Kosstories

SARIE KOS Okt/Nov 2012 met 10 spyskaarte nóú op die rak!

“Die tyd vir kuier en onthaal het aangebreek. Dis warmer en almal raak nou lus om vriende en familie te bederf. In hierdie spesiale uitgawe van SARIE KOS maak ons dit vir jou makliker om ’n heerlike koskuier te beplan met spyskaarte van oor die wêreld – van ’n swierige Franse aansit-ete met mooi breekware tot

’n Griekse vrolikheid kompleet met plastiektafeldoeke en blou stoele.

My gunsteling-manier van onthaal is baie kos op die tafel soos Spaanse tapas, sodat almal hulself kan help. Maar daar was tye toe ek dae lank beplan het aan ’n spyskaart en hoe die tafel gedek gaan word.

Op ’n keer het ek vir my man, Emile, ’n verrassingsete vir sy verjaardag beplan.

Ek het selfs verlof by die werk geneem – alles in die geheim. Toe ek “werk” toe ry die oggend van die ete, was ek eintlik op pad winkel toe. Terug by die huis het die kokery begin. Die spyskaart was ingewikkeld en dit het gevoel of ek ’n marathon hardloop.  

’n Vriend moes vir Emile besig hou, en toe hulle en nog vriende vir die ete opdaag, was hulle besonder jollie. Emile wou eintlik net gaan slaap. Ek was doodmoeg van kos maak en ook net lus vir slaap. Net daar het ons besluit dis die einde van verrassingsetes in ons huis. Nou kuier ons almal lekker saam, sommer in die kombuis.

Kook rustig vir die lekker kuiers wat voorlê.”

Barbara Joubert

– BARBARA JOUBERT, SARIE KOS kosredakteur

“Om vriende oor te nooi vir ete en om groot te kook is in my gene. En ek is op my gelukkigste as ek ’n lang tafel kan dek en uithaler-kos kan maak.

Afgesien van lekker kos, hou ek baie van mooi borde, maar niks moderns nie. Ja, die ou vergete borde wat jy by tweedehandswinkels en antieke markte kry. Sulke borde kan stories vertel! Dis asof kos net soveel mooier en smaakliker lyk op ’n oorgroot bord wat versier is met die mooiste detail.

Daar is ’n bord vir elke gereg: Die groen-en-roomkleurige bord kry altyd die lamsboud wat oornag gerooster is tot murgsag. Daar is ’n bord vir die soetpatats wat gebak is in lepelsvol botter en heuning.

Groenbone gebraai met spek word meestal voorgesit in die ligblou bord met haarfyn barsies wat oor die jare in die glasuursel gevorm het.

Wanneer ek met trots uit die kombuis stap met elke bord wat met sy kos-pasmaat gekroon is en my gaste se oe’s en aa’s hoor, weet ek ons sal die wêreld aan ons voete hê solank ons kos kan kook met liefde, lang tafels kan dek en kan kuier saam met vriende tot die son opkom!
Lekker onthaal en saamkuier!”

Herman Lensing

– HERMAN LENSING, SARIE kosredakteur

[box:full:grey:both]

[/box]

SUID-AFRIKA: KUIER IN DIE BOSVELD

Dis so eg Suid-Afrikaans soos kan kom – biltong-patee en Leipoldt se tamatiebredie van wildsvleis gemaak. Breek weg bos toe en geniet alles waarvoor ons so lief is.

Bosveld

BON APPÉTIT UIT FRANKRYK

Kaassoufflé, eendborsies en crème brûlée – haal jou mooiste porselein en silwer uit en kook kos met siel soos die Franse.

Frankryk

MEXIKO: LAND VAN KLEUR EN GEUR

Bombardeer jou gaste se sintuie met 
’n bont en baldadige Mexikaanse fees!

Mexiko

BRITTANJE TOE VIR KROEGKOS

Heerlike, eerlike kos sonder fieterjasies. Sit dit voor met ’n yskoue bier, goeie geselskap en ’n tafel sonder baie moeite.

Brittanje

SUID-AFRIKA:LEKKER DAG VIR BRAAI

Waar anders as in Suid-Afrika kry jy ’n Nasionale Braaidag, waar ieder en almal ’n vleisie op die kole gooi! Maak pavlova daarby vir ekstra plesier.

Braai

KONINGSKOS UIT LA BELLA ITALIA

Die Italianers kuier so lekker, want hulle eet so lekker. Kom sit aan by ’n tafel vol tipies Italiaanse geregte.

Italië

OLÉ, DIS TYD VIR TAPAS

Die Spanjaarde kuier lang ure om ’n tafel en geniet allerlei heerlike klein happies. Maak ’n groot bak paella daarby en rond dit dan af met crème caramel.

Spanje

GRIEKELAND: SON, SAFFIER EN OLYWE

Uit die land van Zorba kry ons van mezédes tot lamstjops met bone en Griekse melktert.

Griekeland

VIR DIABETE: DIE GROOT BEDERF

Selfs mense wat hul gesondheid dophou, kan so af en toe wegbreek om ‘n spogete sonder skuldgevoel te geniet.

Diabete

IETS LIGS UIT CHINA

Jy hoef nie na ’n wegneemplek te gaan vir Chinese kos nie – 
dis maklik om te maak en kan gesond ook wees.

China

KRY JOU SARIE KOS VANDAG NOG! EN ONTHOU, jy kan ook ‘n gunsteling-resep hier op sarie.com deel en dit moontlik in die volgende SARIE of SARIE KOS sien.

* Teken in op SARIE KOS en kry elke tweede maand kos-inspirasie in jou posbus.

  • sonja ferreira

    Hallo, ek soek die pampoenkoekie wedstryd se 2e en 3e plekke se resepte, maar ek weet nie waar om te kyk nie.Kan jul help asseblief.