FOTO: Angelo Scirocco verskaf deur S. Pellegrino Young Chef 2015

FOTO: Angelo Scirocco verskaf deur S. Pellegrino Young Chef 2015

Kosstories

Suid-Afrikaner ding mee in Italiaanse Vogue-koskompetisie

Die Kaapse sjef Angelo Scirocco sal Vrydag aan die S. Pellegrino Young Chef-kompetisie, wat in samewerking met Vogue Italy aangebied word, in Milaan deelneem. 

“Ek volg dié kompetisie al vir baie jare, en was verheug toe die organiseerders aankondig dat deelnemers van reg oor die wêreld kan inskryf,” vertel Angelo aan SARIE.com.

Hy het met sy gereg, Milk is thicker than water, ingeskryf en die Afrika/Midde Ooste-been maklik gewen. Nou kom hy teen 19 ander deelnemers in die finaal te staan waar hy dieselfde gereg moet maak. “Die dis is baie neutraal en kan nie as ’n voor-, hoof- of nagereg beskou word nie,” verduidelik Angelo slegs dae voor hy na Milaan vertrek vir die eindronde.

“Dit is ’n tegniese proses waarin die verskillende elemente van die melk tot ’n unieke gereg tot stand kom. Dit is nie ’n vloeistof nie en nie lig nie. Dit het amper dieselfde tekstuur as mozzarella-kaas, maar smaak nie dieselfde nie.”

Hy moes baie oefen om dié gereg perfek te maak, en het selfs melk van Italië laat kom omdat die vetinhoud in die melk daar anders is as dit wat ons in Suid-Afrika kry.

Sy grootste les tot dusver in die kompetisie is dat dit nie net oor kook in die kombuis gaan nie: “Beplanning en voorbereiding is baie belangrik. Asook die finansiële implikasie om oor en oor dieselfde gereg te oefen totdat dit perfek is. Selfs om te oefen hoe om dit voor te sit is baie belangrik.” Hy bieg ook dat stemme werf en beeldbou in die media nie iets is waaraan hy as sjef gewoond is nie.

Angelo is tans ’n tapas-sjef by Chef Warehouse in Kaapstad. Hy het sy kwalifikasie by die bekende sjefskool Institute of Culinary Arts (ICA) op Stellenbosch verwerf.

Die finaal van die S. Pellegrino Young Chef-toekennings vind op 26 Junie 2015 in Milaan plaas. Die prys waarmee die wenner gaan wegstap, is egter ’n groot geheim.

Klik hier om vir Angelo te stem.

Angelo, ons hou duimvas vir jou!

Lees ook