sk08_4summerfields_gaskokke02
Kosstories

Rose vir die siel . . . en op die tong

’n Mens kan sonder brood leef, maar nie sonder rose nie, is daar al baie gesê. By Summerfields River Lodge and Rose Spa naby Hazyview kry jy egter albei. Jou daaglikse brood, elke dag kraakvars, én rose wat jou omring!

Dié luukse tentkamp en spa langs die Sabierivier, waar seekoei en krokodil boer, het in Desember 2006 sy deure oopgemaak. Hier, op 100 hektaar waar rose en macadamianeute verbou word, is die gejaagde lewe baie ver weg. Daar’s baie voëls – suikerbekkies, parmantige bergkwikkies wat hulself in die silwer roosbakke bewonder, bloukuifloeries, gevlekte ooruile, reuse visvangers en bosloeries. Klein akkedisse ritsel in die gras. Saans kwaak die paddas.

“As die moeë stadsmense hier aankom, lyk hulle soos rekkies wat enige oomblik gaan breek. As hulle vertrek, lyk hul gesigte so ontspanne soos koeie wat pas gemelk is! So half glimlaggend-bedwelmd,” sê Jaco steyn, Lodge- en spabestuurder, wat romerige cappuccino’s maak in koppies met sagte roosmotiewe en sorg dat die wynglase gevul bly in die lapa langs die rivier.

Die spa voltooi gaste se holistiese weelde-ervaring. Behandelings word gedoen met natuurlike oseaan-ekstrakte, roosolie en -blare, macadamia-olie en growwe seesout. Ná so ’n behandeling voel dit behoorlik of jy saam met die voëls vlieg. Jy lê en kyk uit op die Sabierivier, omring deur tambotie- en  jakkalsbessiebome, terwyl geoefende hande jou streel en pamperlang. Bosse rose met verruklike name soos  die bloedrooi Miss Paris, geel-oranje Sunlight, pienk King Kong (nogal!), pers Lavender Mascara en adellike wit Anastasia pryk orals in swaar silwer vase. Geurige rooskerse brand saans in silwer kandelare op die stoep.

“Summerfields is vir ons die verpersoonliking van die omgewing,” sê André van Heerden, die Johannesburgse eienaar. “Warm in die winter, vogtig in die somer. Alles groei welig. Dis eendag ons aftreeplek. Die roos-projek word gedryf deur my vrou, Ilse, en ons dogter Esli. Rose is soos gelukkige gaste. En daar is min dinge so lekker soos ’n tevrede en dankbare gas.”

Volgens Lienkie Erasmus, die uitvoerende sjef, speel kos ’n groot rol hierin. Dié Karoo-meisie van Middelburg dink met ’n warm hart terug aan haar ouma Helena se kombuis met die roomkleurige Aga-stoof op die erfplaas Vrede. “Elke naweek is ek van die kosskool na Ouma en Oupa. Die kombuis het geruik na wildspastei, koljander en vars brood.” Daar het sy leer slag, biltong bewerk en appelliefie-, appelkoos- en vyekonfyt maak. Sondae het sy en Ouma huiskos gemaak: pampoenkoekies met kaneelsuiker, skaapboud, groenbone vars uit die groentetuin, ingelegde beet . . . Hulle het plaasmelk gedrink: “Die witwarm skuim het so om jou mond gesit en die botter was vars gekarring.” Dis dié heilsame, plaasvars kos wat sy vandag steeds wil voorsit. “My pa se suster, ’n huishoudkundige, het die beste raad gegee: ‘Elke keer as jy ’n bord kos kook, moet jy al jou liefde daarin sit.’” En dis dié filosofie wat sy haar sewe kombuishelpers leer. “Kos moet altyd mooi lyk en vol liefde wees. Jy moet nooit afskeep met gehalte nie.”

Ná skool is Lienkie opgelei aan die Institute of Culinary Arts en het sy in Reuben Riffel en Peter Goffe-Wood se restaurante op Franschhoek gewerk. Twee jaar se ondervinding in die buiteland tel ook as hoogtepunte. Toe volg onthaalwerk in Johannesburg waar sy haar kreatiwiteit verder ontwikkel het. “Ek het al die kennis soos ’n spons opgeslurp, maar dit was tyd om my vlerke te sprei. Dit was baie lekker om Summerfields se kombuis en spyskaart van die begin af te kon ontwikkel en my eie stempel daarop af te druk.” By die Summerfields Kitchen, wat saam met vier ander top-restaurante in die omgewing sedert Augustus 2008 deel vorm van die Laeveld Gourmet-roete, bedien Lienkie en haar span voorgeregte soos springbok-carpaccio en peer-en-gorgonzola-slaai, ’n heuning-en-vark-gereg of bobotie as hoofmaal, en nageregte soos pavlova en Ouma Helena se melktert. “Dis ’n vermenging van Viëtnamese, Suid-Afrikaanse en Mediterreense kos. Ek maak tradisionele boerekos soos my ouma se wildspastei, maar zoosh dit ’n bietjie op.

“Dis my droom om eendag my eie restaurant te hê met interessante slaaie,” vertel Lienkie. “’n Mens kan in dié omgewing wonderlike kombinasies skep omdat hier sulke lekker vrugte is. Veselperskes, avokado’s, piesangs, pynappels, papajas. Ek kombineer dit met ongewone goed soos steurgarnale, forel, wildsvleis, neute en lietsjies. Rose simboliseer vir my liefde en vrede. Hulle is uniek. En dieselfde roos verskil van dag tot dag. Dis ’n groot bron van kreatiwiteit, ook in my koskuns.” Soos die pavlova-nagereg: “Ek maak ’n stroop van roos-ekstrak, vou dit in die meringue in en garneer met roosblare.” Sy gebruik rose ook in ’n basiliekruidpesto-vulsel vir hoenderborsies. “Basiliekruid en roos vul mekaar aan.” Lietsjies, veselperskes en druiwe word as somer-nagereg gemarineer in ’n roos en- gemmerstroop, en waatlemoen-en roosjellie is ’n gewilde voorgereg. “Dis ’n wonderlik uitdagende geurkombinasie. Ryk en avontuurlik.”