Kosstories

Dít eet sjef Chantel Dartnall tuis

Die sprankel-sjef met haar wafferse Franse filmstervoorkoms is bekend vir die bekroonde botaniese cuisine wat sy by die Orient-boetiekhotel se restaurant Mosaic by Elandsfontein naby Pretoria optower.

Só klink een van haar voorgeregte: salm gepekel in ‘n balsemen-lemmetjie-vinaigrette met rosatamatie-sorbet, soetsuur confit van tamatie, afgerond met ‘n daglelie-slaai. Kan so ‘n fyn kunstenaar sondig met kos omgaan, soos die res van ons arme sterflinge?

Tog. Chantel se lekkerste lekker is om ná ‘n harde kooksessie by die huis te kom en ‘n grondboontjiebotter-en-gouestroopbroodjie te maak. Haar emosiebelaaide vertelling van dié lekkerny laat mens se tone krul van plesier vir die nostalgiese vermenging van korrelrige grondboontjiebotter, wit winkelbrood en baie botter! Alles moet in oormaat wees, benadruk sy. “Hompe van alles – die brood moet so swáár hang van alles wat daarop is,” vertel die swartoog-kosfee met haar magiese sin vir weelde.

Die liefde vir die druppende, taaierige toebroodjie kom uit haar kinderdae, toe die hele gesin gereeld voor die televisie gesit het met hul stroperige broodjies. “Dit herinner my aan die onskuld van kindwees; vir ‘n oomblik kan ‘n mens vergeet van grootmens-bekommernisse.”

Wanneer sy party oggende op ‘n honger maag vir die restaurant inkopies doen, hardloop sy tussen die rakke deur en gryp vir haarself ‘n pakkie soet semelkoekies (digestive biscuits) met die sjokolade-/karamellagie bo-op. “So in die loop, terwyl ek die hele pak kafdraf, troos ek myself dat dit kamma die gesonde keuse is.”

Chantel se liefde vir groentee is alombekend, maar haar sagte plekkie vir ‘n eensame stukkie Franse fyngebak probeer sy geheim hou. “Ek kan nie die laaste croissant wat soggens ná ontbyt in Mosaic se kombuis oorbly, verbyloop nie. Die verdwaalde enetjie moet ‘n baas kry.” Die krummels om haar mond verklap haar wel.