Kosstories

Heuning: Soete gawe

 “’n By in jou huis,” sê Thando, “maak jy nie dood nie. Jy loop só,” wys sy kromhand, “verby hom. Dan sê jy dankie.” Vir Xhosa’s is bye, veral in die huis, ’n geluksteken: ’n boodskap van ontfermende voorvaders. Om heuning in jou kraal te vind is rede vir ’n jolly makietie. Dit mag terapeutiese waarde hê – min dinge streel ’n seer keel beter as ’n warm heuning-suurlemoen-en-gemmerdrankie – en die beste raat vir ’n bysteek, sê hulle, is ’n smeersel heuning.

Vlytige bytjies is ook grootliks verantwoordelik vir daardie allernoodsaaklike plantbestuiwing waarvan ’n goeie derde van ons voedselbronne afhang. Dink dááraan voor jy ’n by bokveld toe wil stuur … Die kulinêre gebruik van heuning is ouer as geskrewe geskiedenis en kom in elke koskultuur voor. Lande langs die Speseryroete, van die Verre Ooste tot die Mediterreense kom, het vroeg reeds mildelik daarvan gebruik gemaak. Alle speserye trou saliglik met heuning, veral in Midde-Oosterse kookkuns. ’n Marokkaanse heuning-droëvrugte-en-lam tagine parfumeer die huis met gemmer, safraan, kaneel en koljander, en natuurlik die liriese noot van rooswater.

Chinese kokke gebruik heuning as ’n glimmende glasuursel vir eend, en in ’n klassieke vark-marinade met Chinese vyfspesery-mengsel, gemmer en soja. Griekse soetgoed en gebak vertoon heuning ten beste. Atheense heuningkaaskoek, met Hymettus-bergtiemieheuning, is reeds duisende jare befaamd, en heuningneut-rolletjies (of bourekakia) was vir die 13de eeuse Kruisvaarders reeds ’n uitsoek-lekkerny! Siphnopitta, die eiland Siphno se Paasfeestert, word in ’n japtrap gemaak van roomkaas, eiers, heuning en kaneel in ’n broskors, en is heeljaar teetydkoningskos. Griekse heuningstroop, gegeur met lourierblare, suurlemoen of kaneel, word gegiet oor als van baklava en jogurtkoek tot brosgebraaide deegrolletjies.

Kommersiële sesam-en-heuningstafies (of pasteli) is algemeen beskikbaar, ook in plaaslike kafees, maar maklik en veel lekkerder tuisgemaak met heuning, geroosterde sesamsaad en botter. Duitse fyngebak met heuning is sedert die Middeleeue legendaries. Meesterhoutsneewerkers het ingewikkelde vorms geskep waarin ryk spesery-heuningkoeke gebak is as kosbare geskenke vir feesdae en vierings. Hiervan is die Neurenbergse Leben Pfefferküchen seker die bekendste. En by ons tuis? As smaakmaats vir heuning is neute van alle soorte subliem. So ook room, jogurt, kaas en melk, vrugte, groente én die meeste vleissoorte. ’n Goue straal of twee oor somerryp vye, ricotta en Parmaham is piekfyn, én oor gorgonzola en pere in roketslaai. Saam met siderasyn gee dit skop aan slaaisous, gebakte appels of gebraaide hoender. My kinders is rasend oor my sticky chicken – blokkies ontbeende hoenderdy oornag gebaai in ’n sous van heuning, sojasous, hoisin-sous, sesamolie en gemmer. Die hoender mét sous word in ’n matige oond gebak, die sous vinnig afgekook tot stroperig en weer oorgegiet, en met ’n berg gestoomde rys voorgesit. ’n Uiters veelsydige slaaisous klits ek op van balsemasyn, heuning, Dijon-mosterd en olyfolie – geroosterde of gebakte groente daarmee bedruip, is meesterlik, en dit doen selfs as braaimarinade diens. In strawwer sjefsdae was lepels heuning uit die fles kitsenergie. Deesdae paai ek rustelose kleingoed teen slaaptyd met warm heuning-en-kaneelmelk.

In Amerika, en algaande hier ook, is die gonswoord tans enkelblomheuning: heuning afkomstig slegs van één plantspesie, en verkieslik organies. Hierdie heunings word bemark volgens streekoorsprong of blomnaam, soos Suid-Afrikaners nou ook leer ken op ons eie boerekosmarkte. Nes by wyn word in boeket en aroma onderskei, en die ouderdom en oes-seisoen het merkbare invloede op die intensiteit van kleur en smaak. Lig of donker, uit die fles of goed gespesery, in gebak, as sous of glasuursel – heuning bly ’n gawe van die korf se span. Soos Thando vermaan: Sê dankie!