oesters – daais in die oliesousie – op Salticrax met piekels.” Hy lê ook graag laataand weg aan kaasworsies (cheese grillers). Dis nou wel nie goed vir die hart of die middellyf nie, maar heerlik so toegegooi met tamatiesous en piekeluitjies.

Hy rond die knibbel-sonde af met Griekse dubbelroom-jogurt bedruip met Kanadese esdoringstroop. So asof die jogurt se effe surigheid boete doen vir die eerste ronde se sondigheid. ‘n Groot Engelse ontbyt staan hom nie aan nie, maar hawermout wel, terwyl skelvis sy grootste ontbyt-hunkering is. Hieroor is hy puntenerig: “Dit moet die goedkoop soort haddock wees, skreeuoranje van die kleursel en supersout.”

Waarna hy die meeste smag, is varsgebakte vetkoek, dik gesmeer met botter en baie moskonfyt of druiwekonfyt. As daar pitte in die druiwekonfyt is, des te beter. So ook ‘n smeersel grondboontjiebotter. Dit sluk hy af met ‘n beker soet swart koffie. “Kitskoffie, asseblief.”

Hy droom ook van sago-poeding met appelkooskonfyt en vla: “Maar dit moet vla uit ‘n pakkie wees, die soort wat jy self aanmaak.” Garage pie met peperbiefstuk, op die regte tyd en die regte plek, is vir hom koningskos. “Maar dan moet ek regtig honger wees. Honger is immers die beste kok.”

In die supermark beland daar altyd ‘n paar pakkies koekies (sjokoladebrokkie- of grondboontjiegeur) in sy mandjie; en swig hy voor die KitKats wat by die kasregister uitgestal word. “En ja, goudgeel Niknaks,” laat glip die veelbekroonde sjef.