FOTO Instagram / @milouchekaya

FOTO Instagram / @milouchekaya

Kosstories

Selfs CNN vier die kleurryke Bo-Kaap met sy geurige kos

CNN Travel het dié week die Bo-Kaap se cuisine uitgewys as een van die lekkerste ter wêreld. En ons stry nie …

Volgens die wêreldbekende Suid-Afrikaanse sjef Reuben Riffel het baie dinge in ons land al oor die jare verander. Maar in die Bo-Kaap het die Maleise kookkuns behoue gebly. “Dis ’n baie spesiale plek in Kaapstad – so eenvoudig soos dit,” sê Reuben op CCN se webtuiste.

Al die kostradisies is nog dieselfde ná al die jare. Niks het verander in die Bo-Kaap nie.

Skrywer Cariema Isaacs van My Cape Malay Kitchen sê slawe het in 1685 resepte en speserye saamgebring na die Kaap. Oor die jare het dit ontwikkel tot Kaaps-Maleise kookkuns toe van die bestanddele vervang is met plaaslike bestanddele.

Een van die gusteling-geregte is brijani. Probeer gerus dié een – die gekookte eier saam met die brijani is tradisioneel Maleis.

Hoender-brijani

sr0904paasfees07

6 porsies

Jy benodig
8 hoenderdye

Marinade
• 10 ml fyn gemmer
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 3 ml brandrissievlokkies
• 10 ml hoender-masala
• 10 ml fyn komyn
• 15 ml fyn koljander
• 5 ml borrie
• 4 kardemomsade
• 2 kaneelstokke
• 2 lourierblare
• 1 tamatie, fyngekap
• 250 ml karringmelk of Bulgaarse jogurt
• sowat 15 ml sout

Res van die bestanddele
40 ml sonneblomolie
• 400 ml rys
• 500 ml droë lensies
• 4 aartappels, geskil en in kwarte gesny
• 15 ml sonneblomolie
• 3 groot uie, in skywe gesny
• 5 ml borrie opgelos in 500 ml kookwater
• 6 hardgekookte eiers

Plaas die hoenderdye in ’n bak. Meng al die marinade-bestanddele en gooi oor hoender. Maak die bak toe met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 2 – 3 uur. Haal dan die dye uit die bak en probeer soveel moontlik van die marinade afkry – hou dit eenkant. Verhit die sonneblomolie in ’n pan en braai die hoender vir so 10 minute tot mooi bruin. Kook die rys vir 10 minute en dreineer. Kook die lensies vir 20 minute en dreineer. Verhit jou oond tot 180 °C. Verhit die 15 ml sonneblomolie en braai die uie tot sag en bruin. Gebruik ’n kasserol en pak al die bestanddele in lae daarin: Begin met ’n laag rys, dan lensies, dan hoender en van die marinade, dan die rou aartappels en die uie. Herhaal tot al die bestanddele gebruik is. Gooi die opgeloste borrie oor. Maak die kasserol toe met tinfoelie en plaas die deksel op. Plaas in die warm oond en bak vir minstens 1 uur en 20 minute. Maak seker die aartappels en hoender is gaar. Sit voor saam met hardgekookte eiers.

WENK As jy bang is die aartappels gaan nie gaar word nie, kan jy hulle eers vir 15 minute kook. Dreineer en pak in die kasserol soos beskryf.

Bron: CNN Travel