griekeland
Kosstories

Son, saffier en olywe

Ja, ons het al almal ’n Griekse slaai met olywe geëet, maar Griekse kos is beslis meer as slaai. Soos die Spanjaarde tapas het, het die Grieke hul mezédes. Dis proehappies soos taramasaláta (viskuit), biftéki (frikkadelletjies), dolmadákia (gevulde wingerdblare), feta (kaas), souvlákia (vleis-kebabs), tzatziki (komkommer-knoffeldoopsous) en melitzanosaláta (eiervrugmoes). Aandkos.

Die Grieke eet hul hoofmaal in die dag. Vissop en daardie onmiskenbare hoendersuurlemoensop kotósoupa avgolémono word deur die wonderlikste vars-vars vis en seekos uit die Mediterreense See gevolg. Mossels, skulpvis en veral ktapódia (seekat) en kalamarákia (calamari) kraai koning.

Die Griekse landskap is nie geskik vir beesboerdery nie, maar skape en bokke gedy op die skraal weiding van die rotsagtige bergdele. Tog is die vleis minder belangrik. Die Grieke stel bokmelk meer op prys, want dis die voedingsbron vir feta en jogurt. Die vleis moet lamsag wees. Vleis, selfs hoender, moet lank en stadig gekook word totdat dit van die been afval. Daarom hul voorliefde vir pasteitjies en vir moussakás – gebakte fynskaapvleis tussen lae eiervrug en kaassous.

Paasfees speel ’n belangrike rol op die Griekse kalender en op Paassondag word ’n heel lam op die spit gebraai. Nagereg is nie baie gewild nie. Die Grieke verkies vars vrugte. Uitsonderings is ’n fillopastei gevul met vanieljeroom bekend as galaktoboureko en baklabá, en my allergunsteling kourabiédes – smelt-in-die-mondamandelbrosbrood. -PETER VELDSMAN

SpySkaart

6porsies

Voorgereg

Spanakopita – spinasie en fetakaas in fillodeeg

Uit die deli – taramasalata, songedroogde tamaties, gemarineerde rooi soetrissies, tzatziki en dolmades

Hoofgereg

Lamstjops met bone en fetakaas

Suurlemoen-aartappels

Nagereg

Griekse melktert

Griekse koekies