Kosstories

Somer 2007 – Nicolette se wynkeuse

Hill & Dale Merlot 2005

Onder R40
Hill & Dale is die Stellenzicht-wynlandgoed buite Stellenbosch se maklik drinkbare sakpaswynreeks. Die 2005-merlot ontplof met aromas van ryp pruim, vanielje en swartbessie. Hoewel Hill & Dale se wyne gemaak word om vroeg te drink, sal hierdie merlot maklik nog 3 jaar kan staan. Drink saam met herderspastei, kalkoen en beesvleis.

Stellenbosch Hills Blanc de Blanc 2007

Onder R20
Dié effens droë witwyn word in ’n literbottel met ’n skroefdop verpak – ideaal vir daardie glas wyn terwyl jy kook! Dis ’n ongekompliseerde wyn en perfek vir ’n braai. Die versnit bestaan uit 60% chenin blanc- en 40% sauvignon blanc-druiwe.

Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2005

By vleisgeregte
Hierdie wyn is 16 maande lank in nuwe vate van Franse eikehout verouder en is propvol swartbessie- en speserygeure. Shiraz-wyne is gewoonlik volrond en pas uitstekend by rooivleis, geroosterde groente en potgebraaide wildsvleisgeregte. Jy kan hierdie Shiraz nou drink, maar hy sal maklik nog 7 jaar hou. Sowat R135.

Eikendal Brut Rosé

Onder R40
’n Bessie-ontploffing! Dis al manier om hierdie prettige vonkelwyn te beskryf. Merlot-, shiraz-, cabernet sauvignon- en cabernet franc-druiwe is gebruik om hierdie vonkelwyn te maak, en dié rooi kultivars sorg ook vir die pragtige pienk kleur. Dis nie ’n “dink”-vonkelwyn nie, maar ’n “drink”-vonkelwyn! Geniet dit enige tyd, enige plek. Dit pas goed by ontbyt en selfs by roomys met aarbeisous.

Dombeya Chardonnay 2005

By vis en witvleis

’n Ernstige chardonnay, beslis die soort wyn om saam met kos te geniet. Omdat die wyn in eikehoutvate verouder is, kan dit maklik vir die volgende 5 jaar hou. Drink saam met gebraaide hoender, gerookte salm, romerige soppe en gebakte vis. Sowat R75.

Graceland Three Graces 2005

Vir spesiale gaste 

Dié versnit van 40% cabernet sauvignon en 30% merlot en shiraz is vir 21 maande verouder. Die merlot is beslis die voor-op-diewa kultivar in dié versnit en bring heerlike kersie- en gebaktevla-geure in die wyn na vore. Beslis nie die goedkoopste rooiwyn op die mark nie, maar elke sent werd. Geniet saam met mense wat jy wil bederf. Sowat R135.

McGregor Colombar 2007

Onder R25
My enigste probleem met die McGregor Colombar is dat dit so vinnig uitverkoop! As jy dit eers geproe het, sal jy verstaan hoekom. Colombar is nie juis Suid-Afrika se sexyste druifsoort nie, maar McGregor het ’n wenresep. Hierdie is ’n somerwyn – ideaal

Monis Muskadel 2000

Iets spesiaals
My pa noem enige soetwyn engeltjiepiepie, en hierdie is engeltjiepiepie op sy beste. Dié muskadel is vir 5 jaar in 500 liter- Franse eikehoutvate verouder. Dit maak die wyn ekstra spesiaal, aangesien nie baie muskadelprodusente hul wyn in hout verouder nie. Ek hou baie van die topaaskleur en die rosyntjie-, vrugtekoek- en effense sitrusgeure.
Drink saam met nagereg, of net so op fyn ys. Sowat R58 per 500 ml-bottel.