sk1012sjefs_2_
Kosstories

Dít eet sjef Richard Carstens tuis

Sjef Richard Carstens se avontuurlustige kookkuns betower lekkerbekke by Tokara Restaurant op die kruin van die Helshoogtepas.

Maar dié voorloper-sjef met sy gesofistikeerde smaakpalet kan met dieselfde oorgawe weglê aan alledaagse kos.

Dit kry wel ‘n kinkel, soos die grondboontjiebotter wat hy saam met Marmite op kraakbeskuitjies (soos Finn Crisps) smeer vir ‘n laatnag-happie. “Die kombinasie van die neutagtigheid en soutigheid is op ‘n manier eintlik baie Oosters,” verklaar hy die onverwagte sukses van die uiteenlopende smake. Dit herinner hom ook aan die grondboontjiebotter-en-gouestroopbroodjies wat sy ouma smiddags ná skool vir hom gemaak het.

Hy het ook ‘n groot swakte vir Cadbury se heelneutsjokolade. “‘n Braai is nie vir my ‘n braai as ek nie tussendeur kan peusel aan ‘n hele plak van dié sjokolade nie.” Nog ‘n groot lekkerte vir Richard is Rice Krispies, met baie suiker en koue melk.

Soos verwag kan hy dit nie weerstaan om soms vreemde bestanddele soos miso of jellievis in sy winkelwaentjie te laai as hy inkopies vir die huis doen nie. Maar hy pak altyd ‘n blik ingelegde, regte-egte Kaapse kerrievis in. “Gelukkig kry mens dit nou weer – dit was vir lank nie op die winkelrakke te kry nie,” sug Richard verlig.