Kosstories

SARIE KOS April/Mei 2013: ‘n Voorsmakie

Een gróót troos.

Dis nou al daardie na-aan-die-hart-koslekkertes wat telkemale ’n troebel gemoed help paai. Of net ’n bietjie van ’n buffer is as die dag ons af en broos laat voel. Ons het ’n rits woorde vir hierdie gunsteling-smake wat oor die jare beste vriende word: koesterkos, onthoukos, goedvoel-kos.

Comfort food, ’n term wat glo sedert 1977 bestaan, is nou eers groot mode. Li Edelkoort, die bekende futuris wat SA weer onlangs met die Design Indaba in Kaapstad besoek het, het trooskos juis uitgesonder as een van die hoof-tendense vir 2013 en vorentoe. Niemand was verbaas nie, want wêreldwyd soek mense warmte en toenadering en dít vind ons dikwels in kos.

Die koekies en sjokolade-melkdrankie wat kosredakteur Barbara Joubert vir hierdie uitgawe se voorblad beplan het, is op my persoonlike lys (ja, ek’t ’n lang lys!) van gelukskos. Enige vrese of onsekerheid as kind kon met ’n ouma wat so ’n warm drankie en ’n bietjie soetigheid aangedra het, gestreel word.

Maar hoendersop is glo bo-aan die lys van klassieke troosters die wêreld oor. Dit maak sin, want ons weet mos almal dat enige grieperigheid met ’n dun, warm hoendersoppie gedokter behoort te word! In Engeland doen herderspastei, boontjies op roosterbrood, vis en tjips en vla glo die koesterwerk, en in Amerika, volgens Wikipedia, is dit appeltert, hamburgers en hotdogs en gebraaide hoender.

En in SA? Dit moet ’n stukkie braaivleis wees, of ’n geurige pastei van ’n aard, of ’n eenpotwonder soos ’n regte egte boontjie- of tamatiebredie. O ja, en altyd ietsie soets, soos kosredakteur Herman Lensing se romerige ryspoedings, of ’n keur van kleinkoekies met vulsels soos jy nog nooit geproe het nie – als in dié uitgawe.

Geniet hierdie SARIE KOS – dis troos en koestering van A – Z!

Groete,
Michélle van Breda

Soete verleiding
Toegevou om ‘n pekanneutvulsel, in ‘n japtrap in ‘n ou wafelpan gemaak of bros gebak met ‘n Rolo of twee in die middel… G’n suikertand sal dié koekies kan weerstaan nie. 

SARIE KOS soete verleiding


Kuierkos uit die see

Dit lyk soos kos wat jy tradisioneel in Britse pubs kry, maar die worsies is met fyngemaalde vis gemaak, en die burger se patty is ‘n salmkoekie.

SARIE KOS: Kos uit die see


5 maniere met hoenderborsies

Maak die witvleis van die hoender ekstra smaaklik met heerlike souse en vulsels of gebruik dit selfs as bolaag vir ‘n brood.

SARIE KOS: 5 idees met hoenderborsies


Trooskos in 30 minute


Maak só met aartappels

Heerlik bros gebraai in die oond of met knoffel en pietersieliebotter – aartappels is koningskos.

SARIE KOS: Aartappels


Risotto

Dis ‘n Italiaanse gereg wat tradisioneel bo-op die stoof gemaak word – met arborio-rys, oorspronklik uit ‘n klein Italiaanse dorpie met dieselfde naam. Dis in die waterryke Po-vallie met sy groen rysvelde. Ek wys jou die gewone, tydsame manier om risotto te maak, maar ook 2 resepte waar die oond al die werk doen terwyl jy rustig agteroor sit.

SARIE KOS: Risotto

Mandjies vol onthou
Onthoukos word happie vir happie, behaaglik, uit kosmandtjies gediep wanneer kosmense tussen familie en goeie vriende aan tafel inskuif. Soek hulle sielskos, gaan loer hulle in Ouma se spens en kuier in die kombuis van hul kindertyd.

SARIE KOS: Mandjies vol onthou

Pasteie vir die proe
Omskep ‘n ou gunsteling soos beesstert, lamskerrie of selfs smoorsnoek in ‘n pastei en jy het’n heel nuwe treffer-gereg.

SARIE KOS: Pasteie

So lekker, dit smelt in jou mond!
Sjokolade, speserye en neute is ‘n wen-kombinasie wanneer jy koekies bak. Maak dit boonop met glutenvrye meel en jy sal sukkel om nee te sê!

SARIE KOS: Lekker, soet


Roomsagte ryspoedings

Hier’s nou waarlik ‘n veelsydige resep – vir almal wat van rys hou, maar ook vir mense wat laktose moet vermy. Jy net verskillende soorte vrugte by jou basisresep en siedaar! – 5 verskillende poedings.

SARIE KOS: Roomsagte poedings

Koekies vir diabete: Heerlik en spesiaal!
Gesonder bros koekies sonder suiker en botter kan ook hemels smaak. Kom proe saam!

SARIE KOS: Diabeet-koekies

[box:full:orange:both]

  Maak jy die lekkerste lamskerrie op die dorp?
Deel jóú lamskerrie-resep met ons en jy staan ‘n kans om AMC-kookware ter waarde van R 8000 te WEN! Kry jou nuutste uitgawe van SARIE KOS April/Mei 2013 om in te skryf.

[/box]

TEKEN IN OP SARIE KOS