Kosstories

Roer! – Gert van de Merwe se eend-confit

Dis mees algemeen pluimvee, omdat die porsies heerlik in hul geheel ingelê kan word en weer heel voorgesit kan word. Die dye en boudjies is die mees suksesvolle dele om te preserveer, maar die res van die karkas kan gebraai en versnipper word en later in ‘n pastei gerbruik word.

Gert van der Merwe en Tammy

Bestanddele

  • 8 groot eendboude
  • 8 eetlepels growwe seesout
  • varsgemaalde peper
  • 10 tiemietakkies
  • 12 lourierblare
  • 20 jenewerbessies
  • 2 kg eend- of gansvet, in blokkies gesny

Eend confit


Metode

1. Pak die eendboude in ‘n skottel en strooi die growwe sout oor die oppervlakte. Die eend moet lekker styf teenmekaar lê.
2. Maal ‘n bietjie peper bo-oor (Gert verkies gemengde wit, swart en pienk korrels).
3. Druk die helfte van die lourierblare, tiemie en jenewerbessies tussen-in die stukke.
4. Bedek met kleefpapier en los oornag in die yskas om te rus.

Dag twee

1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
2. Haal die eendboude uit die kruie-mengsel en pak dit in ‘n oondvaste skottel.
3. Gooi die eend- of gansvet oor en plaas in die oond vir ‘n uur.
4. Verlaag dan die oond se temperatuur na 150 °C en hou dit in vir nog twee ure (skep die vet oor elke 15 minute).

Jou eend is nou heerlik gaar. Gebruik Consol inlê-bottels vir die preservering. Jy behoort tussen drie of vier boude in ‘n bottel te kry, afhangend van die eend se grootte.

5. Plaas die boude in die glasbottels, vleiskant na onder.
6. Gooi die warm vet in die bottels – die vleis moet bedek wees, maar los die laaste paar sentimeter van die beentjies onbedek sodat dit later maklik is om hulle daar uit te trek.
7. Skroef die deksels op terwyl dit nog warm is en laat staan om af te koel.
8. Stamp die bottles se bodems ‘n paar keer op die tafel se oppervlak om seker te maak dat die vet oral ingeloop het.
9. Laat staan sodat die vet kan stol.

Die confit sal vir ‘n paar maande in die yskas gehou kan word. Wanneer jy dit dan wil voorsit, trek ‘n boudjie aan die been uit, verwyder soveel jy kan van die vet wat daaraan vaskleef en plaas in die oond, reg onder die rooster, teen 180 °C. Dit kan gerooster word totdat dit kraak en bronsbruin is (ongeveer 20 minute).

Kyk die Roer! episode hier