591A8989
Kosstories

Die mooiste & maklikste sjokolade-en-grondboontjiebotter-happies

Jy het al baie video’s gesien van lekker gebak met blaardeeg, maar dié een kom met ’n twist. Boonop hoef jy net 5 bestanddele in jou kas te hê. 

Dis baie maklik om te maak, maar dit lyk asof jy baie moeite gedoen het – niemand hoef te weet nie!

Sjokolade-en-gronboontjiebotter-happie

genoeg vir 6

• 3 velle vierkantige blaardeeg (25 cm x 25 cm)
• 125 ml sjokoladesmeer (Nutella)
• 125 ml gladde grondboontjiebotter
• 1 eier, geklits
• 100 g gevlokte amandels
• versiersuiker vir oorsif (opsioneel)

1. Verhit oond tot 180°C.

2. Plaas een vel blaardeeg op bakplaat wat uitgevoer is met bakpapier.

3. Smeer met agterkant van eetlepel sjokoladesmeer oor deegvel.

4. Plaas tweede vel blaardeeg bo-op en smeer met lepel se agterkant grondboontjiebotter oor vel.

5. Plaas laaste vel blaardeeg bo-op grondboontjiebotter.

6. Gebruik ronde bord met deursnee van 20 cm en sny ’n sirkel uit die deegstapel. Verwyder deeg wat oorhang en gooi weg.

7. Plaas koekiedrukker met deursnee van 3 cm in middel van deeg as merker.

8. Maak snye reg rondom, sowat 2 cm uitmekaar, tot teenaan die merker (verdeel sirkel in tien “pizza-skywe”).

9. Draai elke deegskyf twee of drie keer.

10. Verf geklitste eier oor al die deeg en sprinkel amandels oor.

11. Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin en bros.

12. Sif versiersuiker oor en sit voor.

20160610_Digitorial SHakeUp Tag