FOTO Getty Images / Yagi Studio

FOTO Getty Images / Yagi Studio

Kosstories

5 spesery-pare wat jou winter gaan beter maak!

Sê jy winter, sien ek dadelik my kaggelvuur wat brand en rooiwyn in my glas. Sê jy winter, proe ek my ma se tamatiebredie en ouma se melkkos, toegegooi onder ’n kombers van kaneelsuiker. Sê jy winter, proe én ruik ek speserye wat jou met die eerste geurige walm warm maak van binne. Ja, daar is maar net iets aan dié seisoen wat vra vir troos. Gelukkig het sekere spesery-paartjies al die toets van die tye deurstaan en bring keer op keer die winterkoestering waarna ons smag. Hier is 5 kombinasies wat jou bredies in die koue maande ekstra spesiaal sal maak!

1. Vinkel en koljander

Die oerpaartjie as dit kom by speserye. Voeg jy vinkelsaad en varsgemaalde koljander by jou tamatie- of groenboontjiebredie, sal jou gaste nooit jou huis verlaat nie. Werk net versigtig, want die smaak van vinkelsaad kan nogal sterk en oorweldigend wees as jy dit nie spaarsamig gebruik nie. Op sowat 1,5 kg lamsnek vir bredie kan jy 45 ml vinkelsaad en 50 ml koljander gebruik. Hier is Leipolt se bredie waar die kombinasie van speserye gebuik word.

 

2. Kaneel en steranys

As jy hou van speserye met soet note, is dié kombinasie net die een vir jou. Kaneel met sy aardse smaak en anys met sy kenmerkende dropsmaak. Gebruik hierdie soet kombinasie in bredies met vrugtegeure, soos kweperbredie of ’n bredie met droëperskes, en Marokkaanse-styl bredies soos tagines. Werk spaarsamig met die anys, want die geur kan skerp wees. Wenk: gebruik eerder heel peule en stokke in jou bredie. Tel hoeveel jy insit sodat jy net voor opskeptyd die heel stukke kan uithaal. Só kry jy al die geur, maar niks van die ongemaklike smake as jy per ongeluk op die die speserye byt nie. Hier is my Marokkaanse perske-tagine uit Inspirasiekos met SARIE.

 

3. Komyn en mosterdsaad

As daar ’n vroulike spesery in die kas was, sou haar naam komyn gewees het. Dié spesery se fyn voorkoms en sagte parfuumsmaak is ’n goeie pasmaat vir die skerp smaak van droë mosterdsade. Droogrooster altyd hierdie speserye in ’n warm pan voor jy dit by jou bredie voeg. Die kombinasie werk baie goed in tradisionele groenboontjiebredie wat jy met witpeper geur. Al twee het peperagtige note wat perfek pas by die kenmerkende geur van winterbredie. Probeer my groenboontjiebredie met spekboom. Hier is die resep.

 

4. Kardemom en lourierblaar

Ek hoor telkemale my vriende sê hulle hou nie van kardemom nie omdat hulle al te veel kere op ’n peul in bredie gebyt het en dis niks lekker nie. Maar die geheim van kardemom is nie om die peul heel in jou kos te gooi nie, maar eerder om dit oop te breek en die swart saadjies binne-in uit te krap en dit in jou kos te gebruik. So kry jy al die geure en niks van die ongemaklike smake nie. Meng jy die soet smaak van kardemom met die byna suur smaak van lourierblaar, kry jy ’n kerrieagtige ondertoon in jou winterbredie. Gebruik sowat 6 oopgebreekte peule en 4 lourierblare om 800 g lamsvleis.

 

5. Neutmuskaat en naeltjies

Maak jy wildsvleisbredie, moet jy sorg dat hierdie twee saam kom kuier. Wildsvleis vra vir die skerp smaak van naeltjies en die soet smaak van die neut (nutmeg). Gebruik altyd neut wat jy self vars rasper, want die smaak is dan skerper en soeter. Dieselfde met naeltjies: maal dit liefs fyn voor jy dit in jou kos gebruik. Die smaak van heel naeltjies is minder lekker as dié van fyngemaalde produk. Jy kan ook die naeltjies in ’n klein stukkie melkdoek bind en in jou bredie plaas, byna soos ’n teesakkie. Hier is ‘n lekker wildsvleis-tamatiebredie.

Geniet jou winter voor die kaggel en wees waaghalsig: vind jou eie speserykombinasies wat vir jóú werk – daar wag ’n wêreld vol geurop jou.

Lekker kook!

Herman Lensing