Kosstories

SARIE se Barbara en Herman besig met nuwe RESEPTEBOEKE! – DEEL 1

‘Die navorsing is in my kop’

Barbara Joubert, redakteur van SARIE KOS

Wat is die naam van jou nuwe resepteboek wat in Mei verskyn?

KOS-talgie (Coppersmith) met foto’s deur Micky Hoyle.

Vanwaar dié naam?

Dit gaan oor al die ervarings wat my beïnvloed het tot nou; lande wat ek besoek het, wat ’n groot rol in my lewe gespeel het. Dis opgedeel in sewe seksies en ek wy ’n hele seksie aan die Karoo. Ek maak die tipe kos wat ek nog altyd wou maak en die teikenmark is Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

Hoekom is jy nóú gereed ná jou gewilde kookboeke SARIE 5 (Human &Rousseau, 2006) en Proe die lekker (Human & Rousseau, 2009)?

Dis hoog tyd . . .

Wat maak jou opgewonde van dié projek?

Dit is in ’n groot formaat en dit is lekker om te kook én te skiet. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die herinneringe. Daar is lekker leeswerk tussenin. Al wat ek kan sê: dit is ’n visuele fees. En dit is flippen lekker om dit te doen oor naweke. Ek het ook vyf dae verlof geneem om hieraan te werk.

Het jy ’n gunsteling-resep?

Die eend met kersiesous, ’n Franse resep, proe wonderlik. Die resepte in die boek lyk moeilik, maar my goed het nooit 500 bestanddele nie. Jy moet kan kook, maar dit is alles doenbaar.

Hoe het jy navorsing gedoen vir die resepte?

Die navorsing is alles in my kop. Ek dink byvoorbeeld aan Karoo-kerrie soos ek dit ken, maar wys hoe dit met ’n twist gekook kan word. Alles wat mense ken op ’n sekere manier, maak ek met ’n twist.

Watter boodskap wil jy met dié resepteboek uitdra?

Ek wil wys hoe kreatief kos kan wees. Met slegs ’n paar bestanddele kan jy iets vernuwe en wonderlike konkoksies skep. Ek onthou dikwels iets uit my reise soos ’n basiese choux-deegresep en ek het dit omskep in ’n Midde-Oosterse koeksister. Elke mens kan sy/haar kosherinneringe gebruik en iets nuuts daaruit skep . . .

Watter plek was jou grootste kosinspirasie?

Parys. Die Franse besef goeie kookkuns het niks te make met torings en druppels soos mense altyd dink nie. Hulle ken die kuns van daai bistro-huiskos. Om in ’n Franse supermark in te stap is só inspirerend. Die vars produkte! Die verskeidenheid kase, seekos en gebak . . . Dit is net lékker.

Wat is jou gunsteling-bestanddele (waarmee jy áltyd kook)?

Wyn, suurlemoen, knoffel en botter.

En die gewildste toestel in jou kombuis?

’n Klein, dun toetspennetjie wat R10 kos. Ek raak mal as dit wegraak. Dit is baie belangrik om te toets of iets gaar of sag is.

Lees HIER wat beplan Herman vir sy nuwe boek!