Kosstories

Sagopoeding-wedstrydresep: 2de plek, Annele Muller

Nuwe smullekker sagopoeding

Hierdie resep is dalk nie in ons familie vir jare nie – maar dit gaan beslis eendag wees!

(6 porsies)

  • 187 ml sago
  • 500 ml volroommelk
  • 375 ml klappermelk
  • knippie sout
  • 1 stokkie kaneel
  • 1 blikkie kondensmelk
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 10 ml gerasperde suurlemoenskil (opsioneel)
  • (sowat) 20 ml botter
  • 3 ekstragroot eiers
  • 3 ml bakpoeier (opsioneel)
  • 30 ml appelkooskonfyt (opsioneel)

Spoel die sago in koue water en laat staan terwyl jy die res van die bestanddele gereed kry. Plaas sago, melk, klappermelk, sout en kaneelstokkie in ‘n mediumgroot kastrol op mediumhitte en roer gereeld totdat dit begin prut. Draai temperatuur laer en laat prut verder totdat sago byna deurskynend is (20 – 25 minute). Roer gereeld. Gooi kondensmelk by en draai plaat op mediumhitte totdat mengsel borrel. Draai plaat terug op laer hitte en laat prut vir sowat 10 minute totdat die sagomengsel effens dikker is. Voeg vanieljegeursel en opsionele suurlemoenskil by en roer deur. Verwyder van hitte en laat effens koel. Voorverhit jou oond tot 180 ºC. Smeer ‘n oondvaste bak met botter. Verwyder kaneelstokkie. Skei eiers, klits die gele en roer by sagomengsel. Voeg bakpoeier (opsioneel) by en roer deur. Klits eierwitte tot dit stywe punte vorm en vou liggies in die sagomengsel. Gooi oor in gesmeerde bak, stip stukkies appelkooskonfyt bo-op (opsioneel) en bak vir 20 – 25 minute of tot opgepof en goudbruin. Geniet warm of koud. Jy kan room of klapperroom bygooi of meringe bo-op sit, maar dis nie nodig nie.

Die sagopoeding-gogga het my gebyt kort nadat ek en my kêrel, Johan, mekaar ontmoet het. Ons was vir ‘n naweek op pad na sy familie en ek het besluit ek gaan ‘n lekker nagereg maak om my “skoonouers” te beïndruk . . . My gunsteling-nagereg as kind was Ouma se sagopoeding en dis wat ek sou maak. Maar ek wil mos altyd anders wees en soek toe ‘n meer eksotiese weergawe op die internet. Daar kom ek toe af op ‘n klaarblyklik oorspronklike Indiese nagereg met sago, klappermelk en bruinsuikerstroop. En net daar besluit ek DIT sal net die regte ding wees – dit klink heerlik en is beslis nie iets wat sy ma-hulle al sou raakgeloop het nie. So draf ek by die winkel in vir al die bestanddele, wat alles saam is seeplaas toe vir die naweek se bak en brou.

Die skoonfamilie was baie ingenome met die idee dat ek ook wil bydra tot die spyskaart en ek berei toe heelmiddag voor aan my SPESIALE nagereg. Ek self was nogal in my skik met die heerlike idee, totdat ek die sago-jellie moes probeer “sny” en dit glad nie meer so aptytlik lyk nie. Ek skep dit toe maar in elkeen se bakkie en verdoesel dit met die klapperroom en bruinsuikerstroop.

Johan se broer waag die eerste woorde: Hmmmmm, dis . . . INTERESSANT! Waarop almal om die tafel uitbars van die lag en ek begin giggel. Toe die oom sê, “Nee wat, dis nie só sleg nie . . .”, was daar geen keer aan almal wat histeries lag om die tafel nie. Ek was so skaam, ek wou net myself en my poeding buite in die sand gaan begrawe. Die volgende aand het ek vir ‘n BAIE skeptiese skare tradisionele sago-poeding (uit die Kook en Geniet) gemaak wat absoluut perfek was, maar dit kon niks doen om my eer ná die vorige aand se kaskenades te herstel nie. Nou nog, ‘n jaar ná die sago-voorval, spot almal my daaroor en maak hulle groot oë wanneer ek enige nagereg na ‘n familie-braai toe bring. Selfs familie wat nie eens by was nie, spot my oor die flop.

Ná die hele affêre was ek vasbeslote om die heel beste sagopoeding-resep te vind. Ek het toe weer met die internet se hulp ‘n resep gevind en dit so ‘n bietjie aangepas – want ek hou mos van oorspronklikheid. Hierdie keer was dit ‘n wenresep! Dis lekker lig en selfs lekker die volgende dag koud. As jy dit selfs nog ligter wil hê, kan jy bakpoeier bysit. Dan moet jy net ‘n groter/dieper bak gebruik om dit in gaar te maak. Daar is kondensmelk in (Johan se gunsteling), klappermelk (my gunsteling) en ‘n opsionele stukkie suurlemoenskil vir variasie. Selfs die afgeskrikte familielede smul nou daaraan. Dit is beslis ‘n resep wat vir JARE in ons familie gaan bly – en die storie daarby!

 

  • http://julxzdceyeso.com/ pwaucyox

    Fvecva uwdstczmkrrr, [url=http://wdxmqufiotqf.com/]wdxmqufiotqf[/url], [link=http://zcjssdavpnfk.com/]zcjssdavpnfk[/link], http://gkjpwaodqyof.com/

  • ikmenu

    3epEzG uoewphpstgav, [url=http://kelvkevvgkkr.com/]kelvkevvgkkr[/url], [link=http://jdfrzqgzbixy.com/]jdfrzqgzbixy[/link], http://ntljomcbrhfg.com/

  • hozvon

    nzepNQ egcsfxutxxjb, [url=http://qaripoflwwrt.com/]qaripoflwwrt[/url], [link=http://xxaftzfjiuln.com/]xxaftzfjiuln[/link], http://mwrfjadzeiro.com/