sariekosfebmrt2013
Kosstories

SARIE KOS Februarie / Maart 2013 op die rak!

“Met al die feestelikhede agter die rug, voel 2013 nou soos die lang pad voor ons. So seker soos padda manel dra, sal ons 12-maande-reis ‘n paar verrassende draaie insluit wat ons nie altyd sien kom nie. Maar dit hou juis die lewe interessant en ons oë gefokus op daai pad.

‘n Groot deel van ons reis sal darem ons geliefde plekke, ons mense, ons gunsteling-geure insluit. Als om ‘n reisende hart op die nuwe pad warm te hou.

Maar dikwels strek die bekende veel wyer as wat ons dink.  Die afgelope vakansietyd het ek net weer gesien: Om die kospotte verdwyn grense en kom alle paaie bymekaar. Dan praat mense een taal.

Sit ‘n geurige sop en vars vis en mossels uit die koue Atlantiese Oseaan op die tafel voor ‘n kosmopolitaanse groep wat mekaar van g’n kant af ken nie, en hulle begin kommunikeer. Oor Weskus-kreef gesels Koringberg, Kalifornië en Kroasië kopstukke, so met die hulp van kreatiewe gebaretaal. ‘n Wyntjie of twee uit die Swartland, ook die kontrei se vonkelwyn, nogal soos die Franse dit doen, maak die tonge los en bring Spanje en San Francisco soomloos byeen. Op so ’n manier dat selfs praatjies oor verhoudings laataand nie te ingewikkeld is nie!

Net drie dinge bring mense werklik bymekaar, dink ek: musiek, sport en kos. Musiek raak die hartsnare soos min ander dinge; dit is dié universele hartstaal. Sport kan ‘n nasie verenig, soos ons al ‘n paar keer in SA gesien het. En kos se bekende geure bring warmte en gemoedelikhed en snoer vriende, familie en selfs vreemdelinge saam.

Met dít op die tafel is 2013 se lang pad allesbehalwe ver en onbekend. Dis een smaaklike avontuur.

Geniet nou elke stukkie van dié SARIE KOS!”

Groete,
Michélle van Breda
Redakteur: SARIE


“Ek is al baie gevra hoe ’n kos-fotosessie werk. Is die kos eetbaar? Voeg ek iets by om dit mooier te laat lyk? Die foto’s by ’n resep is net so belangrik soos die resep self. Ek sê altyd jy eet eers met jou oë en dan met jou mond. Gelukkig werk ek saam met een van SA se beste kosfotograwe, Micky Hoyle.

Ons beplan alles saam, soos die kleur van die bykomstighede – bv. borde en materiale wat gebruik word – en die uitleg van die foto. Tydens die fotosessie word die gereg in die ateljee gemaak en daarna gestileer en onmiddellik afgeneem. Geen vreemde goed word op die kos gesit nie – die gereg soos julle dit op die foto sien, kan net daar geëet word. In die sewentigerjare is bv. kapokaartappels gebruik in die plek van roomys, maar dit wat in SARIE KOS verskyn, is die ware Jakob.

So gepraat van roomys, dis natuurlik die heel moeilikste om af te neem. Jy het nie baie tyd nie, en veral as dit warm is, gaan dit maar dol in die ateljee.

Die voorbladfoto van hierdie uitgawe en die artikel oor yskoue geregte op bl. 64 is ’n goeie voorbeeld. Jy hoop en bid niks gaan smelt voor jy daardie perfekte foto het nie. Vir die voorblad het ek vooraf besluit daar moet twee roomysballe op elke horinkie wees, en ons moes behoorlik ons storie ken om dit reg te kry. Die pragtige foto wat Micky geneem het, maak al die spanning die moeite werd. (Sien ook brieweblad oor vorige “roomys-voorblad”.)”

Groete,
Barbara Joubert
Kosredakteur: SARIE KOS

Maak seker jy mis nie één uitgawe van jou gunsteling SARIE KOS nie. Teken hier in!

LESERSWEDSTRYD: ONS SOEK DIE LAND SE LEKKERSTE HAMBURGER!

Deel jou lekkerste hamburgerresep as jy ‘n kans wil hê om kookware van Le Creuset te wen!

 

Halfgaar-beesvleisbroodjie met peperwortelsous 

Iets anders met beesvleis

Gedink steak braai is ál wat jy met beesvleis kan doen? Aikôna. Maak kebabs, kook dit fyn of eet dit halfgaar, en warm op ‘n Sondagbord of koud op ‘n broodjie

 Gebraaide worteltjies in olyfolie en karwysaad, gebraaide eiervrug met jogurt, gemarineerde preie en rooisoetrissie-hoemoes  

Ryk en eksoties uit Turkye

Juweelkleure en ryk geure is sinoniem met Turkye. Daar smul jy behoorlik – en kan jy glo, die kos is meestal vegetaries!

 Beste tamatiebroodslaai  

14 Sakpas-etes

Vir daardie platsakdae!

 Omelet  

NUWE REEKS: Leer kook met Barbara

In hierdie uitgawe maak Barbara jou toewys met eiers

 Aarbei-ysstokkies en bloubessie-ysstokkies  

Met ys, ja

Terwyl die son nog so bleekwarm skyn, smag ons na iets kouds en ligs. Dié maklike resepte sal jou help afkoel. En een van hulle bevat net een bestanddeel!

 Komynbrood  

Die geur van vars brood

Terwyl die son nog so bleekwarm skyn, smag ons na iets kouds en ligs. Dié maklike resepte sal jou help afkoel. En een van hulle bevat net een bestanddeel!

 Geroosterde-vark-en-perskeslaai  

Slaai: die perfekte somermaal

Maak jou kuiers groener met 6 van die lekkerste slaaie. Elkeen het ‘n bietjie woema sodat jy dit as hoofmaal kan eet terwyl dit nog so warm is buite